Kop gekrap oor geregte en plekke langs ons kuierpad van 18 jaar Print E-mail
News - Vreethans
Saturday, 19 September 2020 07:14
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Die ‘jag is oop’ vir kuier in ons kontrei en dit met die nodige vloeibare versnaperinge wettiglik toelaatbaar daarby, maar die Bronnie verjaar mos. Met hierdie uitgawe word hy 18 jaar oud en kan ook hy jou werklik nou al binne die wet meedoen aan die inneem van die vloeibare nodighede saam met die spyse as Vreethans en Metgesel by ‘n plek sou loop kuier en daaroor verslag sou lewer.

Dit is al tradisie dat Vreethans hom met ‘n verjaardaguitgawe toespits op ‘n terugblik oor die kuiers en kuierplekke in die jare wat verloop het, sê die ou knol van ‘n redakteur. En wie is ek nou om my aan tradisie-skeiding skuldig te maak?


Daar is goed en gesellig gekuier in die verloopte, goeie ou dae van Nikos

Sedert daardie eerste kuierslag by die verloopte Nikos van weleer op Zwavelpoort, het ons oor goed meer as 210 kuierplekke, -kos en -ervarings geskerts en geskinder. Waar, vra ek jou, begin jy terug te blik en wat, sou jy sê, blik jy raak of blik jy mis om regverdig en juis te bly en niemand die blikemmer in te maak nie?

Ek en Metgesel krap mekaar se koppe oor dié tergende vraagstuk en besluit dat ons kan begin met ons onderskeidelike gunsteling- en voorkeur geregte. Ons besluit om elkeen self in sy/haar geheue te loop krap en die onthouding in te span oor waar en hoe die te-ete wat ons opgeval en bygebly het, genuttig is. As die twyfel sou toetree, kan ons altyd ook in die argiewe loop krap.


Boma in Moreleta Plaza se beesstert is aangewys as ‘n wenner

My smaak vir eetgoed loop wyd, maar dit is geen staatsgeheim dat Vreethans van Heerden erg partydig is vir tradisionele Suid-Afrikaanse geregte nie. En vir hom mog die kroonprins hieronder bes moontlik kerrie-skaapafval wees. Daarom kan ek sommer net daar by wyle Nico Breytenbach se Nikos begin.

My heel eerste ‘afvallige’ skinder het net daar by ons heel eerste kuierslag vir die Bronnie-rubriek begin.


Die ‘konsessie-pizza’ wat volgens Metgesel die koek vat

Ek krap in die argiewe en sien wyle Nico se afvalgereg was na my smaak: Nie oordadig gekerrie en gekrui nie, sag dog nie papsaf nie, ‘n groot porsie pens en pootjies op rys met goeie groente aan die kant en nie te veel aartappel en wortel saam in die afvalpot geboender nie. En dis nie ‘n skinder- of bogstorie dat dit ‘n volle R37 gekos het nie. Die hoender Schnitzel van Metgesel se prys was R28. Tyd en dae . . .


Die plek waar sy die beste pizza in 18 jaar geniet het

So gepraat van Metgesel: Dit is teen hierdie tyd ook geen geheim dat sy nie ander soogdiere eet nie. Hoender, viskos en volstruise ja, maar dit is nie noodwendig haar gunstelinge nie. Sy geniet goeie vegetariese geregte en meen ervaring het haar geleer dat die beste hiervan by sogenaamde ‘steakhouses’ te kry is. Maar Italiaanse kos is haar kos, kan jy maar sê. Pasta van uiteenlopende aard (soogdiervry natuurlik) en pizza. Ek twyfel of daar in die Bronberg-gebied ‘n enkele kuierplek is wat pizza voorsit, waar Metgesel nie een of meer daarvan oor die afgelope 18 jaar weggewerk het nie.


Volgens Metgesel die heel beste groente-lasagne wat wyle Hans Lombaard gemaak het

Daarom laat haar antwoord my effe uit die veld geslaan, toe ek haar vra om in die geheue te krap en ‘n geheim-verklapping te doen oor die heel beste en lekkerste van die hordes pizza wat sy in dié 18 jaar genuttig het: Sonder ‘n enkele oomblik se nadink of twyfel antwoord Metgesel: Mimmo’s in Glen Village-sentrum se vegetariese pizza. Persoonlik probeer ek konsessie-plekke vermy. Gewoonlik te saai en voorspelbaar na my smaak.


Die kuierplek, Bronberg Lodge, voor uitbreidings aangebring is

Ek vra half versigtig of Metgesel, ná die honderde ander pizzas om uit te kan kies, seker is? Voet hou sy by stuk en ek loop grawe in die argiewe oor haar uitlatings van destyds. Sy was gaande oor die deeg en basis wat volgens haar perfek was. ‘n Ander bonus en pluspunt was die ruim aanwending van peppadew saam met ‘n deeglike hoeveelheid knoffel ingewerk saam met die res van die ruim groentegoed. Daar het jy dit dan.

Ek bly by Metgesel se onthouding (later dalk meer oor myne) en waag om te vra of sy dit uit die geheue kan krap, waar en wanneer sy langs die pad wat ons reeds 18 jaar vreetsaam voortstap, die mees bevredigende lasagne raak-geniet het. Ja, sy kan.


Haar heel gunsteling eetplek was die eg Italiaanse Villa Francesco

Dit was die groente-lasagne wat wyle sjef, Hans Lombaard, by oorlede Faan Smuts se Bronberg Lodge gebou het. Die restaurant bestaan terloops nog en het baie uitgebrei. Heelwat van die tradisionele geregte van destyds kan vandag nog hier gekry word. Ja, kerrieafval is een van dié wat oorleef het en daarby ook sy ouboet – die skaapkop.

Metgesel het agterna beweer dit is die heel beste lasagne wat in die gebied te vinde is. Haar stelling oor dié baie groot bak gekaasde groente-lasagne neem ek ernstig op, want ek meen sy kan as ‘n groente- en ook ‘n pastakenner beskou word. Die bak lasagne het terloops in 2007 R25 gekos.


Handgemaakte pasta waaroor Metgesel gaande was

Ek besluit om Metgesel met nog twee terugbliksels te toets. Die vrae is of sy ‘uit haar kop uit’ kan onthou wat die heel bevredigendste gereg is wat sy oor die 18 jare heen geëet het en of sy een kuierplek kan uitsonder wat volgens haar die beste in dié tyd was.

Maklik, sê sy sonder skroom, want die gereg van haar keuse het sy met een van ons besoeke aan die kuierplek van haar keuse geniet. Al was dit goed 13 jaar gelede, sal sy die rasegte Italiaanse restourant, Villa Francesco, op ‘n Mooiplaatsplot nie vergeet nie en ook nie Francesco se pastageregte nie. En die een wat bo aan haar treffersparade staan is die fettuccini marinara wat sy aldaar bestel het.


Gesellige kuier in die oopte van Die Boskombuis

Metgesel is lief (baie) vir goeie pasta en sy is ook partydig vir goeie seekos. Die tuisgemaakte fettuccini, kan sy onthou, was onverbeterlike pasta en die garnaalsterte, calamari, mossels en ander seekos daarby het die dis perfek gemaak na haar smaak.

Villa Francesco assulks bestaan lank nie meer nie, maar die plek heet nou Tin Roof en uit ondervinding kan ek ‘n besoek aan dié Tin Roof aanbeveel.

En, o ja, wat dan nou van my terugblik-beurt? Tradisionele kos en veral kroonprins kerrieafval, het ek oral en gereeld in die afgelope18 jaar aspris beproef – met wisselende bevrediging. Ek onthou ‘n baie bevredigende ervaring rondom dié koningskos by Bosvelder in Centurion. En een van die beste skaapafvalle ooit het ek enkele jare gelede by ‘n onwaarskynlike plekkie in die Vrystaat, Soutpan, by ‘n kuierplek met die naam van Truksvy (reg gespel) raakgeloop.


Min eetgoed is meer tradisioneel as wildspastei en min weergawes is lekkerder as dié van
Broodblik en Koffiepit

Kyk, afval is bykans altyd as ek hom proe vir my die lekkerste, maar ek meen die beste weergawe in ons gebied het ek redelik onlangs by Die Boskombuis op Donkerhoek ervaar. Mede-eienaar, Louis, het vertel dat die resep pens en pootjies direk uit sy oupagrootjie en oumagrootjie se huis kom. En sy oupagrootjie was niemand anders as generaal Louw Wepener nie.

Beesstert is een van my ander gunstelinge. Jy moet jou storie ken om ‘n beesstert na my bevrediging voor te berei en ons het al baie langs die Vreethanspad gekry wat die ‘toets’ met lof geslaag het. Maar die een wat nou se kopkrap na vore bring as seker die lekkerste van die lot, is die een wat ek op Boma (ja, verbind aan die bekroonde slaghuis) se kuierstoep in Moreleta Plaza verslind het.


Vlak langs die pad sit Broodblik en Koffiepit met ‘n kuierstoep en tuin agter

Die storie raak nou terugblik-skottels lywig en baie van my onthouding se vreetverhale sal noodgedwonge in die slag moet bly.

Min geregte is seker meer ‘tradisioneel’ as wat ‘n wildspastei is en ek onthou dat ek by die eiesoortige kuier- en koop-plek, wat hulle Broodblik en Koffiepit noem, een van die heel beste van my lewe geniet het.


Oumagrootjie se afvalresep as die beste gekies

Die plek sit in die oopte langs die pad tussen Bapsfontein en Petit en hier speel tradisie duidelik ‘n belangrike rol. Ek het daardie dag my allerheerlikste wildspastei afgerond met nagereg van boerbrood, varkvet en tuisgemaakte konfyt. Sal moet terug vir nog daarvan en van die groot keuse van gebak en kosse waarvan ‘n liefhebber van die tradisionele lekkernye maar mag droom

 


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger September 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger