Dié klein voëltjie het ‘n verstommende harde roep gegewe sy grootte. Hy sing nou nie juis ‘n melodieuse deuntjie nie, maar jy sal die versameling hoë, skerp geluide wat dié lewendige voëltjie kwytraak van ver af kan hoor.
Die rooiassie, Amandava subflava, maak ook ‘n sagte tinkelende ‘zink-zink-zink’-vliegroep en ‘n vinnige ‘trip-trip’ wanneer hy opvlieg. Dié piepklein algemene standvoël – hy is 9 cm lank en weeg 6–10 gram – is baie sosiaal en kan partykeer in groot swerms voorkom.
Daar is twee subspesies, die noordelike A. s. sublfava en die suidelike A. s. clarkei. Die noordelike subspesie het ‘n helder oranje kleur op die bors en maag. Die voëltjies het ‘n rooi snawel en donker olyfgroen vere. Hulle word van die gewone kwartelvinkie onderskei deur die mannetjie se rooi (nie donker nie) kruis.

Mannetjie, links, en wyfie
Foto: Wikimedia
Die mannetjie het donker stroke op ‘n geel of witterige flank, ‘n helder geel onderkant, swart stert en bloedrooi wenkbroustrepe. Die wyfie is dowwer en kleiner. Sy het ‘n geel pens en is sonder die mannetjie se rooi wenkbroustreep. Die onvolwassenes lyk soos die wyfie, maar het ‘n effekleurige dofgeel aan die onderkant.
Die suidelike subspesie verkies dit om verlate koepelvormige nessies van ander spesies, soos die wewers, oor te neem. Hulle bou ‘n nessie binne-in die bestaande nes of tof die ou nes net op deur ‘n nuwe vere-voering in te sit.
Die wyfie lê drie tot ses eiers. Ná die derde tot vierde eier gelê is, deel die ouers die broeiwerk deur die dag, terwyl die wyfie in die nag broei. Die kuikens broei na 11 tot 14 dae uit en verlaat die nes ná 17 tot 21 dae. Ouers kyk nog na die kuikens tot hulle ses weke oud is.
Rooiassies vreet grootliks saad, insekte en lote. In die noordelike halfrond is hulle gewilde kouvoëltjies, baie soos die kwartelvinkies wat ons hier aanhou. |