Die lewe gaan voort . . . Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 17 June 2020 14:44
Untitled Document

Buks Barnard

Dit sou na al die jare my eerste besoek aan my ou skooldorp wees. Nie een keer op pad soontoe het ek aan Sophista Kaltwasser gedink nie. Om die waarheid te sê, nie een keer in al die jare het ek aan haar gedink nie.

Op skool was sy buitendien op alle gebiede ver buite my verwysingsraamwerk. As boerseun van die plotte was ek destyds nog op die ontwikkelingstrap waar ek meer belanggestel het in perde, rugby en tarentale jag, maar ek het gesien hoe die groter seuns die een na die ander by Sophista ‘n bloutjie loop.

Ek het wel aan ander karakters uit my skooldae gedink soos ek nader aan my ou tuisdorp gekom het. Daar was Gysie de Jonge wat ‘n stuk karbied in die siekekamer se wasbak aan die brand gesteek het en so byna die skool afgebrand het. Sou ek hom dalk vandag in die ou dorp raakloop?

Want ek het spesiaal my tyd so beplan dat ek hierdie keer nie soos altyd net sou verbyjaag nie – ek sou ‘n paar uur rondkyk of die bekende plekkies nog bekend lyk . . . en dalk loop ek van die ou gesigte raak.

Wat sou van Ferdie Els geword het wat soos ‘n vlakhaas met die rugbybal onder die arm kon hol en al die pad doellyn toe die verdedigers uitdaag: “Tjek my nou! Vang my! Vang my!”?

Of my vriend, Gawie Pieterse, wie se perd hom reg voor die pawiljoen by die skou afgesmyt het . . . maar toe kom hy wonderbaarlik op sy voete te lande en staan verdwaas en rondkyk terwyl die rasende skare hom toejuig onder die indruk dat dit ‘n opsetlike toertjie was.

Sou ek dalk die fris buksiemeisietjie (wat was haar naam nou weer?) raakloop wat so bekwaam saam met ons seuns kennetjie gespeel het?

Ek het selfs gedink aan Marlien Greyling wat saam met my matriekafskeid toe was en aan wie ek die eerste keer gevoel het hoe dit voel om ‘n meisiekind vas te vat en te flieksoen. Maar aan Sophista Kaltwasser het ek nie gedink nie – sy was heeltemal bo my klas; eintlik bo ons almal se klas. Want Sophista was baie, baie mooi – so mooi en so ryp soos ‘n skooldogter eintlik nie moes gewees het nie. Met haar blink, donker oë en gitswart golwende hare het sy statig in die skoolgange gesweef; altyd met net ‘n sweem van ‘n meerderwaardige glimlaggie om haar volmaakte mond.

Van die groter seuns het met haar probeer geselsies aanknoop, maar glimlaggend het sy die rug op elkeen gedraai en nie een van hulle met ‘n enkele woord begunstig nie. Selfs die jong mansonderwysers moes by Sophista mooitjies hulle plek ken. Maar daaraan het ek nie gedink toe ek my ou dorp binnery nie.

Alles was anders. Die eens pragtige middedorp was vuil en moeg en niemand wat ek ken sou daar inpas nie. Alles was anders en terneerdrukkend.

Op die rand van die dorp was ‘n nuwe inkopiesentrum. Daar het ek in die winkels rondgeloop, vergeefs soekend na een bekende gesig, maar helaas.

Uiteindelik moes ek aanvaar dat die verlede verby en onterugwinbaar is. Met ‘n koeldrank uit die supermarkyskas het ek in die kasregisterry gaan staan, gereed om die ou dorp se stof van my voete te skud.

En dis net daar dat iets my vir die eerste keer sedert skooldae aan Sophista Kaltwasser laat dink: die ou tannie voor my in die ry toon ‘n onmiskenbare familietrek, nieteenstaande haar goedbeboude postuur, haar dubbelken, haar moesie, haar spekwange en haar haarslierte wat swart aan die punte, maar grys aan die wortels is.

Dit kan tog wees, dink ek, dat ek darem iets van iemand uit my skooldae sal kan verneem. Ek staan nader en vra met die nodige eerbied: “Verskoon my, Tannie – is Tannie nie dalk Sophista Kaltwasser se ma nie?”

Die fynbesnorde bolip trek op. Die flou oë word skrefies. Die kneukels raak wit op die winkelwaentjie se vatsel. En dan sis die tannie tussen haar tande deur met al die venyn wat sy in haar stem kan monster: “Ek ís Sophista Kaltwasser.”


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Junie 2020 in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger