Boschkop-polisiestasie se bevelvoerder, die 55-jarige luitenant-kolonel Raymond Monyai, is Sondagaand 5 Julie weens Covid-19 oorlede.
‘n Erewag ter afskeid is op 8 Julie vanaf 10 vm by die Boschkopse Polisiestasie gehou. Voertuie van die polisie, veiligheidsondernemings en van GPF-lede, is weerskante van die Boschkoppad geparkeer en mense het voor hulle voertuie gestaan.
Die metropolisie het die familie na die polisiestasie begelei, waar blomme oorhandig is en ‘n gebed gedoen is.

Op pad na die Boschkop-polisiestasie
Foto: Wynand van der Merwe
Majoor-generaal Mthombeni, die Tshwane distrikskommissaris, het op 6 Julie ‘n verklaring uitgereik oor lt kol Monyai se afsterwe. Hy sê dat lt kol Monyai op 10 Junie gerapporteer het dat hy nie goed voel nie. Hy het daardie oggend ‘n vergadering met die stasiebestuur gehad en die nodige prosesse is gevolg.
Lt kol Monyai het dokter toe gegaan en het siekeverlof gekry. Hy het nie beter geword nie en is hospitaal toe waar hy op 17 Junie vir Covid-19 getoets is. Sy resultate was op 20 Junie beskikbaar en het aangedui dat hy die virus het.
Op 21 Junie het die Boschkopse Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ‘n verklaring uitgereik wat sê dat die Boschkopse Polisiestasie toegemaak het om ontsmet te word ná ‘n Covid-19 geval aangemeld is. Alle dienste van die kliëntedienssentrum is vanuit die vuurwapenkantoor by dié stasie verrig.

‘n Deel van die erewag
Foto: Wynand van der Merwe
Alternatiewe telefoonnommers om die Boschkopse Polisiestasie te bereik is: 071-675-7350; 071-675-6207; en 071-675-5502.
Volgens die woordvoerder vir die Gautengse kantoor van die provinsiale kommissaris, brigadier Mathapelo Peters, het lt kol Monyai in 1995 as ‘n algemene assistent by Pretoria-sentraal begin werk, waar hy ‘n toekenning as beste algemene assistent ontvang het. Daarna het hy ‘n konstabel geword en is twee jaar later tot sersant by Sunnyside se stasie bevorder.

Luitenant-kolonel Raymond Monyai
Foto: Verskaf
Hy het in verskeie afdelings by verskillende polisiestasies in die distrik gewerk en etlike medaljes is oor die jare aan hom toegeken. Lt kol Monyai het in 2017 stasiebevelvoerder van die Boschkopse polisiestasie geword.
Kollegas onthou dié gewilde bevelvoerder vir sy slagspreuk, ‘emosionele belegging’, wat hy in diens van die gemeenskap uitgeleef het. GPF-woordvoerder, Jean Jonker, het gesê dat hy ‘n sterk verhouding met die gemeenskap gebou het en daarin geglo het om ook ‘n goeie vennootskap met die GPF en private sekuriteitsdienste op te bou.
Lt kol Monyai is op 11 Julie in Montana begrawe.
~*~
Op 6 Julie is die Cullinan se polisie-speurdienstegebou tydelik toegemaak om ontsmet te word weens ‘n Covid-19 verwante voorval. Die telefoonlyne in dié gebou sou tydelik nie beman word nie en die publiek is gevra om die stasiebevelvoerder by 082-822-6329 te bel vir alle sake wat deur die speurdienste hanteer moes word. |