Dié wat oud genoeg is om dit te kon ervaar en dit kan onthou, is nou ook nie meer vandag se kinders nie, sê Gert Mossie. En dié wat dit nie beleef het nie, maar tog so met die oorlewering saam daarvan weet, sal waarskynlik glad nie verstaan het hoekom dit destyds so ‘n allemintige herrie in die land veroorsaak het nie: Glenda Kemp en Oupa.
Glenda was ‘n plattelandse meisie uit ‘n tipiese konserwatiewe Afrikanergesin – van Swartruggens, as hy dit reg onthou – en Oupa was ‘n slang: ‘n Yslike, uitgevrete luislang.
Afsonderlik sou nog Oupa, nog Glenda enigsins iets uitsonderlik in die Marico-bosveld wees, maar toe die twee saam Johannesburg toe trek en saam begin dans, was dit ‘n aardigheid wat die ganse land lank aan die gons gehad het.
Want, sê Gert, dit was ‘n ontklee-dansery en toentertyd baie skaars en daarby grootliks onwettig en erg onaanvaarbaar vir sedebewakers en baie ander volksgenote. Natuurlik het net Glenda meegedoen aan die ontkleding (Oupa het seker wel elke dan en wan van sy vel ontslae moes raak, maar nie as deel van die vertoning nie), tog het die luislang saam op die maat van die musiek gekriewel en om Glenda geseil en só en dié, sê Gert.
Nou het Glenda Kemp die waarde van bemarking goed verstaan. In daardie goeie ou dae het amper almal koerant gelees en Glenda het besef dat sy en Oupa se dinge ‘n ‘goeie’ storie kan wees – iets waarna elke goeie koerantman voortdurend op soek was.
Die gevolge was dat Glenda en Oupa later bekend genoeg geag is, sodat die Suiwelraad hulle genooi het om te dien op ‘n ‘kaasbeoordelingspaneel’ by hulle uitstalling op die Randse Paasskou. Hy wat Gert Mossie is, was ook op daardie paneel en het langs Glenda en Oupa beland. Daarom kan hy vandag met gesag daarvan getuig dat ‘n luislang soos ‘n foksterriërhond kan byt. Die bloed het gespuit, sê Gert.
Een van die eerste koerantmanne wat vir Glenda en haar Oupa voor die kameralens en tot binne in die koerant op pad na ongekende roem en sporadiese moeilikheid gekry het, was legendariese fotograaf, Wessel Oosthuizen. Hy, Wessel, was en is steeds eintlik en dalk ook heel gepas, ‘n sport(s)fotograaf van uitnemendheid.
So gebeur dit toe dat Wessel en Glenda gou ‘n platoniese vriendskap en verbintenis met die bemarking saam aanknoop en ‘n eksklusiewe vertoning deur Glenda en Oupa word vir koerantkollegas van verskillende publikasie in Wessel se woonstel gereël.
Die plekkie is gepak en, soos Wessel later in sy boek ‘Boesman tot VAL’ vertel, het een ou selfs in sy beste kispak opgedaag omdat hy sy vrou vertel het hy gaan dié aand na ‘n Junior Rapportryers-vergadering toe.
Terwyl die plaat op ‘n kol met moeite geruil is en Glenda en Oupa teen die gordyn met haar rug na die ‘gehoor’ gestaan het, het een koerantman ewe bedeesd gevra: “Glendatjie – het iemand jou al gevra vir die volgende dans?”
Wessel sê onlangs op ‘n Facebook-blad, ‘Nagkantoor’, dat hy die einste boek (baie) later aan Glenda in Durban wou oorhandig en hulle het mekaar op ‘n plek ontmoet. Hy vra toe, aangesien hy nou op ‘pensioen’ is, of sy hom sal afslag gee vir ‘n vertoning. Sy sê toe dat sy nou al so oud is dat sy ou Wessel sal betaal om na haar te kyk. Op ‘n vraag waar Oupa dan is, sê sy dat hy nou ‘n handsak en ‘n paar skoene is, het Wessel vertel.
Tyd en dae, ja. Tyd en dae, sê Gert Mossie. |