Van lastige bossie-kêrel word knap medisyne gemaak Print E-mail
News - Ons Omgewing
Saturday, 19 September 2020 07:04
Untitled Document

‘n Algemene onkruid in ons gebied word wêreldwyd as medisyne gebruik. Amper 200 organiese verbindings is al geïsoleer van die doodgewone knapsekêrel of wewenaar, Bidens pilosa.

In die middel van ‘n pandemie is dit nuttig om te weet dat die knapsekêrel veral handig is om slymvliesprobleme in verkoue, griep en respiratoriese infeksies te behandel. Michael Moore was die eerste moderne kruidokter wat dié plant gebruik het om die slymvliese te behandel.

Kruiedokters gebruik dié plant om vaginale infeksies en prostaatprobleme te behandel; dit help die niere om uriensuur uit die bloed te skei; en word as voorkomingsmiddel in gastritis en maagsere, diarree en sweervormende dikdermontsteking gebruik.

Volgens kruidedokters strek die knapsekêrel se lang lys aksies van antibakteries, anti-inflammatories, antimikrobies, antisepties en antidiabeties tot bloedstelpend, windafdrywend en lewer-beskermend. Dit is ook ‘n urineermiddel en help die immunstelsel.


Die plant
Foto’s: Wikipedia

Groente
In die Viëtnamese Oorlog het soldate dié plant geëet en het hy die naam ‘soldaat-groente’ gekry. In Engels staan hy bekend as ‘black-jack’, ‘beggarticks’, ‘cobbler's pegs’, ‘devil's needles’, ‘hairy bidens’, ‘Spanish needle’, ‘Devil’s Pitchfork’ of ‘sticky beaks’.

In tradisionele Chinese medisyne word die knapsekêrel xian feng genoem en in Uganda, waar die plant op wonde gesit word, word hy inyabalasanya genoem. Ekstrakte van knapsekêrel word dwarsoor Suidelike Afrika gebruik om malaria te behandel.

Die knapsekêrel is ’n eenjarige spesie, kruidagtige blomplant in die madeliefie-familie, Asteraceae. Dié plant is inheems aan tropiese Amerika, maar het wêreldwyd versprei. Hy het ‘n sterk wortelstelsel – ‘n penwortel met sywortels. Sy vruggies is aanvanklik groen en wanneer hulle opgaan, word hulle swart met hakies aan die punte sodat hulle maklik aan vel, klere en diere se pelse kan vasklou.


Die blom

Oes
Kruiedokter Michael Moore sê dat die groen blare in die groeiseisoen geoes moet word en as teeblare gedroog kan word. Tog is die antimikrobiese aksies die sterkste wanneer die vars blare versap word en in alkohol geweek word om ‘n tinktuur te maak. Baie van die plant se aktiewe bestanddele is in alkohol oplosbaar, maar nie in water nie.

Die knapsekêrel word gebruik om giftige afvalstortingshope te remedieer en absorbeer kadmium en arseen. Wees dus bedag waar jy jou knapsekêrels oes. Mense met insulienafhanklike diabetes moet versigtig wees, omdat die plant glukosevlakke in die bloed verlaag, insulien-sensitiwiteit verhoog en die vrylating van insulien vanaf die pankreas stimuleer. Praat liefs eers met jou geneesheer voor jy dit wild en wakker begin gebruik


Die vrug


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger September 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger