So sit hy in sy spoor en trap Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Friday, 17 July 2020 14:39
Untitled Document

Dis nou alles goed en wel dat graad van inhokking só verslap is dat die kindertjies trop-trop weer kan skool-loop, sê Gert Mossie. Maar hy kan nie help om te wonder wat die stomme outjies nou pouses gaan doen, as hulle niks het om agter die pawiljoen te rook nie . . . Hy glo nie skool-laaities kan die Pakistani-produkte bekostig nie.

Van een ding is hy baie seker, sê Grootpiet. En dit is dat die ‘oop’ skole groot vreugde en verligting vir ‘n magdom ouers gebring het en dat einste ouers voortaan baie, baie meer waardering vir en simpatie met die werk en beproewing van onderwysers gaan hê.

Gert en Grootpiet sit in die Ford-kar voor hulle gewone watergat en wag vir hulle wegneem-kos. Die inhokking is knap ook verslap tot op ‘n vlak waar jy self die wegvat van jou wegvat-ete kan doen, sonder die vrees vir ‘inperking’ agter tralies. Jy kan nou selfs binne in die kuierplek loop aansit, maar die belangrikste komponent van ‘n saamkuier bly buite perke ingeperk: Jy mag nie alkoholiese verversings in die drinkplek skink en drink nie.

Dié onverstaanbare en tragiese verbod op ‘n bruisdrankie in die bruisdrankie-winkel, is een van die redes hoekom die twee vriende in die kar voor die kuierplek sit en wag. Die ander rede is dat hulle nie kans sien vir ‘n gesukkel om verby of deur ‘n masker te moet eet nie.

Hy dink, sê Gert, hy verstaan nou hoe die stomme Moses moes voel toe hy ná al die jare se moeite voor die ingang na die land van melk en heuning moes agterbly. Só sit hulle nou hier voor die ingang van die land van glasies-klink-en-kuier, maar die genot daarvan is hulle nie beskore nie.

Ja, dis soos die rakbie, sê Grootpiet. Dit was in die begin nogal lekker om weer al die heruitsendings te sien van die Bokke en selfs die Bulle se wedstryde wat ons gewen het, maar ook daarvoor raak jy moeg. En naderhand, soos die rakbieloosheid voortgesleep het, het hulle begin om verloorwedstryde te wys wat glad nie vir hom lekker is nie. Hy vang homself terloops gereeld, as hy Covid-19 hoor of lees, dat hy dadelik dink: Bulle-0 . . .

Ou en aangename gewoontes raak jy nie sommer van ontslae nie, sê Gert Mossie. Só loop sit hy maar Saterdae smiddae en snags met rugbykyktyd voor die kassie – deesdae darem met ‘n wettige ietsie in die hand. Nou, dis met hierdie voortslepende gewoonte dat hy iets erg vreemds van ons skrywers en TV-program-makers agterkom. Ons mense het, kan jy maar sê, die spoor byster geraak as dit by die kies van name vir hulle stories en programme kom. Hulle het lyk hom ‘n ‘spoor’ geruik, hom gevat en bly vasberade aangespoor om die woord iewers in ‘n titel in te span, sê Gert.

In ‘n enkele aand se normale rugbykyk-tyd sien hy programme met name soos: ‘Spoorloos’, ‘Op seer se Spoor’, ‘Diep Spore’, ‘Spoorsny’, ‘Dwaalspoor’, ‘Voetspore’ en wie weet nou weer wat nog? Sal seker maar saam met my vrou so sittend in my spoor moet bly trap, tot die rugby weer op spoor is, sê Gert.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Julie 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger