Pierre Breytenbach, bekende akteur, aanbieder en komediant van die Bronberg-gebied, het hom oor twee laerskoolkinders ontferm in ‘n gewapende roof, waar ongeveer R1 miljoen se toerusting gebuit is.
Die drama op 23 Mei het begin toe nege gewapende mans by Fritz de Jager se Bottomside Studios in Lynnwood Glen opgedaag het. Pierre was daar om sy rekenaar te laat opdateer en Fritz se graad drie dogtertjie, Hanna, en graad vyf seuntjie, Riekert, het in die ateljee gespeel.
Die hekke is vir ‘n wit Audi oopgemaak omdat besoekers verwag is. Daarna het Pierre van binne af gehoor hoe ‘n vuurwapen oorgehaal word. Hy het Fritz en Morné Lourens, wat saam met Fritz werk, buite op die grond sien lê.
Van die gewapende rowers het die ateljee binne gestorm en ‘n wapen teen Pierre se kop gedruk. Hy is gedwing om te lê en Hanna het langs hom gaan lê. Pierre het vir die rowers gesê dat daar ‘n seuntjie speel en gevra dat hulle hom na Pierre moet bring en asseblief niks aan die kinders moet doen nie.

Pierre Breytenbach en sy vrou, Anzel
Foto: Facebook
Daarna het Pierre vir die rowers gevra of hy en die kinders in die badkamer kan gaan lê sodat hulle uit die pad kon wees. Hy het voor die badkamerdeur gelê om die kinders te beskerm en het die heeltyd kalm met hulle gepraat.
Die rowers het rekenaars, insluitende Pierre se rekenaar en horlosie, asook kameras, klanktoerusting, mengbanke en grootskerms gesteel. Hulle is in drie voertuie daar weg: Die wit Audi, hulle Nissan NP200 en ’n paneelwa, wat aan mense behoort wat saam met Fritz by die ateljee werk.
Die leë paneelwa is later naby Mamelodi gevind. Die rowers is nog nie gevang nie.
Die volgende oggend was Pierre weer op sy pos as sanger vir die NG gemeente Tygerpoort se aanlyn-kerkdiens.
Pierre is die oudste seun van Nico en Lynette Breytenbach, wat die restourant by Kitty Hawk Luglandgoed op Boschkop bedryf. Hulle is ou bekendes in die gebied en het in die vroeë 2000’s Nikos restourant in die Zwavelpoort-sentrum bedryf. Lynette was ook vir jare by die Kungwini Welsynsorganisasie doenig. |