Angie Kleijn
Voortrekkers waarna Pretoriase voorstede Booysens en Hermanstad vernoem is, se ou begraafplasie het onlangs ‘n reuse munisipale rekening van R68 374 gekry.
Die Booysen-grafte is tussen twee woonerwe met die nommers 979 en 991 in Van der Hoffweg, Claremont. Qzet Botes, wie se ouers langs die begraafplasie woon, sê dat dié munisipale rekening in haar ouers se hek gedruk is.
Niemand kan met sekerheid sê aan wie die grond vandag behoort nie, maar die rekening is gerig aan Booysen J en CHZ. Die voorstad Booysens, wat vanaf 1905 ontwikkel is, is na Cornelius Hermanus Zacharias Booysen, die CHZ op die munisipale rekening, vernoem. Hy was ‘n seun van die Voortrekkers, Jan Jonathan Booysen, wat in 1880 in dié begraafplasie begrawe is, en Christina Maria, ‘n nooi Herman, wat in 1895 daar begrawe is.
Die J Booysen op die munisipale rekening is Cornelius se broer, veldkornet Jan Booysen, wat in bevel van die Zuid-Afrikaanse Republiek se wyk Apiesrivier was. Dié twee broers het die plaas van hulle pa, Jan Jonathan, geërf.
Lede van die Booysen- en Hermanfamilies wat die onthulling bygewoon het. Bettie Prinsloo (gebore Booysen), kleindogter van die Booysen-Voortrekkers, sit voor
Foto: Pretoriana April 1985
Plaas
Die plaas Krokodilskraal is op 27 Januarie 1859 geïnspekteer en op 12 April 1867 na die eerste eienaar, Petrus Albertus Venter, oorgedra. Op dieselfde dag is die plaas na Herman Jeppe oorgedra, wat die plaas weer op 28 September 1868 na Petrus Albertus Venter oorgedra het.
Op 26 September 1870 is die plaas na Jan Jonathan Booysen oorgedra. Die plaas is die eerste keer op 26 November 1873 onderverdeel toe Jan Jonathan die suidelike deel van die plaas aan Adrian Hendrikus Stander verkoop het. Ná Jan Jonathan se dood in 1880 is die noordelike deel van die plaas op 15 Oktober 1888 aan sy seuns, Jan en Cornelius Hermanus Zacharias Booysen, oorgedra.
Veldkornet Jan is met Maria Elizabeth Prinsloo getroud en het op ‘n gedeelte van die plaas Wonderboom gewoon. Iemand moet vir die munisipaliteit sê dat dié Jan reeds op 20 Oktober 1923 oorlede is en dat sy broer Cornelius op 23 Desember 1925 oorlede is.
Sou die grond met die klein begraafplasie van 17 by 20 meter sedert 1888 steeds in dié broers se name geregistreer wees al het die voorstad Claremont rondom dit ontwikkel? In 1984, toe die begraafplasie gerestoureer is, kon navorsers nie bevestig aan wie die grond behoort nie.
Die munisipale rekening, gerig aan Booysen J & CHZ, vir R68 374
Foto: Qzet Botes
Onthul
Dié feit is duidelik uitgespel in die ‘Pretoriana’ van April 1985 wat berig het dat 100 mense op
17 November 1984 by die Booysen-begraafplaas byeengekom het vir die onthulling van ‘n gedenkteken en nuwe grafstene vir Jan Jonathan Booysen (1833-1880) en sy vrou Christina Maria (1837-1895).
Die grafte se restourasie is deur die Genootskap Oud-Pretoria befonds en Avbob het die gedenksteen geskenk. Die omheining teen die straatkant van die begraafplaas is deur AJ Konstruksies opgerig en die materiaal het uit die Pretoriase Restourasiebank gekom, danksy Anton Jansen.
Die plegtigheid was die resultaat van 20 jaar se harde werk deur die Genootskap Oud-Pretoria, veral die bestuurslid professor Hans Petrick, wat baie navorsing oor die Booysen-familie gedoen het.
Bettie Prinsloo lê ’n krans op die graf van haar ouma, wie se begrafnis sy as dogtertjie bygewoon het
Foto: Pretoriana April 1985
‘n Toespraak is gelewer deur die destydse burgemeester, raadslid CJ van Heerden, wat na die grafte as die Booysen-Herman-Pioniersgrafte verwys het. Daarná het Hans Petrick ‘n rede gelewer waarin hy die nakomelinge van dié families verwelkom het en gesê het dat niemand weet hoeveel mense in die begraafplasie begrawe is nie omdat daar ‘n aantal ongemerkte grafte was.
Hans het vertel dat die begraafplasie voor restourasie soos ‘n stortingsterrein van bou- en tuinafval gelyk het en toegegroei was met bome, struike en onkruid. Die grafstene was baie verweer en dit was moeilik om die inskripsies van die twee oorblywende grafstene te ontsyfer.
Die Booysen-begraafplasie in Van der Hoffweg
Foto: Qzet Botes
Eienaar
Hans se eerste taak was om uit te vind wie die wettige eienaar of serwituuthouer van die begraafplaas was. Hy het gesê dat navraag by die munisipaliteit op niks uitgeloop het nie. Hans het ‘n beriggie in die pers geplaas, reaksie gekry en het by die Booysen-agterkleinseuns, JJ en PAO Booysen, wat tussen Bethal en Ogies geboer het, gaan besoek aflê.
Hans het vertel dat hy gul op die plaas ontvang is en dat die broers hom meegedeel het dat veldkornet Jan Booysen (die seun van Voortrekker Jan Jonathan) hulle oupa was. Hulle kon egter glad nie sê aan wie die grond in die 1980’s behoort het nie.
Prof Hans Petrick, raadslid CJ van Heerden, dr Coetzee en mev Van Heerden by die onthulling op 17 November 1984
Foto: Pretoriana April 1985 |
Die geleentheidsrede word deur Hans Petrick gelewer
Foto: Pretoriana April 1985
. |
Daarna het Hans gaan kuier by twee agterkleindogters, Bettie von Maltitz en Tilly van Wyk van die plaas Wonderboom, wat aan veldkornet Jan Booysen behoort het. Van hulle af is hy na Bronkhorstspruit waar hy die oudste oorlewende lid van die Booysen-familie besoek het. Sy was Maria Elizabeth (Bettie) Prinsloo (gebore in 1892), ‘n kleindogter van Jan Jonathan en Christina Maria.
Bettie was in haar 90’s, maar Hans het gesê dat haar verstand nog baie helder was en hy het later ‘n hele artikel in ‘Pretoriana’ geskryf oor sy besoek aan Bettie op 24 Mei 1983.
Die gedenksteen
Foto: eggsa
Bettie het Hans op die spoor gebring van Hettie Booysen, die weduwee van Jan Booysen wat volgens oorlewering eienaarskap van die begraafplaas gehad het. Hettie het egter vir Hans vertel dat Jan die begraafplasie aan die Voortrekker-beweging geskenk het met die doel dat hulle die grafte sal versorg.
Hans se navraag by die sekretaris van die Transvaalse Voortrekkers het niks opgelewer nie. Geen dokumente kon hieroor gevind word nie en Hans se soektog na eienaarskap van die grond het net daar doodgeloop.
Die ligging
Foto: Google maps
Booysen
In sy toespraak by die onthulling, het Hans vertel dat hy materiaal in die Kaapstadse argief gevind het wat blyk dat die van Booysen ‘n Friese mansnaam is, wat ‘Seun van Booye of Boye’ beteken. Die stamvader was Boy Booysen van Barlt in Dithmarschen, wat 103 jaar oud geword het (1640–1743).
Boy het sedert 1688 in Drakenstein gewoon en is in 1691 met Hermina van Nes, afkomstig van Wyk-by-Duurstede, Nederland, getroud. Hulle het vyf kinders gehad, waarvan een Gerrit Booysen was. Gerrit is in 1735 met Johanna Durand getroud en hulle het 10 kinders gehad. Een van dié kinders was Jan, wat weer ‘n seun Jan Jonathan (gebore in 1779) gehad het. Dit was die eerste keer wat die name ‘Jan Jonathan’, wat van moederskant af gekom het, in die geslagsregister voorkom.
Dié Jan Jonathan het op Graaff-Reinet gewoon en het in 1797 met Judith Cornelia Therese Viljoen getrou. Een van hulle seuns was Jan Hendrik (gebore in 1798). Hans het bespiegel dat hy waarskynlik die pa was van Voortrekker Jan Jonathan, wat in die begraafplasie lê.
Die eerste Jan Jonathan se pa, Jan Louis Booysen
Foto: geni
|
Die eerste Jan Jonathan Booysen (doopdatum 11 Julie 1779)
Foto: geni |
Maria Elizabeth (Bettie) Prinsloo, gebore Booysen
. |
Herman
Sy vrou, Christina Maria, het net soos Jan Jonathan die Groot Trek as kind meegemaak. Dié egpaar was van die vroegste inwoners in die gebied van Pretoria. ‘n Manuskrip, ‘Ou Prinsloo Familie’, noem dat “die talentvolle Jan Booysen en sy ewe begaafde vrou, ‘n nooi Hermann [sic],” op die “teenswoordige Booysenshalte, Hercules” gewoon het waar gereeld sangaande gehou is. Die egpaar het 10 kinders gehad.
Voortrekker Jan Jonathan het nie baie oud geword nie. Hy is op 20 Augustus 1880 in die ouderdom van 47 jaar oorlede. Christina is daarna met kommandant-generaal Thomas Frederick Dreyer getroud. Ná haar dood in 1895, 15 jaar ná Jan Jonathan, maar op dieselfde dag as hy (20 Augustus), is sy langs hom neergelê.
Een van die onbekende grafte in 2007
Foto: eggsa
.
. |
Christina Maria Dreyer Booysen, Geboren Hermann, Geboren 13 Mei 1832, Overleden 20 Augustus 1895 – Een van de Voortrekkers 1836
Foto: Qzet Botes |
Christina was die dogter van James Herman en Cecilia Jacoba, ‘n nooi Greeff. In sy toespraak by die onthulling het Hans oor die herkoms van die Duitse Hermanns uitgewei en die van is met ’n dubbel ‘n’ op die grafsteen gespel. Vandag stem navorser David Abraham Swanepoel nie saam nie. Christina was sy derde groottante.
David sê dat Christina se pa, James, die stamvader van dié Hermans was. Hy was ‘n Britse Setlaar van Buckinghamshire, Engeland, wat ‘n Voortrekker geword het. Hy sê dat die familie die van seker self as ‘Hermann’ begin spel het, maar dat dit verkeerd is. Die Britse manier is met een ‘n’ en sou ‘hurman’ uitgespreek word. David sê dat Christina se dooprekord die van ook net met een ‘n’ aandui, en so ook die nasionale argiewe se rekord van haar man se boedel.
Dit lyk soos die naam ‘Tyzina’ op ‘n graf wat in 2017 deur Susan de Bruyn afgeneem is
Foto: eggsa
Bettie
In die artikel wat Hans later oor Bettie, die Voortrekker-egpaar se kleindogter, geskryf het, sê hy dat Bettie haar ouma se begrafnis in dié begraafplasie goed kan onthou. Sy was nog ‘n klein dogtertjie maar onthou dat hulle om die kis geloop het en dat haar ma vir haar gesê het: “Dit is my ma; sy word vandag begrawe.”
Bettie, wat die onthulling van die nuwe grafstene in dié begraafplasie op 17 November 1984 bygewoon het, is nie lank daarna nie, in 1986, in die ouderdom van 94 jaar oorlede.
Navorser David Swanepoel sê dat die begraafplaas maar min aandag gekry het sedert 1984, toe die nuwe kopstene aangebring is. “Die Genootskap Oud-Pretoria bestaan nie meer nie en óf die Voortrekkerbeweging by die versorging van die begraafplaas betrokke is, is ook nie bekend nie, aangesien hulle nie bewus was van hulle beweerde eienaarskap daarvan nie. Die Stadsraad van Tshwane sal uiteraard nie betrokke wees nie, want dis private grond,” het hy gesê.
Jan Jonathan Booysen, Geboren 2 September 1833, Overleden 20 Augustus 1880 – Een van de Voortrekkers 1836
Foto: Qzet Botes |
Die inskripsie op Jan Jonathan Booysen se oorspronklike grafsteen was nog skaars leesbaar
Foto: Pretoriana April 1985 |
Volgens David is die palisade-heining in 2013 geverf. In Maart 2013 is daar berig dat die begraafplasie onlangs skoongemaak is deur ‘n veldtog wat Quentin Meyer, organiseerder van die Facebook-groep, Afrikaner Geskiedenis, in samewerking met die Erfenisstigting gereël het.
Quentin het in 2013 daarin geslaag om Jan Booysen (Ferreira) van Rayton, wat toe 78 jaar oud was, op te spoor. Jan Jonathan was haar oupagrootjie en sy is na hom vernoem. Sy het onthou dat haar ma, Anna, ‘n nooi van der Linde, haar as klein dogtertjie na die begraafplasie geneem het.
David sê dit lyk of die laaste werk aan die begraafplasie in 2017 gedoen is toe ‘n skewe kopsteen reggetrek is en nuwe sementblaaie opgesit is. |