Twee inwoners-verenigings, Tshwane Money Matters Caucus (TMMC) en Agriculture Landowners Association (Alas! Tshwane), het teen die einde van Augustus ‘n dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof gebring om die stad se begroting en waardasierol ongeldig te verklaar.
Volgens Lex Middelberg, TMMC voorsitter, is die begroting en waardasierol ongrondwetlik en onwettig.
In ‘Grondbelasting verdubbel in landelike gebied’ het ons in Augustus berig dat hoewe-eienaars ontstoke is oor grondbelasting wat in baie gevalle meer as verdubbel het vanaf die Junie- tot die Julie-munisipale rekening.
Grondeienaars kon die waarde van hulle eiendom op die metroraad se waardasierol, wat op Stad Tshwane se webwerf beskikbaar was, nagaan en die afsnydatum vir besware teen waardasies was 26 Junie.
Die nuwe waardasierol is geldig vir die tydperk van 1 Julie 2020 tot 30 Junie 2024 en nuwe eiendomsbelasting is vanaf 1 Julie gehef. Volgens wet word die waarde van eiendomme elke vier jaar deur munisipale inspekteurs bepaal en op die waardasierol geplaas. Dienste- en eiendomstariewe word volgens dié waarde bepaal.

Lex Middelberg
“Ons het uit verskeie oorde verneem dat die waardasies van eiendomme op sekere plekke, veral in die landbousektor, onredelik en uitermatig verhoog word,” het Louis Meintjes, president van TLU SA, gesê.
TMMC en Alas! Tshwane maak die bewering dat die waardasierol gebruik is om eiendomswaarde, en dus die stad se inkomste, in spesifieke woonbuurte buitensporig te verhoog sonder enige basis vir die verhoogde waardes. Die metro is reeds in minagting van ‘n hofbevel wat in Mei aan Alas! Tshwane toegestaan is. Volgens dié hofbevel word die metro gedwing om inligting oor die eiendomswaardasierol bekend te maak.
Die twee organisasies noem ook dat daar volgehou is met die onwettige praktyk om landbou-eiendom as residensieel te belas en belasting so te verhoog. Hulle sê dat dit veral in die ooste van Pretoria, waar van die mees welvarende woonbuurte is, gesien is.
Lex haal die Munisipale Stelselwet aan wanneer hy sê dat belastingbetalers die reg het om ‘n dispuut te verklaar oor onwettige debiete op hulle munisipale rekenings en om die betaling van sulke bedrae te weerhou. |