Groot afval-lus skop saam met diep verlange vas Print E-mail
News - Vreethans
Friday, 14 August 2020 09:45
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Soms neig die groot lus mos om jou sommer so van skuins af ewe onverwags saam met die diep verlange te bekruip. Soos as jy verlang na jou ouma op die plaas en skielik kry jy jou dat jy jou onkeerbare lus vir kaiings en krummelpap kwalik in toom kan hou.

Só verlang ek nou die anderdag na oorlê ou Faan Smuts en die lekker ‘speelsessies’ wat ons destyds by sy kuierplek in Zwavelpoort ingewerk het. En voor ek ‘pens’ kon sê, trap die versmagting na ‘n goeie kerrieafval my sonder genade vas.

Faan se plek was immers destyds die hoofkwartier van die SA Skaapkop en Afval-gilde, waarvan die uwe ‘n trotse lid was. En Faan en wyle ou Hans Lombard het die kuns van skaapafval verstaan.


Anders, dog ruim en lekker was die kerrieafval

Later het Flip Marx vennoot geword, oorgeneem en baie uitgebrei en verander aan die plek wat Faan en Issie Smuts gevestig het. Baie bly is ek om te kan berig dat die tradisie van tradisionele geregte behoue gebly het. ‘n Deel van die Bronberg Restaurant se spyskaart word daaraan afgestaan en ook hartverblydend is dat die hele spyskaart tweetalig gebly het.

Skaapkop (R119), skaapstertjies (R139), skaapniertjies (R75), pap en kaiings (R85), skilpadjies, bobotie, frikkadelle, nog ‘n paar disse en daar sien ek hom ook: Kerrieafval (R119).

Dit verdien vermeld te word dat die res van die plek se spyskaart erg uitgebreid en uiteenlopend van aard is en dat die pryse billik blyk, maar plekgebrek weerhou my van ‘n verdere relaas hieroor.


Deel van die ‘alternatiewe’ kombuis in een van die ‘nuwer’ geboue

Met die omstandighede onder lede en die (wan)bestuur van die Covid-regulasies, het Bronberg Restaurant se mense sy hoofgeboue (ook die een van Faan met die gewels) vir eers toegemaak en kos word uit die koffiewinkelplek se ruim kombuis vir wegneem of aansit in die tuin aldaar voorberei.

Ek bel en bestel die afval (hoe dan anders?) saam met rys en groente en Metgesel besluit op die stokvis (diep gebraai in ‘n bierdeeg) – met skyfies. Dit kos R69. Daarby wil sy ook groente hê – asseblief.


Stokvis in bierbeslag – groot genoeg om plankvis te heet

Die meeste dinge verander mos maar so met die jare saam. Een van hierdie dinge is die afval wat Bronberg Restaurant vandag bedien. Maar ek kla nie, hoor. Allermins. Skaapafval ken ek en het dié plek in vroeër jare geken as pens en pootjies met moontlike wangvleisies, tongetjie en ’n oog of twee vir die dapperes, hersinkie-in-blaarpens en selfs ‘n langer gekookte stuk of twee beespens daarby om die ding te rek. Daarby was gewoonlik aartappel en wortel saam.

Die afval waaraan ek daardie mooi dag by die huis weggelê het was baie ruim van porsie. Die kerrie en tekstuur was onverbeterlik. Maar dit was pens. Die Ingelse sê ‘tripe’. Skaappens ja, maar meestal beespens. Die enigste beduidenis van ‘n pootjie, was ‘n enkele, verdwaalde pootbeentjie. Maar weereens – as dit vir jou klink of ek kla, is jy verkeerd. Die kerrieafval op fyn rys met roomspinasie en patat was werklik ongelooflik lekker en hoogs aan te beveel. Sonder skroom sal ek dit weer bestel en geniet.


Normale kuiers in die deel van die ‘groter’ Bronberg Restaurant in meer normale tye

Metgesel het regtig ‘n reus van ‘n stokvis onder sy bierdegie gekry. Ek het die ding só bekyk en gedink boomstamvis of plankvis sou beter pas. Genoeg vir meer as een maaltyd saam met die skyfies en groente, meen Metgesel.

Jy kan vir Jakkie by 076-452-6182 bel vir nadere inligting.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Augustus 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger