Motoriste wat in die nag op die Ou Bronkhorstspruitpad (R104) in die Donkerhoek-omgewing ry is in Junie gewaarsku dat skerp voorwerpe in swart asbliksakke op die pad geplaas word om voertuie se bande te beskadig.
Woordvoerder vir die Boschkopse Polisiestasie, adjudant-offisier Cobus Ras, het gesê dat motoriste beroof word sodra hulle stop. Hy het gesê dat mense nie langs die pad moet aftrek nie, veral nie naby of onder ‘n brug nie. Ry so ver as jy kan tot by die naaste veilige plek, het hy gesê.
Verlede jaar het ons berig dat daar verskeie misdaad-voorvalle in dieselfde omgewing naby die Donkerhoek/Boschkop-afrit van die N4-Oos snelweg was. ‘n Man is in die kop geskiet nadat hy van die snelweg afgetrek het omdat sy motor se band deur ‘n stuk metaal beskadig is.

Skerp voorwerpe in swart asbliksakke op die Ou Bronkhorstspruitpad
Foto: Facebook
Klippe en stukke beton is in ander gevalle vanaf dié afrit se brug op verbygaande voertuie gegooi.
Ons het ook vroeër berig dat verskeie voertuie se bande in die nag tussen die N4-Oos snelweg se Cullinan/Rayton-afrit en die Diamond Hill tolplaza beskadig is. ‘n Vrou wat in ‘n oostelike rigting op dié snelweg gery het, het berig dat sy oor twee onbekende hindernisse gery het en twee pap wiele gekry het.
Sy het besluit om nie stil te hou nie en het deur die tolhek gery en by The Rose vulstasie aangedoen om na die skade te kyk. By dié vulstasie het sy vier ander voertuie met beskadigde bande gevind. |