Twak loop ‘n lang reklame-pad tot by verbod Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 17 June 2020 14:49
Untitled Document

Angie Kleijn

Op die spoor na die veel bestrede rookverbod, praat ons ‘n bietjie twak en volg die tabakroete na sy ontstaan. Behalwe vir sigaretadvertensies uit die 1960’s, waar selfs dokters sigarette aanbeveel het en tabak vir ‘n verskeidenheid kwale, vanaf asma tot hooikoors, aanbeveel is, wys ons ook hoe twak-advertensies uit die 1800’s en 1900’s gelyk het.

In die proses kyk ons terug na handelsmerke wat nie meer bestaan nie, soos Cavalla wat in die 1950’s glo een van die gewildste sigarette in Suid-Afrika was met slagspreuke soos: “Ek rook Cavalla, want ek rook wat ek wil” en “Besig of ledig, Cavalla bevredig”.


‘n Latere Rembrandt-advertensie – “Room van die oes”
Foto: Matieland, Desember 1980

Dan was daar Lexington se “na aksie . . . satisfaksie” en Rembrandt van Rhyn se “elke sigaret ‘n meesterstuk” wat in die volksmond omgeskakel is na “elke hoes ‘n meesterstuk”. Deesdae is handelsmerke soos Kommando, Springbok, Flag, Max, CtoC, Gold Leaf, Oval, Embassy, Viceroy, Texan, Du Maurier, Westminster 85, Ransome, Lucky Strike en Gold Dollar iets van die verlede.

Selfs huidige handelsmerke het bykans in die vergetelheid verdwyn toe onwettige sigarette in grendeltyd begin seëvier het. Suid-Afrikaanse rokers sê dat die tabakverbod, wat smokkelhandelaars ryk maak, sweerlik die enigste in die wêreld is, maar minister Dlamini-Zuma het gesê dat lande soos Botswana, Indië en Israel soortgelyke stappe geneem het. Die verbod in dié lande is egter relatief vinnig opgehef.


Die advertensie sê dat meer dokters Camel rook as enige ander sigaret
Foto: tablites.com


Dié sigaret-advertensie kom
uit die 1900’s
Foto: vintageadbrowser.com

Verbod
In die geskiedenis is daar hordes voorbeelde van ‘n rookverbod op spesifieke plekke, soos kerke. Een van die vroegstes was in 1575 toe die Rooms Katolieke Kerk die gebruik van tabak in kerke in Mexiko, die Spaanse kolonies en in die Karibiese See verban het. Pous Urban VII het ook die gebruik van tabak, of dit nou rook, pruim of snuif was, in of naby enige kerkgebou verbied.


Dié advertensie vir Kommando kom uit die Ossewa Brandwag, 29 Junie 1949: “U oë mag u bedrieg, maar u kan staat maak op u smaak”
.


Oorgewig? Dan is Trim-sigarette die oplossing vir jou
Foto: allthatsinteresting.com
.
.
.

Rusland het tabak vir 70 jaar, vanaf 1627, verban. Die Ottoman Sultan Murad IV het ‘n stappie verder gegaan: In 1633 het hy rook op enige plek in sy ryk verbied en het rokers summier tereggestel.

Die vroegste Europese rookverbod was in die laat 17e eeu in Bavaria, Kursachsen en sekere dele van Oostenryk. Rook is in 1723 in Berlyn verban, in 1742 in Königsberg en in 1744 in Stettin. Dié verbannings is eers in die revolusies van 1848 opgehef.


Om slank te bly – “Reach for a lucky instead of a sweet”
Foto: allthatsinteresting.com

Lexington: “Na aksie . . . satisfaksie”
Foto: Pinterest

In die staat Washington in Amerika is ‘n wet in 1893 afgekondig wat die verkoop van sigarette onwettig gemaak het. Dié wet is die volgende jaar Julie nietig verklaar, maar die Staatswetgewer het nog ‘n wet, wat sigarette verbied het, in 1907 afgekondig. Twee jaar later is nog ‘n strenger wet afgekondig, wat die besit sowel as die verkoop en vervaardiging van sigarette en sigaretpapier onwettig verklaar het. Dié verbod is eers in 1911 opgehef.


Kan jy glo dat 20 679 dokters gesê het Lucky Strike beskerm jou keel teen irritasies en hoes?
Foto: allthatsinteresting.com

‘n Tandarts beveel Viceroys-sigarette aan
Foto: allthatsinteresting.com
.

Plant
Die tabakplant, Nicotiana tabacum, groei wild in baie lande, maar die meeste plante in die tabakgenus kom van Suid en Sentraal-Amerika, van waar dit na eilande in die Stille Oseaan, Noord-Amerika en Australië versprei het.

Toe Columbus in 1492 in Amerika geland het, het die Indiane fyngevryfde blare, waaraan hulle medisinale waarde geheg het, by seremoniële byeenkomste gerook. Tabak is juis aanvanklik as ‘medisyne’ in Europa bekendgestel.


Die advertensie vir “Springbok die Sportman se Sigaret” kom uit die Ossewa Brandwag, 19 Mei 1948
.

Dié Kommando-advertensie kom uit ‘Die Wapad – Studenteblad van die PU vir CHO’, 18 April 1956
.

Marlboro sê jy moet jou baba se rook-advies volg
Foto: ranker.com
.

Saam met, onder meer, tamaties en aartappels, behoort die tabakplant tot die familie Solanaceae. Baie plante uit dié familie is ryk aan alkaloïede en tabakblare bevat ook nikotien en nikotianien.

Het jy dalk gewonder hoekom dit ‘nikotien’ genoem word of hoekom die plant Nicotiana tabacum genoem word? Die plant is vernoem na die Franse gesant in Portugal, Jean Nicot de Villemain, wat van 1530 tot 1600 gelewe het. Hy het die plant na Frankryk ingevoer.


Dié verpleegster hou van hulle ‘vars’
Foto: ranker.com

Die Enchanter-tabakadvertensie kom uit die 1870’s
Foto: vintageadbrowser.com

Tabakpoeier is gesnuif, dit is in pype gerook en stukkies daarvan is gekou (pruim). Sigarette het veel later – in die 1800’s – gewild begin raak. Dit is aanvanklik met die hand gerol en massaproduksie het eers in 1884 begin. Sigaretrook het ná die Eerste Wêreldoorlog geweldig toegeneem in Europa.


Dié ‘Gay Boy’ sigaar-advertensie kom uit die 1890’s
Foto: vintageadbrowser.com
.

“Voor ma met my raas, steek eerder ‘n Marlboro aan”
Foto: ranker.com

’n Topsy Tobacco-advertensie uit die 1800’s
Foto: vintageadbrowser.com
.

Plaaslik
Voor Jan Van Riebeeck aan die Kaap geland het, het die Khoi reeds tabak gebruik. Gevolglik was dit ‘n gesogte ruilmiddel en die Hollands-Oos-Indiese Kompanjie wou graag die monopolie van dié handel met die Khoi behou.


Alles verloop klopdisselboom met jou neus, keel en bykomende organe as jy Chesterfield rook,
sê hierdie advertensie
Foto: allthatsinteresting.com

Burgers is glad nie toegelaat om tabak te verbou nie. Hulle kon wingerde of koring aanplant, maar die opbrengs kon slegs aan die kompanjie verkoop word en dit teen ‘n vasgestelde prys. Die burgers se ekonomiese bedrywighede is aan bande gelê om te verseker dat die verversingspos aan die Kaap betalend sou wees.


Chesterfield – so suiwer soos die water wat jy drink . . .
Foto: allthatsinteresting.com
.

Rembrandt: “Elke Sigaret ‘n Meesterstuk”
Foto: Ossewa Brand, 29 Junie 1949

Later dekades het vryburgers tabak geplant en die produk self verwerk, maar dit is eers so 200 jaar ná Jan van Riebeeck dat dié boerdery vlamgevat het. Teen 1876 was 40 000 hektaar grond met tabak beplant, wat ’n jaarlikse oes van sowat 40 miljoen kg gelewer het.


Dié advertensie vir ‘Little Katy Chewing Tobacco’ kom uit die 1880’s
Foto: vintageadbrowser.com

Dié advertensie vir ‘Carolina Belle Scotch Snuff’ kom uit die 1880’s
Foto: vintageadbrowser.com

Daar was streng reëls oor die koop en verkoop van tabak, soos Thomas William Beckett, een van Pretoria se eerste handelaars, gou agtergekom het. Hy het in 1874 in Pretoria aangekom en sy winkel het wol, velle en ander produkte verkoop. Thomas het egter die markwette oortree deur tabak direk van die boere te koop in plaas van op die mark.


‘Die Volksblad’ het oor baie dekades (meer as 50 jaar) ’n baie gewilde rubriek gehad: Stop van myne

Hy is skuldig bevind en ‘n boete van sewe sjielings en ses pennies is hom opgelê. Die boete kon so hoog as 500 Riksdalers gewees het, maar die landdros was hom genadig omdat dit ‘n eerste oortreding was.


Vir jou gesondheid: Sigarette wat onder andere asma verlig. Dit word nie aanbeveel vir kinders onder ses jaar oud nie
Foto: ranker.com

Dié sigarette genees glo bykans enige iets – van slegte asem en alle keelsiektes tot hooikoors, verkoue en asma
Foto: allthatsinteresting.com

Rook soos ‘n gewone sigaret, maar trek baie dieper in – tot by jou ‘brongiale buise’ – om asma te behandel
Foto: allthatsinteresting.com

Die eerste tabakfabriek in Suid-Afrika is in 1882 op Oudtshoorn geopen en knap 22 jaar daarna, in 1904, was daar ’n uitgebreide tabakboerdery dwarsoor die land. Die Rustenburgse tabakkoöperasie is in 1909 gestig en tradisioneel is die meeste tabak in die ou Transvaal verbou.


Sy was te moeg vir pret . . . en toe rook sy ‘n sigaret
Foto: allthatsinteresting.com

Een van die vroeë erwe wat in Pretoria uitgelê is, het ‘n latere verbintenis met tabak gekry. Erf 231, Vermeulenstraat se eerste eienaar was die Hollandse kaptein, Johan Marinus Struben. Hy het dié erf op 14 Maart 1865 verkoop en die eiendom het male sonder tal van eienaar verwissel tot Leendert Te Groen in 1920 sy sigaretfabriek daar begin het. Die outydse geboutjie noordoos van Kerkplein pronk vandag steeds met die naam ‘Eureka Sigaretfabriek’.


Winston word vir swanger vrouens aanbeveel: “Wanneer jy vir twee rook”
Foto: ranker.com
.

Die advertensie met die rokende seuntjie is op
5 Julie 1922 in ‘Punch, or the London
Charivari’ geplaas
Foto: ranker.com

Selfs die Universiteit van Pretoria se dekade-lange gelukbringer, Oom Gert, het ‘n verbintenis met tabak. Dié groter as lewensgrootte houtpop met sy verslete hoed en baard was eers ‘n advertensie-standbeeld vir Springboktabak. Hy is in 1929 deur studente voor die Van Erkoms Tabakwinkel in Pretoriusstraat gegaps waar hy met ‘n sak tabak en ‘n pyp in sy regterhand gestaan het.


Tipalet: “Blaas in haar gesig en sy sal jou
oral volg”
Foto: ranker.com

Kersvader rook Lucky Strike
Foto: ranker
.

Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Junie 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger