Dit is net die wyfie van dié roofvoël wie se roep so hard is dat dit van ver af gehoor kan word. Sy fluit net in die broeityd so hard en is omtrent 30% swaarder as die mannetjie wat in dié tyd nader geroep word om lewenslank haar maat te wees.
Die Afrikaanse vleivalk, Circus ranivorus, ook bekend as die Afrikaanse paddavreter, is 44–50 cm groot, weeg 360–680 g en het ’n vlerkspan van 1.0–1.2 meter. Altwee geslagte is meestal bruin met ligter stroke oor die kop, bors en voorvlerk en is rooibruin op die bobene en maag. Die onderkant van die vlerk vertoon baie lig. Die mannetjies het ’n ligte grys op hulle dorsale gedeeltes terwyl die wyfies daar bruin is.
Onvolwassenes is donkerbruin en kan ‘n ligter borsband en ligte merke op die kop hê. Hulle het bruin oë, wat geel word as hulle volwasse is. Die donker strepies op die stert en vlugvere is skaars sigbaar in onvolwasse voëls.
Die ligter dele onder die vlerk is nie duidelik sigbaar in ‘n sittende posisie nie
Foto’s: Wikipedia
Die Afrikaanse vleivalk word gewoonlik in vleilande of rietbeddings gevind en hulle jag oor oop grasvelde en boere se lande naby vleie. Dié vleivalke woon nie in gebiede met minder as 300 ml jaarlikse reënval nie.
Omtrent 70% van hulle dieet bestaan uit klein soogdiere, maar hulle vreet ook kuikens, volwasse voëls, akkedisse, paddas en groot insekte. Hulle sal groter prooi vreet, soos flaminke wat deur groot roofvoëls agtergelaat is. Die meeste prooi word op die grond opgeraap, maar voëls en insekte kan in vlug gevang word.
Dié vleivalke bly gewoonlik die hele jaar in hulle broeigebied. Die nes word in riete, goed bo die watervlak, gebou. Die wyfie lê twee tot vyf wit eiers vanaf laat Julie tot November. Die eiers het aanvanklik ‘n blouerige skynsel sodat nuut-gelêde eiers maklik uitgeken kan word.
‘n Vleivalk in vlug
Dié voëls vorm nie gemeenskaplike broeiplekke soos ander vleivalke nie. Hulle verlaat die nes vroeg in die oggend en vlieg dan stadig – gewoonlik minder as 10 meter hoog – oor vleie en nabygeleë droër grond.
Daar word beraam dat daar 3 000 tot 6 000 broeipare van die Afrikaanse vleivalk in Suid-Afrika oor is. Hulle getalle neem af weens dreinering van vleilande en die opdamming van vleiland-habitatte, oor-beweiding, omdat hulle deur mense versteur word en moontlik ook weens plaagdoder-vergiftiging. |