Dapper, die weggooi-lammetjie, druk wonderbaarlik deur Print E-mail
News - Artikels
Friday, 17 July 2020 14:43
Untitled Document

‘n Boervrou, wat graag anoniem wil bly, vertel self haar verhaal van ‘n klein weggooi-ooilammetjie wie se lewe, teen alle verwagtinge in, gered kon word. ‘Wonderwerke gebeur nog’, sê die vrou, wat op ‘n plaas buite Bronkhorstspruit bly.

Op ‘n sekere dag het daar ‘n weggooi-skapie, ‘n ooilammetjie, in my lewe gekom. Klein, verwaarloos en ondervoed. Met die eerste oogopslag het ek besef dat sy ‘n probleem het. Haar bekkie, altwee lippies, was vol aaklige vratte.

Ek het haar veearts toe geneem en slegte nuus gekry – dis ‘n virus en geweldig aansteeklik. Lammetjie mag nie naby my eie skaapkudde kom nie. Selfs my klere en skoene kan die virus aan my skape oordra. Skok, want hoe moet ek nou maak? Sien ek regtig hiervoor kans?


Dapper drink haar bottel
Foto’s: Verskaf

In my huis is daar ’n ekstra kamer langs die badkamer. Ek besluit toe om lammetjie daar te laat bly, in afsondering. Solank dit nodig mag wees. Ek het ‘n kampie met afskortings in die kamer gemaak, met baie hooi waarop sy kon slaap. Haar eerste melkbottel het sy gulsig gedrink.

In die badkamer moes ek myself inrig met rubber handskoene, ‘n emmer water met ontsmetting en ‘n ekstra stel klere en skoene buite die kamerdeur, wat ek moes aantrek voor ek lammetjie kon versorg en ook weer uittrek nadat sy versorg is. Dit sou die roetine word, vir wie weet hoe lank?

Lammetjie se bek moes daagliks ontsmet word en sy moes kort-kort melk kry. Ná omtrent drie dae het sy begin agteruit gaan. Sy wou nie meer bottel drink nie. Iets was verkeerd, maar wat? Daar was ‘n aaklige reuk in die kamer en met skok het ek gesien dat ‘n sekondêre infeksie oorgeneem het.


Dapper toe sy self buite kon begin vreet

Plek-plek het haar lippies swart begin word. Soos vrot vleis het dit gelyk en geruik. Terwyl ek dit ontsmet, het van die swart vleis begin afval en was daar net ‘n gat in die lippie. Aaklig. Ek het begin antibiotika inspuit en het antiseptiese salf gekry. Saam met die daaglikse ontsmetting, het ek met oorstokkies salf in die gate gesit, waar vleis weggevreet was.

Ek het begin moed verloor. Onsekerheid en vrees het begin oorneem en so baie vrae. Ly sy nie? Gaan sy gesond word? Sal sy kan skaapvoer en gras vreet met so ‘n misvormde bekkie? Met trane wat loop, het ek gedink . . . is genadedood nie beter nie?

Met vraende ogies het lammetjie my aangekyk, nader geloop en met haar koppie omhoog was dit of sy wil sê: “Ek wil lewe. Gee my ‘n kans!” Net daar het ek besluit dat haar naam Dapper moet wees.
Na ‘n paar oomblikke was dit asof ek ‘n duidelike stem hoor: Waar is jou geloof? Dis nou net ‘n wonderwerk wat haar kan red. Op my knieë langs Dapper het ek gebid en gesmeek vir haar genesing.


Dapper in die boervrou se naaldwerkkamer

Ek het belowe dat as sy gesond word, ek hierdie verhaal sal vertel en getuienis sal lewer.

Dapper het my laat besef dat, ten spyte van baie pyn en hoe erg dit ook al lyk – moenie moed verloor nie! Vir die dae wat gevolg het, het sy moedig en stil gestaan sodat ek die wonde elke paar uur kon behandel.

Swart stukke vleis het begin afval. Die helfte van haar bo-lippie tot teenaan die neusie was reeds weggevreet. Om die tiet te suig, het sy haar verhemelte en tong gebruik, maar melk was nie meer genoeg om haar gewig te laat optel nie.

Sy moes vaste kos begin vreet om sterk te word. Met ‘n plastiese teelepel het ek begin om ná elke bottel, ‘n paar happies voer in haar bekkie te sit tot een dag, toe ek weer ‘n bakkie voer voor haar hou . . . en sy self begin vreet met ‘n baie seer bekkie, halwe bolip en oop tandvleis. In die volgende dae het Dapper begin gewig optel.


‘n Blakend gesonde Dapper word soms nog met ‘n bottel bederf by haar nuwe huis

Toe die infeksie weg is, kon Dapper vir die eerste keer buite in die son wees en het sy dit geniet! Bokspring en hardloop van blydskap op die grasperk. Nou was daar nog net een probleem – ek kon Dapper nie meer huisves nie.

Uit die bloute maak ‘n onbekende vrou met my kontak. Sy is op soek na ‘n lammetjie om met ’n bottel groot te maak as ‘n maat vir haar hanslam. Dapper was gesond en gereed om na dié nuwe huis te gaan, waar sy deel van ‘n huishouding kan wees, maar ook ‘n skaapmaatjie kan hê.

Die les wat Dapper my geleer het is: Hou moed; bid sonder ophou; en vertrou ons Hemelse Vader.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Julie 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger