Ystervarke aktief in Garsfontein Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 17 June 2020 14:48
Untitled Document

Twee ystervarke het hulle nie in dié tyd laat inperk nie en is op ‘n roetekamera in Serene Valley, Garsfontein vasgevang.

Voorsitter van die Vriende van Serene Valley, Carol Martin, het gesê dat die Vriende baie bly was om dié onverwagte besoekers te sien. Serene Valley, soos alle munisipale reservate in die gebied, is met grendeltyd gesluit.

Dié vallei is rofweg in die vorm van ‘n ‘Y’ langs die Moreletaspruit met Serenestraat in die noorde, Hans Strijdomrylaan (Solomon Mahlangu) in die suide en Gildastraat in die weste. Die kort arm van die ‘Y’ loop langs die Constantiaspruit van Velddriftstraat in die weste tot waar dit by die Moreletaspruit aansluit.


Die ystervark
Foto: Camera Trap

Met die sluiting van die stroke rondom spruite, veral die Moreletaspruit, het misdaad in grendeltyd geweldig toegeneem. Garsfontein-polisiestasie se woordvoerder, Duane Lightfoot, het gesê dat dié stasie bekommerd is oor die toename in voorvalle waar misdadigers eiendom wat aan die Moreletaspruit grens teiken. Wanneer misdadigers betrap word, vlug hulle terug na die verlate spruitgebied, het hy gesê.

Duane het gewaarsku dat mense wat in komplekse langs die Moreletaspruit woon, ekstra waaksaam moet wees. Hulle moet toesien dat die omheining gereeld nagegaan word vir skade en dat sulke skade dadelik herstel word.

Inwoners sê hulle hoop dat misdadigers wat langs spruite skuil nie strikke stel om die ystervarke, wat onlangs opgemerk is, te vang nie. Ystervarke het vaste gewoontes, en een daarvan is om altyd op dieselfde paadjies te loop. Dit is ongelukkig ook hoekom hulle so maklik in slagysters gevang word.

Langs ystervarkpaadjies sal ‘n mens altyd vlak uitgrawings sien waar hulle agter plantwortels en bolle aan gegrou het.


Die twee ystervarke wat op ‘n roetekamera in Serene Valley, Garsfontein vasgevang is
Foto: Roetekamera, verskaf deur Carol Martin

Die ystervark is ‘n nagdier en lê gewoonlik in die dag tussen rotse, in tonnels of ruig beboste gebiede.

As ‘n mens dink dat jy op ‘n ystervarkskuiling afgekom het, is daar een manier om seker te maak. Sy skuiling lê gewoonlik vol halfgekoude bene. Die kenners sê dat ystervarke aan bene kou vir die minerale inhoud daarvan en om hulle lang voortande skerp te hou.

Met sy lang swart-en-wit penne is die ystervark, Hystrix africaeaustralis, onmiskenbaar. Hy is die grootste knaagdier in suidelike Afrika met ‘n lengte van 75–100 cm, ‘n stert van 10–15 cm en ‘n massa van 10–24 kg.

Ystervarke het ‘n breë kop en snoet met klein varkagtige ogies en klein ronde oortjies. Hy het kort, dik bene met vreeslike kloue aan sy voete. Sy stert het ‘n hele aantal hol penne met oop punte wat hy teen mekaar kan laat vibreer sodat die ritselgeluid as waarskuwing dien wanneer hy bedreig word.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Junie 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger