‘n Regter is teen die einde van Augustus as regterlike bestuurder aangestel om ‘n oplossing vir die sloerende Plastic View-hervestiging saak te vind.
Verlede maand het ons berig dat die Pretoria-oos Forum vir Informele Nedersettings, ‘n gemeenskapsgebaseerde inisiatief wat twee jaar gelede op die been gebring is, poog om ‘n oplossing vir die situasie in Plastic View-plakkerskamp binne die raamwerk van die Nasionale Behuisingswet en regulasies te vind.
Die saak sloer al vir 14 jaar en in dié tyd was daar al 17 hofbevele uitgereik. Gautengse Hooggeregshof regter, Dawie Fourie, is aangestel om na vorige hofbevele te kyk en met belanghebbendes te praat om ‘n oplossing te vind.
Die aanstelling van ‘n regterlike bestuurder is versoek deur verskeie residensiële landgoedontwikkelings rondom Plastic View se regsverteenwoordiger, Mariza Oelofse. Sy het gesê dat die huiseienaarsverenigings desperaat is om ‘n werkbare oplossing te vind vir beide omliggende huiseienaars en Plastic View-inwoners.
Die grond waarop die plakkers hulle hutte langs Garstfonteinweg-verlenging opgerig het, behoort aan die Stad Tshwane. Daar woon meer as 15 000 mense in Plastic View en slegs omtrent 800 is by binnelandse sake geregistreer.
Stad Tshwane het ‘n diensverskaffer aangestel om ‘n residensiële dorp, bekend as Pretoriuspark Uitbreiding 40, oos van Woodlands Boulevard te ontwikkel om 853 gesinne te huisves, maar dié projek het sedert 2009 nog nie gestalte gekry nie. |