Inwoners soek nou antwoorde oor Plastic View Print E-mail
News - Aktueel
Friday, 14 August 2020 09:42
Untitled Document

Plastic View-plakkerskamp het op 17 Julie vir die vyfde keer in vier jaar afgebrand.

Die dag ná die brand is noodkrete aan omliggende inwoners in Moreletapark uitgestuur om dié hawelose mense te help.

Dié inwoners sê dat daar van hulle verwag word om hulle harte en beursies oop te maak, terwyl hulle behoefte aan ‘n aanvaarbare oplossing vir die maatskaplike kwessies in die plakkerskamp deur die Tshwane-metro geïgnoreer word.

Inwoners is ook boos oor die toename in misdaad, wat hulle glo verband hou met die inwoners van Plastic View.

Die Pretoria-oos Forum vir Informele Nedersettings, ‘n gemeenskapsgebaseerde inisiatief wat twee jaar gelede op die been gebring is, sê dat die stadsraad deeglik bewus is van die risiko van brande in Plastic View.

Die stadsraad word wetlik verplig om rampverligting te voorsien en het ‘n rampverligtingplan, waarvoor daar in die jaarlikse begroting voorsiening gemaak word en wat deur belastingbetalers befonds word. Tog is die stadsraad nie in staat om dié verligting te voorsien nie en stel ook nie rampbestuursmaatreëls in plek om die gereelde brande te voorkom nie.


Die brand by Plastic View
Foto’s: Tshwane EMS

Dié forum is gestig met die ondersteuning van verskeie gemeenskapsinstansies, soos die Moreletapark Gemeenskapsorgforum, die Tshwane Geldsake Koukus, die Pretoria-Oos Stadsgrens Ontwikkelingsforum, die huiseienaarsverenigings van verskeie residensiële landgoedontwikkelings rondom Plastic View en die Moreletapark NG Kerk.

Lex Middelberg, woordvoerder vir die forum, sê dat die metro weier om saam met siviele forums soos dié een te werk tot ‘n ramp die gebied tref en dan word daar van aangrensende inwoners verwag om in te spring om die gapings te vul wat deur die metro se verwaarlosing veroorsaak is.

Hy sê dat ‘n hofbevel om die groei van Plastic View te voorkom, geïgnoreer is; dat polisiëring afwesig is; en dat die forum se herhaalde versoeke oor die afgelope 16 maande vir die saak om in die stadsraad se formele strategiese plan (IDP) ingesluit te word, op dowe ore geval het.

Lex sê dat die toestand nie meer aanvaarbaar is nie en dat die forum poog om ‘n oplossing vir die situasie in Plastic View binne die raamwerk van die Nasionale Behuisingswet en regulasies te vind.


Hutte is deur die brand in puin gelê

Veertien hofbevele is sedert 2008 teen die Metro uitgereik om iets aan die groeiende plakkerprobleem te doen. Die hofbevele plaas ‘n verbod op die verdere oprigting van plakkershuise. Dit behels dat die groei van die nedersetting beheer word, dat sekuriteit verskaf word om behoorlike beheer uit te oefen oor wie daar woon en wie nuwe aankomelinge is, dat die omheining in stand gehou word en dat alternatiewe behoorlike behuising aan die inwoners voorsien word.

Die grond waarop die plakkers hulle hutte opgerig het, behoort aan die Stad Tshwane. Tshwane woordvoerder, Lindela Mashigo, het vroeër gesê dat die metro steeds ‘n residensiële ontwikkeling vir dié plakkerskamp se inwoners beplan, maar dat die meeste plakkers buitelanders is wat nie vir regering-gesubsidieerde behuising kwalifiseer nie.

Daar woon meer as 15 000 mense in Plastic View en slegs omtrent 800 is by binnelandse sake geregistreer. Lindela het gesê dat die stad ‘n diensverskaffer aangestel het om ‘n residensiële dorp, bekend as Pretoriuspark Uitbreiding 40, te ontwikkel. Dié dorp sal 853 gesinne kan huisves.

Die ontwikkeling word op die 6,4 hektaar grootte restant van gedeelte 284 van die plaas Garsfontein 374-JR, oos van Woodlands Boulevard, beplan. Dit is minder as ‘n kilometer vanaf Plastic View. Die metroraad en provinsiale regering was sedert 2009 nog nie in staat om dié projek van die grond af te kry nie.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Augustus 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger