Dié verbod op rookgoed, is nou regtig sommer twak, sê Gert Mossie. Nee, Gert sit nie dié keer in die watergat saam met sy vriende en kuier oor ‘n bruisdrankie nie. Want dit sou in hierdie gekke tyd dalk die ergste misdaad in menseheugenis wees – in hierdie eertydse beloofde land van melk en heuning met sy oorvloed van bier en tabak, wat oornag verander is na die droefgeestige land van koffie en koekies met ‘n oormaat van smagting en verlange.
Hy praat met Grootpiet, wat nie in sy gebruiklike hoek sit nie, maar voor sy rekenaarskerm in sy ingeperkte huis. Gert Mossie se kinders het hom geleer om te ‘zoom’ en hy het die futuristiese wonder van ‘zoom’ met moeite en onmeetbare geduld vir Grootpiet oorgeleer. Hulle hoor mekaar en hulle sien mekaar se gesigte: Suur gesigte, vandag.
Aanvanklik was Grootpiet erg teësinnig om iets van die gezoom oor die ‘interweb’ by te leer. Dié ‘zoom’ klink vir hom veels te veel na die ou van twyfelagtige karakter en een van sy gewese vrouens van duistere motiewe. Einste sy wat vrou alleen, lyk dit hom, gesorg het dat ons nou oorgelaat is aan duur en skelm sluikhandelaars vir ‘n skyf of pyptwak en aan erg ongesonde en slegte tuisbrousels as ons nie niks en Coke wil drink nie, meen Piet.
En dan moet jy die hele nag van daai baie ongesonde brousels, gemaak met baie suiker en enigiets van pynappels tot pampoen daarby, opstaan om te loop lek. Die goed is uiters ongesond vir die liggaam en gees. En hy is seker die goed wat die skelm twak-smokkelaars versmous is vol gestop met donkievye en ander blare wat ewe ongeskik en gevaarlik vir menslike gebruik is. Hy wens hy kon vir die eks van die ou wat hom aan ‘zoom’ laat dink en nou skynbaar die president se baas is – en wat kastig so gesteld is op gesondheidsake, sê: “Poet dêt in jôr paaip end smouk iet,” sê Grootpiet.
Ja, sê Gert Mossie nou, hy hoor ‘n vriend sê sy graad van nikotienontrekking is nou al so erg dat hy ‘n onmeetbare rooklus ontwikkel as mense oor rekenaars praat: ‘Hardeskyf’ laat hom aan ‘n sterk sigaret dink, ‘kompakte skyf’ aan ‘n stompie en ‘skyfspasie’ aan die beskikbare ruimte in sy laaste pakkie sigarette. (Erkenning aan Rudie van Rensburg)
Jy moenie praat nie, sê Grootpiet. Nou die anderdag wanneer, sit hy so in sy uitskopstoel en droom oor die goeie ou dae. Hy kan amper die hopsgeur ruik soos hy onthou hoe hy in die watergat ‘n heerlike skuimkop-beker vol rasegte, goue, brouery-gebroude bier rustig en tevrede nader aan sy gretige lippe bring.
Hy hoor met ‘n halwe oor hoe die vrou hier eenkant in een toon met hom praat. Maar skielik ruk hy byna sy nek af en val hy amper van sy uitskopstoel af toe hy hoor sy sê: “Ek sit gou my masker op en ry om die ‘biere’ te gaan haal.” Sy oorweldigende opwinding en uitspattige vreugde was van korte duur toe sy vrou verder praat: “Haai siestog, die stomme ‘bure’ se kar het voor die apteek gaan staan.” |