Mega-stad met 50 000 woonstelle by Mooikloof beplan Print E-mail
News - Aktueel
Saturday, 19 September 2020 07:13
Untitled Document

Vyftig duisend deeltitel woonstelle gaan in die nuwe Mooikloofse Mega-stad langs Garstfonteinweg-verlenging gebou word vir mense wat ‘n gekombineerde maandelikse inkomste van tussen R3 501 en R18 000 verdien.

Dié woonstelle se pryse wissel van R499 000 tot R799 000 en verkope aan die eerste fase van dié ontwikkeling, wat Greenkloof genoem gaan word en 2 500 woonstelle insluit, gaan reeds in Oktober begin.

Die Mega-stad is teen die einde van Julie ingesluit by 51 infrastruktuur-projekte, wat in die Staatskoerant as strategies belangrik verklaar is. Dit beteken dat die nodige goedkeuring, soos waterregte en munisipale hersonering, versnel word.


‘n Kunstenaar se voorstelling van die beplande Mooikloof Mega-stad
Bron: Balwin Properties

In ‘n aandeelhouersverklaring op 31 Augustus sê Balwin Properties dat die projek aangewys is as ’n strategiese geïntegreerde projek deur die raad vir die koördineringskommissie van die presidensiële infrastruktuur.

Die regering het R1,4 miljard geoormerk vir die installering van paaie, riool, elektrisiteit, water en stormwaterdienste. Die totale projek van R44 miljard word deur Balwin Properties ontwikkel en gaan glo 115 000 direkte en indirekte werksgeleenthede skep.

Balwin Properties se hoof uitvoerende beampte, Steve Brookes, sê dat die teikenmark vir dié woonstelle mense is wat te veel verdien om gratis huise van die regering te kry, maar te min verdien om ‘n huislening by ‘n bank te kry. Kwalifiserende eerste huiseienaars sal bygestaan word deur die Finance Linked Individual Subsidy Programme (Flisp). Die Flisp-subsidies dra tussen R27 960 en R121 626 by tot die koop van ‘n huis.


Die Greenkloof-afdeling van die Mooikloof Mega-stad sal die eerste ontwikkelingsfase wees

Mooikloof-Megastad is ongeveer 6 km vanaf Garstfonteinweg-verlenging se kruising met De Ville Bois Mareuilrylaan. Omliggende luukse landgoedontwikkelings in dié gebied strek van Woodhill Gholflandgoed tot Mooikloof Perdelandgoed, Mooikloofrif, Mooikloof Glen, Mooikloof Heights, The Hills en Grootfontein-landgoed.

Balwin Properties gaan glo twee stukke grond, wat gesamentlik 210 hektaar groot is, vir ‘n totale koopsom van R332,5 miljoen aanskaf. Die grond gaan in ‘n enkele eiendom gekombineer word en sal bestaan uit ‘n residensiële deel, twee opvoedkundige fasiliteite en ‘n kommersiële deel.

Balwin Properties se plan is om die residensiële ontwikkeling te behartig en omtrent 20 hektaar te verkoop vir die ontwikkeling van die opvoedkundige fasiliteite en ‘n kommersiële deel. Daar sal ook plekke van aanbidding en gesondheidsfasiliteite wees.

Volgens Balwin Properties se verslag word daar beplan om aanvanklik 16 000 woonstelle teen ‘n waarde van omtrent R9,6 miljard in fases te bou, waarvan Greenkloof se 2 500 woonstelle die eerste fase is.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger September 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger