Wêreld Migrasievoëldag is op 6 Mei gevier, maar die verskeie voëlkykgeleenthede, wat gewoonlik gereël word, kon weens inperking nie gehou word nie. Die hoop het bestaan dat die onlangse afmaai van migrasievoëls, soos swaeltjies, ook in dié tyd ingeperk sou wees.
Die dag is vir die eerste keer in 2006 ingestel en Amy Fraenkel van die Byeenkoms oor Migrerende Spesies, het gesê dat migrerende voëls bedreig word deur ‘n verlies aan habitat, klimaatsverandering, vergiftiging, kragdrade en onwettige afmaaiing.
Verlede jaar het kenners in die Verenigde Koninkryk berig dat miljoene voëls, wat vanaf Afrika na Brittanje migreer, in nette gevang word wanneer hulle oor Egipte vlieg. Hulle word geslag en geëet.
In Mei verlede jaar het Robin Paige in die ‘Daily Mail’ se ‘The Mail on Sunday’ gesê dat die swaeltjies gewoonlik vanaf Maart in Brittanje aankom, maar dat daar in Mei in groot gedeeltes van die land steeds baie min voëltjies was.
Die Europese swael, wat Suid-Afrika in die herfs verlaat
Foto: Wikipedia
Robin het berig dat migrerende voëls in groot getalle ‘geoes’ word terwyl hulle in die Suidelike Halfrond se herfs noord vlieg. Hy het gesê dat tot 140 miljoen voëls ‘n jaar in goedkoop Chinees-vervaardigde plastiese nette, wat tussen pale gespan word, in Egipte gevang word.
Dié nette word glo oor 700 km van die Egiptiese kus gespan en daar is ‘n soortgelyke bloedbad in Lebanon, Moroko en baie Noord-Afrikalande.
Robin het berig dat voëlgetalle in Brittanje ook afneem weens die gebruik van plaagdoders om insekte in tuine en op plase uit te roei.
In April vanjaar het Griekse koerante berig dat duisende swaeltjies en ander migrerende voëls teen die einde van Maart en begin van April in Griekeland dood is. Die sterftes kon glo toegeskryf word aan ‘n uitputtende roete vanaf Afrika en aanhoudende sterk winde oor die Mediterreense See. Griekse natuurbewaringsgroepe het gesê dat dié voëls in die strate geloop het, en nie gevlieg het nie, soos hulle probeer herstel het. Foto’s op sosiale media het hordes dooie swaeltjies in verskillende dele van Griekeland gewys.
In die somer word Suid-Afrika se voëlbevolking met sowat 120 spesies uit die Noordelike Halfrond versterk en die bekendste daarvan is waarskynlik die Europese swael, Hirundo rustica.
In die grootste deel van sy verspreidingsgebied trek die Europese swael in die herfs in swerms na warmer streke. Die uit Europa oorwinter in Suid-Afrika en so ‘n swaeltjie keer jaarliks na sy geboorteplek terug.
Terwyl ander klein voëls gewoonlik nie ouer as vier of vyf jaar word nie, is swaels van 16 jaar oud al opgeteken. |