Met ‘vullisiologie’ word weggooi-goed hougoed Print E-mail
News - Ons Mense
Friday, 14 August 2020 09:55
Untitled Document

Deesdae trek almal die belt ‘n bietjie stywer. Dinge wat voorheen summier weggegooi is, kry dalk nou ‘n tweede nut – selfs 2 l plastiekkoeldrankbottels kan nou vir geld ingeruil word. Beïnvloed dit enigsins die stand van munisipale vullishope? Sal mense oor 200 jaar studies daaroor doen?


Helen Martins se ‘buitestaanderkuns’ met ou glasbottels
Foto: Salmagundi

Dit is immers hoe ons iets weet van historiese samelewings – deur hulle weggooi-goed versigtig uit te grawe. As die samelewing oud genoeg is, noem ‘n mens dit argeologie. Gefossileerde gemors wat in die jare her se ashope gevind word is dikwels die enigste oorblyfsels van antieke samelewings as hulle nie skrywes, grafte of geboue agter gelaat het nie. ‘n Magdom inligting word oor sulke samelewings verkry deur na kosoorblyfsels, stuifmeel van plante wat toentertyd gegroei het en gebreekte gereedskap te kyk.


Gastehys Jan Harmsgat
Foto: Facebook

Die hedendaagse studie wat ‘garbology’ genoem word (kom ons noem dit sommer vullisiologie) is ‘n relatief nuwe een. William Rathje, wat ‘n professor in antropologie by die Universiteit van Arizona was, word as die vader van vullisiologie beskou. In 1973 het William Rathje en sy studente begin om deur hedendaagse vullishope te soek en het elke stukkie gemors wat hulle gekry het, noukeurig opgeteken.


Francois ‘Boskazi’ Breytenbach by sy beeldhouwerk, ‘Ruik die Aarde’, uit skrootmetaal
Foto: Verskaf

William het tot die gevolgtrekking gekom dat vullis ‘n baie beter begrip van die moderne samelewing gee as meningsopnames en onderhoude. Hy het verskeie boeke hieroor geskryf, insluitend ‘Rubbish: the Archaeology of Garbage’.

Dit is Alan Jules Weberman wat die woord ‘garbology’ in 1971 uitgedink het toe hy deur Bob Dylan se vullis begin grou het.


Popkoppe in ‘n verlate huis
Foto: Sue Taylor, Heritage Portal

Sunnyside
In Pretoria fokus navorser Sue Taylor die afgelope 10 jaar (2010–2020) op die weggooi-geskiedenis van 20 verlate ou huise op Unisa se Sunnyside-kampus. Sy hou ‘n fotografiese rekord van die huise se verval, asook die soort vullis wat sy daar vind.

Sue vra hoe dit moontlik kan wees dat die mense wat daar gewoon het, verdwyn het en so ‘n ryk nalatenskap van weggooi-goed daar gelos het. Sy sê dat baie van die weggooi-goed op ‘n pragtige manier verander het soos hulle verval.


Rod Comer en Albert van Rensburg se bottelgrawery
Foto: antiquebottles.co.za/digging

Die grond en geboue van die Sunnyside-kampus verteenwoordig ‘n geskiedenis van 170 jaar en is belangrik om die oorsprong en groei van Pretoria te verstaan. Die kampus bestaan uit ‘n suidelike en noordelike deel wat in 1992 deur Unisa vir ontwikkeling aangekoop is.

Die noordelike deel is waar die ou Normaalkollege in 1902 gestig is, wat ná ‘n naamsverandering tot die 1980’s daar aan die gang was. Unisa het vyf van dié kollege se geboue as konferensiefasiliteite gerestoureer.


Die bottels wat Rod en Albert in Desember 1995 in Pretoria opgegrawe het
Foto: antiquebottles.co.za/digging

Die suidelike stuk was deel van Sunnyside en het bestaan uit huise, wat in die vroeë 1900’s gebou is, vir kollege-personeel. Nege van die ou huise en ses buitegeboue gaan gesloop word.

Die huise het leeg gestaan voor Unisa hulle in 1992 gekoop het en oor die afgelope 28 jaar is al die huise deur verbygaande hawelose mense besoek en het 28 jaar se ‘nuwe’ vullis daar begin opbou.


Die popkop wat bo-op die Bronberg-rif by die klipskanse gevind is

Sekere items het so lank in tuine gelê dat hulle oorspronklike gebruik nie meer duidelik is nie. Ander items is herkenbaar, soos die kunsprojekte wat deur studente van die nabygeleë departement van visuele kunste agtergelaat is. Sue sê dat ‘n versameling van ongeveer 30 gipsvorms van poppe se koppe haar veral fassineer.

Die huise op die suidelike kampus was tot laat in 2018 in ‘n redelike goeie toestand, maar sedertdien is hulle vensters, deure en dakplate gesteel, wat beteken dat hulle in die reënseisoen vinnig agteruitgaan. Party van dié huise sou in elk geval gesloop word, maar die wat gerestoureer sou word, raak ook nou amper onredbaar. Twee van dié huise het in Februarie vanjaar afgebrand.


‘n Kopbeeld van klei, ou glasbotteltjie en deksel uit dieselfde Cullinanse groentetuin

Helen
Sue is nie die enigste een wat die mooi in weggooi-goed raaksien nie. Baie kunstenaars wat weggooi-goed gebruik, se werk word as buitestaander-kuns (outsider art) beskou. Die bekendste van dié buitestaanders in ons land is waarskynlik die Uilhuis op Nieu-Bethesda se Helen Martins en haar gebruik van ou glasbottels in die meer as 300 beelde wat sy saam met haar helper, Koos Malgas, geskep het.


‘n Verlate huis op die Sunnyside-kampus
Foto: Sue Taylor, Heritage Portal

Min mense weet dat Helen vir ‘n ruk op Cullinan skoolgehou het. Sy was van 1915 tot 1918 by die onderwyskollege op Graaf-Reinet en het in 1920 met Johannes Pienaar getrou. In 1921, waarskynlik toe reeds vervreem van haar man, het sy as mev H Pienarr by Cullinan se laerskool begin skoolhou.

Helen en haar man is in 1926 geskei en sy is iewers tussen 1927 en 1929, toe sy omtrent 30 jaar oud was, terug na Nieu-Bethesda omdat haar ma siek geword het. Toe sy 47 jaar oud was is altwee haar ouers oorlede en het sy as ‘n kluisenaar in die huis agtergebly. Sy het in 1976 begin om kinders te betaal om bottels op te tel wat sy in haar sement-beelde gebruik het – heel of as fyngemaalde stukkies glas.


‘n Huis, wat nog in ‘n redelike goeie toestand is, op die Sunnyside-kampus
Foto: Sue Taylor, Heritage Portal

Glas
Die uitgrawe van antieke glasbottels is jare reeds ‘n bekende stokperdjie en baie van dit wat deur ons voorouers weggegooi is, word in Pretoria opgegrawe. Twee bottelgrawers, Rod Comer en Albert van Rensburg, vertel dat hulle in Desember 1995 seker hulle grootste skat van bottels op ‘n heel onwaarskynlike plek langs ‘n pad in Pretoria uitgegrawe het.

Elkeen wat op ‘n plaas of kleinhoewe met ou asgate woon, weet dat die vreemdste goed soms daaruit vorendag kom. En dit nie net uit asgate nie. ‘n Ou keramiek popkop is naby die klipskanse bo-op die Bronberg-rif gekry. Op ‘n Cullinanse dorpserf het ‘n ou glasbotteltjie, deksel en ‘n gebreekte Afrika-kop, wat dalk verband kan hou met vroeë Ndebele-krale, uitgekom toe ‘n groentetuin gespit is.


Jan Harmsgat se Agterplaas
Foto: Donovan Robinson

Die afgelope dekade of twee is die gebruik van weggooi-goed, veral dit wat op skrootmetaalwerwe aangeskaf kan word, algemeen in die skep van kunswerke. Op Cullinan, waar Helen eens skoolgehou het, is Jan Harmsgat se Agterplaas en Gastehys ‘n sprekende voorbeeld van hoe weggooigoed gebruik word in bouwerk, versierings en om beelde mee te maak.

Op dieselfde dorp gebruik beeldhouer Johan du Plessis, behalwe vir al die ander soorte beelde wat hy skep, ook ou perdeskoene om perdebeelde mee te maak. Op Bashewa gebruik kunstenaar Francois Breytenbach skrootmetaal in die maak van sy ongewone beelde en kunswerke.


Beeldhouer Johan du Plessis gebruik perdeskoene in sy perdebeelde
Foto: Facebook


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Augustus 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger