Brand jy van nuuskierigheid om te sien of daar dalk koeëldoppies uit die Engelse Oorlog op jou kleinhoewe of plaas begrawe lê? Of wat van ou kanondoppe, muntstukke en knope van uniforms?
Garsfonteiner Bryan Fenton het Die Bronberger gekontak ná hy die toeka-stories oor die blink Barnards van Boschkop, hulle ou huis en begraafplaas gelees het. Bryan, wat in Skotland gebore is, stel belang in Britse en Suid-Afrikaanse artefakte en het onlangs ‘n metaalverklikker aangeskaf wat hom help om metaalvoorwerpe uit toeka se dae op te spoor.

Bryan Fenton
Foto: Facebook
Die Bronberg-gebied is ryk in geskiedenis en twee veldslae in die Engelse Oorlog het in ons kontrei afgespeel. In April 2003 het ons vir die eerste keer berig oor metaalvoorwerpe, wat uit die Engelse Oorlog dateer, wat in ons gebied gevind is. Wyle oom Francois Annandale van Nkwe, wie se familie sedert 1895 op Tierpoort bly, het vir ons die voorwerpe gewys wat hy as kind uit verskansings in die Bronberg gekry het.
“Is daar dalk ’n manier wat ek by mense in die omgewing kan hoor of ek naby murasies of ander ou oorlogplekke op die plotte en plase met my metaalverklikker kan ‘vee’,” vra Bryan.

Deel van ’n kanon-rondte se dop uit die Boschkop-omgewing
Foto: Bryan Fenton
“Alles wat ek vind sal vir Die Bronberger gegee word om stories oor te skryf en die spesifieke grondeienaar kan alles wat ek vind kry om dit in sy kroeg of op sy perseel uit te stal,” sê hy.
Bryan verduidelik dat hy self net foto’s van die items wat hy vind, wil hê. Hy het onlangs met dié stokperdjie begin en is vuur en vlam om die gebied te fynkam. Hy is meeste naweke iewers in die Boschkop- en Cullinan-omgewing besig om met sy verklikker te ‘vee’ of om vis te vang.

Voorwerpe wat wyle oom Francois Annandale van Nkwe as kind uit verskansings in die
Bronberg gekry het
Grondeienaars wat wonder of daar versteekte skatte op hulle plotte of plase is, kan Bryan by 082-468-2028 bel of stuur ‘n e-pos:
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
. |