Hier is hy! En dis ‘n dubbeldoor: Die glanspapier-weergawe van die Bronnie is weer vir sy lesers beskikbaar en die eerste keer in Die Bronberger se bestaan van bykans 18 jaar, word die papier-uitgawe saam met die elektroniese Bronnie beskikbaar gestel. Hieroor is ons baie opgewonde en vol vertroue dat dit nie net met die voortbestaan in baie vreemde en onstuimige tye sal meehelp nie, maar ook kan lei tot grootskaalse groei en verbetering.
Een feit waaroor ons baie opgewonde en dankbaar is, is dat die Bronnie weens die elektroniese-pad waartoe ons gedwing is om te loop, reeds ‘n groot groep nuwe en geesdriftige lesers bygekry het. Vir ons gereelde en hopelik ook nuwe adverteerders is dit sommer baie goeie nuus. Dit is reeds oor die jare heen bewys dat Die Bronberger se getroue lesers ‘n punt daarvan maak om hulle gunsteling gemeenskapspublikasie se adverteerders te ondersteun.
Soos dit nog altyd was, is dit die voorneme dat die Bronnie gratis sal bly. Dit geld die ‘papier-Bronnie’ en ook die elektroniese een.
Die publikasiewese het die afgelope tyd ‘n geweldige en skokkende omwenteling in ons land ervaar. Bekende en gewilde tydskrifte en koerante wat oor baie jare heen stewig gevestig was, het bloot verdwyn, het saamgesmelt of, in ‘n paar gevalle, die elektroniese opsie gekies. Maar ook hiervoor sal lesers moet opdok.
Ons was tot nou toe geseënd om deur die kringloop van ondersteuning deur adverteerders en lesers gratis te bly. Die Bronnie het ook nie hoofbestuurders en ander grootkoppe wat dermiljoene aan salarisse ‘verdien’ nie.
Ja, soos dit in die huidige ekonomiese mallemeule van ons land met baie ander ondernemings die geval is, verg dit op die oomblik soms ook hier by ons ‘n gespook om kop bo water te hou.
Ons is bewus van ‘n sekere elektroniese nuusdiens en ook ‘n radiostasie wat die ‘nuus’ gratis aan hulle ondersteuners bring, maar hulle vra tog vrywillige bydraes om hulle ondernemings op die been te hou.
Durf ons hier by die Bronnie iets dergeliks doen? Sou dit ongehoord van wees om byvoorbeeld van lesers te vra om net ‘n bedraggie, soos wat hulle gewoonlik vir ander tydskrifte sou betaal, as vrywillige ‘donasie’ af te staan . . . ? |