Cullinan se krag word afgesny PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 18 August 2009 01:28
Untitled Document

Elsabé Maré

Die ongelukkigheid rondom die bestuur van Nokeng tsa Taemane Munisipaliteit duur voort. Die munisipaliteit is onder ’n geregtelike bestuur geplaas wat blykbaar toelaat dat raadslede nog hulle poste beklee en gesien word in die munisipale kantore.

Op 30 Mei het stakende SAMWUwerkers se ‘Shop Steward’s Committee’ van Metsweding in ’n spontane opmars, waar gemoedere hoog geloop het, ’n memorandum buite die munisipale kantore aan die Speaker, Patric Nkotoe, van Nokeng Munisipaliteit oorhandig. Hulle het gevra dat die munisipale bestuurder, Mpho Mogale, vir ’n maand verpligte verlof moet neem. Hy word aangekla daarvan dat hy nie aandag gee aan hulle versoeke nie, nie omsien na alle inwoners in die omgewing nie en telkens die doelpale verskuif.

Intussen is inwoners van Cullinan wat blykbaar nie hulle elektrisiteitsrekenings betaal nie, of agterstallig is oor foutiewe rekeninge, se krag oor ’n hele naweek afgesny. Die Cullinan Inwonersvereniging (CIV) het op 3 April ’n dringende hofbevel verkry teen die afsny van elektrisiteit totdat die dispuut opgelos is. Dit is geïgnoreer en ’n kriminele saak van minagting van die hof is op die munisipale bestuurder, Mogale, en finansiële- en assistant finansiële bestuurders bestel.

Refilwe inwoners moes hul voorafbetaalde elektrisiteitskaarte by die Cullinan-kantoor koop. Die foto is tien voor een op Saterdag 25 Julie buite die Cullinan Munisipale kantoor geneem. Die eerste foto wys die ingang na die munisipale kantoor en die tweede foto wys hoe lank die tou nog om die draai staan.

Volgens Steve Kloppers, CIV verteenwoordiger, is daar nog nie uitslag oor die saak nie. Na nog kragonderbrekings het CIV op 22 Junie weer ’n hofbevel teen die bestuur, Linda Africa en Morris Maluleka, gekry en dit het aanleiding gegee tot ’n tweede klag van minagting van die hof. Die saak het 7 Julie verskyn, maar die bestuur was te laat vir die verrigtinge en die hof het ’n hofbevel teen Nokeng Munisipaliteit toegestaan, met koste.

Inwoners van Refilwe, noord van Cullinan, wat al lankal onder dieselfde frustrasies gebuk gaan, het op 26 Junie in ’n opmars na Refilwe Munisipale kantore, die kantore afgebrand uit protes vir swak dienslewering en minagting van inwoners se versoeke.

In reaksie hierop het die provinsiale regering op 16 Julie ’n Imbizo in Refilwe gereël om in gesprek met die ontevrede inwoners te tree. Die tent is opgeslaan vir die okkasie en was gevul met inwoners wat wou hoor hoe die MEC, Kgaolgelo Lekgoro, die saak wil aanspreek. Buite het lede van die SACP betoog en die polisie-optrede is versterk.

Hierop het die staking van munisipale werkers op Maandag 27 Julie gevolg. Partye het op 3 Augustus nog nie tot ’n oplossing gekom nie, hoewel die munisipale kantoor nou weer oop is.

 

© 2019 Die/The Bronberger