Angie Kleijn
Daar is ’n uil wat die afgelope 115 jaar al oor Kerkplein staar. Die storie van dié uil is een van ‘n hegte vriendskap tussen ‘n beeldhouer en argitek, wat later na die ontwerp van die Vrouemonument gelei het.
Die argitek het die gips ‘oefenbeeld’ van dié uil sy lewe lank gehou en dit word selfs in sy testament aan ‘n vriend, wat hom ná sy aftrede ingeneem het, bemaak.
“Hoekom sou Frans Soff, wat ‘n argitek was en nie ‘n beeldhouer nie, soveel waarde aan ‘n gipsbeeld van ‘n uil heg?” het geskiedkundige dr Hermann Moritz Rex jare later gevra.
Argitek, Frans Soff, regs en beeldhouer, Anton van Wouw, was sedert die 1890’s
boesemvriende in Pretoria
Foto: Pretoriana 072, 1975
Die uil sit vandag nog op die dak van ‘n gebou op die hoek van Parlement- en Kerkstraat, Kerkplein.
Die Reserve Investment-gebou is in 1904 deur die Hollandse argitek, Frans Soff, ontwerp en is in 1905 gebou. Weens die gewildheid van Café Riche, wat in dié gebou gesetel was, het die oorspronklike naam vergete geraak.
Frans, as 37-jarige argitek, het hier saam met die 42-jarige beeldhouer, Anton van Wouw, gewerk.
Anton Van Wouw in Rome met twee hoekfigure wat deel van die Kruger-standbeeld op
Kerkplein geword het
Foto: Die Geskiedenis van die Krugerstandbeeld deur JH Breytenbach
Vennoot
Francois Soff is in 1867 in Amsterdam gebore en het in omstreeks 1890 in Pretoria aangekom waar hy in vennootskap met Wilhelm Johannes De Zwaan begin werk het.
Wilhelm is ook in 1867 in Amsterdam gebore, waar hy sy vakopleiding ontvang het. Hy is gedeeltelik as argitek opgelei deur die stadsargitek van Amsterdam, by wie hy in die 1880’s gewerk het.
Wilhelm het in 1888 in Johannesburg in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aangekom en is kort daarna na Pretoria waar hy in 1890 die President Hotel ontwerp het. Dié gebou, wat op die suid-oostelike hoek van Kerkplein was, het later as die Grand Hotel bekend gestaan.
Frans Soff was ‘n oujongkêrel wat in die Pretoria-klub gewoon het. Hy en sy vennoot Wilhelm de Zwaan het die klub se oos-vleuel in 1903 aangebou
Bron: Wilhelmiens aftermath and legacy
In Nederland was Wilhelm ‘n lid van die Amsterdamse Argitektuurgenootskap en hier het hy ‘n lid van die Raad van die Vereniging van Transvaalse Argitekte geword.
Dit lyk asof Frans en Wilhelm se vennootskap rondom 1895 begin het, omdat die ontwerp van Hollard House aan hulle toegeskryf word. Tog lys die ‘Longland’s Pretoria Directory’ van 1899 net vir De Zwaan. Eers in 1909 en 1911 is Frans en Wilhelm de Zwaan saam op die lys van ‘Longland’s Pretoria Directory’ gekry as ‘De Zwaan, WJ en Frans Soff’ in Banklaan, Pretoria.
Frans en Wilhelm was deel van die kunstenaarkring, wat voor die Engelse Oorlog in Pretoria doenig was, en wat die Nederlandse beeldhouer Anton van Wouw en skilder J Pierneef ingesluit het. Frans was ook as kunskenner en -beoefenaar bekend en alhoewel Anton ‘n stukadoor van beroep was, was hy ook as skilder en spotprenttekenaar bekend.
Die President Hotel, later die Grand Hotel, wat in 1890 deur Wilhelm de Zwaan ontwerp is
Bron: Wilhelmiens aftermath and legacy
Wilhelm het twee van die gebou rondom Kerkplein ontwerp, waarvan net die Nederlandse Bank nog bestaan. Sy loopbaan is moeilik om te volg omdat sy suster ná sy dood al sy persoonlike dokumente verbrand het. Vreemd genoeg is Frans se dokumente ook verbrand.
Dit is nie duidelik of Wilhelm as private argitek na die ZAR geïmmigreer het en of hy dalk ‘n pos in die regering se Departement van Openbare Werke gehad het nie. Die departement het ‘n hele paar reistoelae aan hom uitbetaal.
Wilhelm het sy hele werkende lewe in Pretoria gebly en sy doodsberig noem dat hy 60 jaar lank hier gewerk het. Tog was hy een van die Hollanders wat na Nederland gedeporteer is toe die Britte Pretoria in 1901 oorgeneem het. Hy moes kort ná die Vrede van Vereeniging terug gekeer het.
Ná die Engelse Oorlog word De Zwaan en Soff as lede van die Pretoria-klub gelys en in 1903 is hulle saam aangestel om ‘n ekstra vleuel aan die Vermeulenstraat-fasade van die klub te ontwerp. Frans het nooit getrou nie en was later jare ‘n permanente inwoner van dié klub. Wilhelm is getroud met Hilma Wilhelmina, die dogter van Jacobus Johannes (Oom Koos) Meintjes, die eerste Registrateur van Aktes, en Susanna Elizabeth, ‘n nooi Van Rensburg.
Die uil bo-op die Cafe Riche-gebou op Kerkplein
Foto: Wikipedia |
Die Café Riche-gebou met die Mercurius reliëfbeeld
Foto: Paul van der Merwe, 2015 |
Café Riche
Frans het die Café Riche-gebou in 1904 ontwerp en het omstreeks ‘n jaar, tot die gebou in 1905 voltooi is, saam met Anton van Wouw daaraan gewerk. Die gebou is esteties betekenisvol omdat dit baie Art Nouveau-kenmerke het, soos ‘n asimmetriese fasade, simboliese versierings en ornamente. Die deure en vensterrame het van die Toringkerk, die tweede en laaste kerk op Kerkplein wat ’n toring gehad het, gekom.
Die beeldhouwerk, wat ‘n prominente plek in die ontwerp gekry het, maak van die Cafe Riche-gebou iets besonders en spreek van die ontwerper se kunssinnigheid. Op die hoekgewel en ook bo-op die hoogste punt daarvan het Fransvoorsiening gemaak vir die reliëfuitbeelding van Mercurius en die uil op sy betonvoetstuk, terwyl versieringselemente ook op die verskillende gewels verskyn. Die uil kyk uit oor die Paul Kruger-standbeeld, wat Anton ook ontwerp het, in die middel van Kerkplein.
Frans en Anton het tussen die jare 1906 en 1911 nou saamgewerk. In 1911 het Frans in Illovo, Kerkstraat 750, tussen Pine- en Becketstrate in Arcadia gewoon. Dié twee het saam aan ‘n landswye prysvraagontwerp van die Vrouemonument in Bloemfontein deelgeneem. Frans het die eerste vlugtige ontwerp daarvan in Pretoria op die agterkant van ‘n foto van Anton, waar hy aan die Krugerstandbeeld in Rome gewerk het, geskets. Hulle ontwerp is voor Julie 1911 aanvaar.
Mercurius en die uil saam gesien
Foto: Magriet Malan
Vrouemonument
Die geskiedenis van die Vrouemonument het begin toe president MW Steyn in 1905 na Suid-Afrika terug gekeer het en besluit het om hulde te bring aan die vroue en kinders wat in die Engelse Oorlog dood is.
Op 20 Julie 1906 is ‘n vergadering by die president se broer, JWG Steyn, se huis gehou. Generaal Hertzog, Abraham Fischer, WJC Brebner, CH Wessels, dominee CD Murray, dominee Grosskopf,
CG Fichardt en dr Stallreiter was teenwoordig.
Dié Vrystaters het besef dat hulle werk aan ‘n saak van nasionale belang en ‘n konferensie met landswye verteenwoordigers is in Bloemfontein gehou. Hulle het begin geld insamel vir die bouwerk en Roco de Villiers, AW MacHardy en Gordon A Fraser was sekretarisse van die Monumentfonds.
Die president MT Steyn-groep by die loodsing van die Vrouemonument
Foto: Vrouemonument
Op 7 Julie 1911 is aangekondig dat genoeg geld ingesamel is en dat Frans en Anton se planne uit 40 ander gekies is deur ‘n sub-komitee bestaande uit dominee JD Kestell, prof A Moorrees en TN de Villiers.
Die monument is ‘n obelisk van 36,58 meter hoog, gebou uit Kroonstadse sandsteen, tussen twee koppies buite Bloemfontein. Aan die oostelike en westelike kante is daar ‘n toneel van ‘n moeder se hartseer in grafiese brons bas-reliëf. Voor die obelisk is daar figure van vroue.
Daar is diegene wat sê dat Anton die Egiptiese motief gevolg het, soos in sy latere samewerking met Gerard Moerdijk aan die Voortrekkermonument. Hulle sê dat die sentrale motief, die Egiptiese obelisk, ‘n versteende sonstraal van Aten, die middel-van-die-dag-son, is.
Die Vrouemonument is op 16 Desember 1913 onthul en intussen is vier mense aan die voet daarvan begrawe: President Steyn; sy vrou, Rachel Isabella Steyn; generaal Christian Rudolph de Wet; en Emily Hobhouse.
Meer as 20 000 mense het in 1913 vir die onthulling van die Vrouemonument bymekaar gekom
Foto: Vrouemonument
Saamwerk
Teen 1915 is argitekte Wilhelm De Zwaan en Frans Soff apart gelys, maar met dieselfde posadres in Pretoria, as lede van die Vereniging van Transvaalse Argitekte.
Dit lyk asof dié twee tot 1923 saamgewerk het toe hulle laaste opgetekende gebou ontwerp is. Hulle het die oorspronklike Louis Botha Kinderhuis, wat vandag deel is van die Tshwane Distrikhospitaal se gronde, in 1923 ontwerp.
Teen 1924 is Wilhelm en Frans steeds in Pretoria gelys, maar met aparte adresse. Frans het sy plek in die Raad van die Vereniging van Transvaalse Argitekte in 1926 bedank en sy ‘onselfsugtige toewyding aan plig’ is met dank erken.
Die Nasionale Vrouemonument buite Bloemfontein
Foto: Wikipedia
Frans was in 1930 die argitek en kontrakteur vir die oorspronklike gebou van die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein. Hy het tot met sy aftrede in die 1930’s op sy eie in sy argitekskantoor in die Nederlandse Bankgebou, wat deur Wilhelm ontwerp is, gepraktiseer.
Historikus, dr Hermann Rex, het geskryf dat Frans in die laaste jare van sy lewe nog sy kantoor behou het, maar dat hy toe reeds vir ‘n lang ruk sonder werk was. Hy het einde ten laaste sy ‘praktyk’ toegemaak en het by ‘n vriend van hom, Jan de Braal van die plaas Klipfontein, distrik Belfast, gaan aftree.
Frans is in die Pretoriase Algemene Hospitaal oorlede. Vandag is dit die Tshwane Distrikhospitaal
Foto: Google
Hospitaal
Frans het daar gewoon tot hy hospitaal toe moes gaan vir ‘n operasie aan ‘n abses. Daar is ’n rekening van ’n dr Louis Wagner, wat melding maak dat Frans op 4 November 1935 ’n operasie aan die linkerlong gehad het. Die assistent was dr Te Groen; narkose was deur dr Lipron; daar was laboratoriumkoste aan dr Pyper en ‘n konsultasiefooi vir dr Troup.
Net bietjie meer as ‘n maand ná dié operasie het Frans ‘n testament laat opstel. In dié testament, geteken te Pretoria op 28 Desember 1935, het hy sy persoonlike besittings, wat op die plaas was, aan sy vriend Jan agtergelaat, onder andere gereedskap, 150 boeke, ‘n skildery van die Vrouemonument en die gips-uil. Frans was nie net ’n kunstenaar nie, maar ook ’n kunsliefhebber en dit is ’n groot jammerte dat al sy argitektekeninge en ander kunswerke op sy versoek kort voor sy afsterwe vernietig is.
Die Nederlandse Bank-gebou, links: 1898, WJ de Zwaan
Bron: Wilhelmiens aftermath and legacy
Die erfgenaam van al Frans se orige goedere was Robert Frederick Francis jnr, wat by die departement van openbare werke in Pretoria gewerk het. Frans het vir Wouter Johannes Geerling as eksekuteur van sy boedel aangestel, of as hy nie beskikbaar sou wees nie, Carel Altmann.
Frans is op 25 Januarie 1936 in die ouderdom van 69 jaar in saal ses van die Pretoriase Algemene Hospitaal oorlede. Dié hospitaal was later as die HF Verwoerd-hospitaal bekend en is vandag die Tshwane Distrikhospitaal, ‘n gemeenskapshospitaal wie se apteekgebou die oorspronklike Louis Botha Kinderhuis was, wat Frans ontwerp het.
Volgens sy sterfkennis was sy enigste oorlewende broer, GH Soff van Wetering Schans, Amsterdam en sy enigste suster N Soff van Vinkeleskade in Amsterdam. Dié sterfkennis is op 27 Januarie 1936 in Pretoria opgetrek deur sy lewenslange vriend, Robert Frederick Francis van Blackwoodstraat 188, Pretoria. |