‘n Sonbesie kan tot 17 jaar as ‘n larwe onder die grond lê voor hy een nag wakker word, teen ‘n boom opklim, uit sy vel bars, vlerke kry en begin sing. Hy sing skril en aanhoudend, asof hy aan die vreeslike somerhitte gestalte gee, tot hy binne ‘n paar weke doodgaan.
Oorblyfsel van die nimf se eksoskelet
Foto: Hamish Robertson, South African Museum
Eintlik het die sonbesie, ook genoem langasem, boomsingertjie, sikade, singbesie of doringbesie, se geluidsorgane weinig met ons stembande in gemeen. Dit staan as ‘n timbaal bekend en sit op die eerste agterlyfsegment. ’n Styf gespande trommelvlies, wat deur sterk spiere vinnig in- en uitbeweeg, bring die geluid voort. Die agterlyf is grotendeels met lug gevul, wat die klank soos ’n trom versterk.
Gewoonlik is dit net die mannetjies wat kan sing en die rede vir hulle onophoudelike tekere-ganery is om wyfies te lok. Albei geslagte het ore op hulle agterlywe, maar die wyfie se ore is beter ontwikkel.
Platypleura capensis
Foto: Nikite Muller, Institute for Water Research |
Ligging van die timbaal
Foto: MJ Raupp |
Liedjies
Elke spesie sonbesie het hulle eie kenmerkende paringsliedjies en akoestiese seine, wat verseker dat slegs die regte maats deur die liedjie gelok word. Die sing-strategie van mannetjies verskil; sommige sing alleen, ander sing net saam met mannetjies van sy eie spesie en nog ander verkies dit as ‘n aantal spesies saamsing.
Sonbesie-kenners kan die verskillende spesies se liedjies uit mekaar ken, van geluide wat soos ‘n sissende pan klink tot dié van ‘n grassnyer wat vet gee of die dreuning van ‘n woord wat onophoudelik herhaal word.
Sekere spesies se klank kan tot 120 desibel meet, wat van die hardste van alle insek-geluide is – hard genoeg om permanente gehoorskade te veroorsaak sou ‘n mens jou oor langs dié besie hou. Ander spesies sing so hoog dat hulle onhoorbaar is vir mense.
Sonbesies bou ‘skoorstene’ bo hulle tonnels wat soos ‘n gholfbal-grootte koepel kan lyk of ‘n struktuur van 15 cm hoog kan wees
Foto: Cicada Mania
Spesies
Sonbesies lyk soos ‘n vreemde kombinasie van ‘n kriek, vlieg en mot, maar hulle is insekte wat behoort aan die Tettigarctidae en Cicadidae families van die orde van die halfvlerkiges. Daar is baie duisende soorte sonbesies op aarde; Afrika het omtrent 450 spesies en Suid-Afrika is die tuiste van 150 soorte.
Ná die regte wyfie die regte mannetjie se skril deuntjie bewonder het, lê sy haar eiers met ’n skerp eierboor in die bas van jong boomtakkies. Elke wyfie lê 400 tot 600 eiers. Piepklein, sespotige nimfe broei ná ses tot tien weke uit die eiers, val grond toe en grawe hulle naby boomwortels in die grond in.
Dis daar waar hulle tot 17 jaar lank lewe van die boomsap wat hulle uitsuig. Terloops, mense het oor die eeue geglo dat volwasse sonbesies glad nie vreet nie, maar dit is nie waar nie – hulle drink ook die plantsap van ‘n verskeidenheid boomspesies.
‘n Sonbesie is baie goed gekamoefleer
Foto: Sterkfontein Country Estates
Ondergronds
Hulle lang tyd ondergronds, maak sonbesies die insek met die langste larwe-ontwikkelingsfase in die wêreld. Sonbesies bly glo so lank in dié fase om roofdiere uit te oorlê. Hulle het ‘n lewensiklus wat uit sinkronisasie is met gespesialiseerde sonbesie-vreters soos die hottentotsgot en perdebye.
Ondergronds vervel hulle vier keer en groei van ‘n paar millimeter tot ongeveer 5 cm. Ná al die jare begin hulle aandui dat hulle gaan uitkom deur duisende ‘skoorstene’ op die grond naby bome te bou. Hulle klim dan in hulle hordes deur dié ‘skoorstene’ uit en kruip teen bome op, waar hulle vir die vyfde en laaste keer vervel en die mannetjies dadelik begin sing.
Nog ‘n voorbeeld van ‘n sonbesie-‘skoorsteen’
Foto: Cicada Mania
|