In dié tyd van inhokking kan ‘n mens nie help om te soek na gevalle in die verlede waar mense vir hulle eie sogenaamde beswil ingehok is nie. Min het ons verwag om op gevalle af te kom waar babas ewe liefdevol in werklike draadhokke uit woonstelvensters gehang is.

’n Skermgreep uit die oorspronklike 1930’s televisie-advertensie vir babahokke
Goedbedoelende ma’s het hulle babas soos wasgoed by die venster uitgehang in ‘n aardige hoenderhokagtige kontrepsie wat in 1922 deur Emma Read van Spokane in die staat Washington in Amerika gepatenteer is. Haar patent is op 13 Maart 1923 toegestaan.

Dié baba lê poedelnakend in die draadhok
Foto: Reg SpellerGetty Images
Die kenners sê dat die oorsprong van dié idee gevind kan word in dr Luther Emmett Holt se 1894 boek, ‘The care and feeding of children: A catechism for the use of mothers and children’s nurses’. Hy het baie versigtig beskryf hoe babas lug moet kry, ietwat soos ‘n muwwe mat, om hulle bloed skoon te maak.

Dié outjie sit in ‘n mandjie in sy hok
Foto: Norman Smith
Dr Holt was ook ‘n voorstander vir die blootstelling aan baie koue temperature sodat babas ‘n immuniteit teen verkoues kan opbou. Hy het gesê dat ouers nie met hulle babas moet speel tot hulle ouer as ses maande is nie, omdat dit hulle senuweeagtig en prikkelbaar maak (dis nou die babas). Dit laat hulle glo ook sleg slaap en aan spysverteringsprobleme ly as hulle te veel aandag kry.

Hoe ver sal ‘n ma gaan om haar baba aan vars lug bloot te stel?
Foto: Getty Images
In 1906 reeds het Eleanor Roosevelt glo ‘n hoender-draadhok gekoop met die doel om haar pasgebore baba, Anna, wat op 3 Mei 1906 gebore is, by ‘n noordelike venster in hulle New York-woonstel te laat uithang. Toe haar bure sien wat sy doen het hulle gedreig om haar by die welsyn aan te meld as sy nie dadelik die hok verwyder nie.

Dr Luther Emmett Holt, Amerikaanse pediater en skrywer
Foto: Wikipedia
Teen die 1930’s het Emma Read se patent in Brittanje vlam gevat en hordes babas het in London se besoedelde lug by vensters uitgehang. In 1937 het die Chelsea Babaklub dié kontrepsie aan hulle lede in London versprei met die denke dat mense wat in woonstelle bly nie hulle babas iewers in ‘n tuin kan laat lê om lug te kry nie. London se East Poplar stadsraad het aangebied om die hokke buite woonstelvensters vas te maak.

Dié baba lyk nie te gelukkig met die stand van sake nie
Foto: Fox PhotosGetty Images
Emma Read se oorspronklike patent het ontwerpe vir hokke met dakkies op gehad, maar die meeste babahokke was net van draad gemaak en heeltemal oop sodat mis, motreën en selfs voëlmis op die babas geval het. Haar patent het ook voorsiening gemaak vir ‘n gordyn wat toegetrek kon word, sodat die babas in die hok kon slaap.

Dié baba het darem ‘n string krale om na te kyk
Foto: Hulton-Deutsch Collection/Corbis
Babahokke het glo rondom die vroeë 1940’s uit die mode geraak toe die Duitsers Londen in die Tweede Wêreldoorlog begin bombardeer het.

Die vrou op die grond waai vir ‘n kleuter in die hok
Foto: Daily Mirror/Mirrorpix/Corbis
.
|

Dié advertensie sê dat skerms aangebring kan word as insekte die baba in die hok pla
Foto: Keystone |
|