Met vandag se dreigende tekort aan hospitaalbeddens, kyk ons na Junie 120 jaar gelede toe die onvoltooide Paleis van Justisie met beddens ingerig is om gewonde soldate te huisves.
Teen Junie 1900 in die Engelse Oorlog het Pretoria onder Britse militêre heerskappy geval en die Paleis van Justisie is opgekommandeer om as hospitaal te dien.
‘n Mens sou dink dat so ‘n onvoltooide gebou nie ideaal as hospitaal kon wees nie, maar Lady Elizabeth Briggs, wat ‘The Staff Work Anglo-Boer War’, wat in 1901 deur Grants Richard gepubliseer is, geskryf het, vertel dat die hospitaal ruim sale gehad het wat lig en goed geventileer was.
Dié skildery van die Paleis-hospitaal is deur Frans Oerder en hang in die Museum Africa
in Johannesburg
Bron: Rosa Swanepoel-versameling
Sy skryf dat die groter sale almal die name van generaals of weldoeners gedra het. Die sentrale saal, met sy majestueuse pilare en kollonnades, was die een wat ‘n onvergeetlike indruk op haar gemaak het. Dit was die Victoria-saal, pragtig in sy grootsheid met effekte geskep deur die gekleurde glas-plafon, die helder rooi komberse op die beddens en die uniforms van die verpleegpersoneel.
Die Engelse Oorlog het groot opspraak oorsee verwek en verskeie lande, genootskappe en individue het hospitaalskepe, hospitaaltreine en mobiele hospitale hierheen gestuur. MacBride se Ierse brigade het saam met die Boere geveg en die Ierse Lord Iveagh het ‘n 100-bed hospitaal, bekend as die Ierse hospitaal, kompleet met sy eie vervoer, hierheen gestuur.
Binne-in die Paleis-hospitaal
Bron: Rosa Swanepoel-versameling
Die hospitaal was onder leiding van Sir William Thompson met dr George Stoker as die assistent hoof chirurg. Hulle is deur vier siviele chirurge, vier verpleegsters en verskeie ambulanslede bygestaan.
‘n Gedeelte van dié hospitaal het die 11de divisie se opmars na Pretoria meegemaak en het op
14 Junie 1900 by die onvoltooide Paleis van Justisie ingetrek. Op 19 Junie is 83 pasiënte daar opgeneem.
Die foto deur Jan van Hoepen lees: Paleis van Justisie; Ierse Hospitaal; Pretoria, September 1900
Bron: Rosa Swanepoel-versameling
Die res van die Ierse Hospitaal, wat in Bloemfontein agtergebly het, het op 1 Julie daar aangekom.
Dié hospitaal was bekend as die Paleis van Justisie Hospitaal of the Ierse Hospitaal en is op
11 Julie amptelik deur Lord Roberts geopen. Teen die einde van Julie het die hospitaal tot 500 beddens uitgebrei.
Verpleegpersoneel by die gewondes in die sentrale saal
Bron: Rosa Swanepoel-versameling
Die Ierse hospitaal-personeel het op 15 Oktober 1900 vertrek en 180 pasiënte onder militêre mediese sorg agtergelaat.
Die foto van die Paleis-hospitaal se buitekant is geneem deur Jan van Hoepen, een van die fotograwe wat in dié oorlogtyd in Pretoria aktief was. Hy is op 27 Februarie 1856 in Veere, Nederland gebore en het Suid-Afrika sy tuiste gemaak tot sy afsterwe op 11 Desember 1922 in Bloemfontein. |