PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 18 August 2009 03:52
Untitled Document

Ons het hom tradisioneel leer ken as die Voortrekkers se koffie-boom, maar in droë gebiede van ons land word hy die ‘Boom van die Lewe’ genoem omdat hy voeding bied aan mens en dier. Of jy nou koffie, bier of pap wil maak, kos wil geur of op soek is na ’n voedselbron hoog in proteïene en vitamien A, is die witgat jou antwoord.

Ons praat nou van ’n boom, maar waar hy dié gat-gedeelte van die naam kry, wil niemand sê nie. Die witgat, Boscia albitrunca, se genus is vernoem na Louis Bosc, ’n Franse landbou-professor wat deur die revolusie geleef het van 1759 tot 1828. Die ‘albitrunca’ verwys na die boom se wit stam.


Die witgat

Koffie
Die witgat se wortels is algemeen gebruik as ’n plaasvervanger vir koffie of sigorei. Dit word ook gebruik om bier mee te maak, word fyngemaal om pap van te maak en, vreemd genoeg, om aambeie te behandel. Wie weet, dalk is dit waar die boom se naam vandaan kom. Die blare is baie voedsaam en met hul hoë proteïene en vitamien A inhoud is dit ’n gunsteling onder wild en beeste, alhoewel die mense sê dat koeie se melk vreemd proe as hulle van dié blare gevreet het. ’n Aftreksel van die blare word gebruik om ooginfeksies in beeste te behandel.

Daar word geglo dat jou oes ’n mislukking sal wees as die witgat se vrugte aan die boom verdor voor die giersgras, ook bekend as mannagras, ryp is. Nog ’n bygeloof is dat die koeie slegs bulkalwers sal hê as die witgat se hout gebrand word. Kombuisgereedskap, soos lepels en bakke, word van die hout gemaak. Die groen vrugte word gebruik om epilepsie te behandel en die ryp vrugte word in tradisionele disse ingewerk. Die bloeisels proe blykbaar nes kappertjiesade en word gebruik as geurmiddel.

Die witgat behoort aan die kappertjie familie, Capparaceae, en is die mees algemene lid van die nege ander spesies in sy genus. Die bekende ingelegde ‘capers’ word van bloeisels van Europese lede van dié familie gemaak.


Die witgat se gelerige blomme en vrugte

Kroon
Dié is ’n klein tot medium-grootte immergroen boom wat tot sewe meter hoog kan word. Hy het ’n aantreklike ronde kroon; die stam is glad en ’n gryserige wit. Die witgat blom van Julie tot November en sy gelerige blomme het ’n sterk soet geur. Hulle is stervormig en het geen blomblare nie.

Die trosse bessie-agtige vrugte is rond, glad en word geel as hulle ryp is. Elke vrug is ongeveer 15 mm in omtrek en die vrugte is aan die boom van Desember tot Maart. Die witgat is gehard en droogtebestand. Hy kan selfs ’n sekere mate van ryp hanteer en is maklik om te groei van saad, of stiggies van sy wortels en takke. Sade moet van die boom gepluk word as die vrugte ryp is en dan in die koelte drooggemaak word. Die vrugte wat op die grond lê is gewoonlik vol parasiete. Verwyder die vrugte se vlees van die sade voor jy hulle plant.

Druk die saad in saailingbakke gevul met riviersand en bedek met ’n dun lagie sand. Die saad ontkiem binne sewe tot 14 dae. Plant die saailinge direk in oop grond. As hulle in sakkies of potte geplant word, groei hulle stadiger. Dié boom groei gewoonlik vinnig in die eerste vyf jaar.

 

© 2019 Die/The Bronberger