Hoewe-eienaars in die Bronberg-gebied is ontstoke oor grondbelasting wat in baie gevalle meer as verdubbel het vanaf die Junie- tot die Julie-munisipale rekening.
Andries Spies van plot 294, Zwavelpoort sê dat die metroraad sy eiendom se waarde vanaf Julie verhoog het vanaf R1100 000 na R2955 000 sonder enige verduideliking of kommunikasie.
Andries sê dat hy nie bewus was daarvan dat grondeienaars die waarde van hulle eiendom op die metroraad se waardasierol, wat op Stad Tshwane se webwerf beskikbaar was, moet nagaan nie.
“Waar was die valuasie rol geplaas? Ons weet niks daarvan nie,” sê Andries. “Ek het Tshwane probeer bel, maar daar was geen antwoord nie. Toe stuur ek ’n e-pos en die outomatiese antwoord was dat hulle slegs aandag gee aan noodsaaklike dienste weens Covid-19.”
“Hulle verdubbel ons betaling en ons kry geen dienste nie. Ons het ons eie water, riool, vullisverwydering en onderhou self ons grondpaaie,” sê Andries.
Nicolien Botha van plot 418, Zwavelpoort sê dit is “absoluut verregaande” dat die munisipale belasting verdubbel het. “Geen dienste word deur hulle verskaf nie, soos riool, water en vullisverwydering. Op watter basis regverdig hulle die verhoging as hulle geen dienste aan ons lewer nie?”
Die afsnydatum vir besware teen waardasies was 26 Junie en die nuwe waardasierol is geldig vir die tydperk van 1 Julie 2020 tot 30 Junie 2024. Volgens wet word die waarde van eiendomme elke vier jaar deur munisipale inspekteurs bepaal en op die waardasierol geplaas. Dienste- en eiendomstariewe word volgens dié waarde bepaal.
“Ons het uit verskeie oorde verneem dat die waardasies van eiendomme op sekere plekke, veral in die landbousektor, onredelik en uitermatig verhoog word,” het Louis Meintjes, president van TLU SA, gesê.
Eiendomsbelasting word gehef in terme van die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting, Wet nommer 6 van 2004. Die munisipaliteit se primêre verantwoordelikheid is om dienste te lewer en ook om ekonomiese ontwikkeling binne sy grense te ondersteun.
Vir dié doel hef die munisipaliteit eiendomsbelasting vir openbare dienste, wat strek vanaf paaie, straatligte en parkering tot sportvelde en biblioteke, maar ook vir die ontwikkeling wat binne sy gebied vir die spesifieke jaar beoog word. Grondeienaars in die landelike gebied word hard geslaan deur dié belasting, omdat hulle nie die dienste wat normaalweg in dorpe en stede voorsien word, kry nie.
TLU SA moedig grondeienaars aan om onredelike stygings by hulle te rapporteer. Besoek hulle by Jamesrylaan 194, Silverton, skakel 012-804-8031 of stuur ‘n e-pos:
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
. |