Bekende vegter teen misdaad op sy Shere-plot doodgeskiet PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 18 August 2009 01:27
Untitled Document

’n Bekende inwoner van Shere wat alles in die stryd gewerp het om teen misdaad te baklei en hom uitgespreek het dat hy ‘weier om ’n slagoffer te word,’ is op Donderdagoggend 23 Julie op sy plot in Shere, ná ’n geveg met drie rowers doodgeskiet.

Dié 79-jarige Bob Round het die rowers eiehandig gepak. Volgens een van Bob se werkers het die rowers Bob geskop en geslaan, maar hy het aanhou opstaan om terug te baklei. Bob het dit reggekry om een van die rowers plat te stoei. Hulle het hom doodgeskiet toe hy sy vuurwapen uitgehaal het.

Myra Round, Bob se vrou van 48 jaar, vertel dat ’n werker haar man ongeveer 8 vm geroep het om te sê daar is verdagte mense in die Bronberg agter hulle huis.

Bob het sy wapen gegryp, en vir Myra in die huis toegesluit terwyl sy die polisie bel. Buite het hy op drie mans afgekom wat vermoedelik kort tevore by ’n huis in Faerie Glen ingebreek het. Hulle het nog die gesteelde goedere in hul hande gehad.

Bob het die rowers gekonfronteer en kort daarna is ses skote gehoor. Die werker het by Myra aangekom om te sê dat sy iets moet doen omdat Bob geskiet is. Myra sê dat sy na Bob toe wou hardloop, maar net stadig kon beweeg omdat sy onlangs ’n heupvervanging gehad het.

Sy het aanhou roep om te sê dat hy moet probeer uithou, maar hy het nie geantwoord nie. “En hy sou sê hy’s fine as hy nog gelewe het,” sê Myra.

By die kliphuisie, ongeveer 100 m van die huis af, het Myra en die werker op Bob afgekom wat met sy hand oor sy gesig teen die huisie se muur gelê het.


Bob Round
Foto: Heather Round

Arresteer
Ná die skietery het een van die mans glo in ’n taxi in Catherinestraat voor die Rounds se plot geklim en weggery, terwyl die ander twee die Bronberg ingevlug het. Supt. Gavin The-Kisho, stasiebevelvoerder van die Boschkop-polisiekantoor is saam met ander polisielede, lede van die gemeenskap en beamptes van verskeie veiligheidsmaatskappye agter die rowers in die berg aan. Die twee rowers het op die polisiehelikopter en lede van die polisie se honde-eenheid geskiet, maar is aangekeer. Supt. The-Kisho het self een van hulle gevang. Die tweede een is bo-op die Bronbergrif gearresteer deur Boschkop se Insp Smith. Later dieselfde dag is die taxibestuurder gearresteer. Daar is ook beslag gelê op die taxi, wat na bewering gebruik is om die verdagtes op en af te laai voor en ná ’n misdaad.

Sindikaat
Nóg vyf mans, ook deel van die sindikaat, is gearresteer. Hulle word ook verbind met die Mooiplaats skietery op Woensdag 22 Julie waar David Malema doodgeskiet en Wim van den Bosch in die bors getref is. Met dié arrestasies het die polisie vier vuurwapens - Bob se .38 Special rewolwer, ’n .22 rewolwer, ’n 9 mm Vektor pistool en ’n pomp-aksie haelgeweer - sowel as ammunisie en Bob se horlosie teruggekry. Een van die verdagtes het dié horlosie aan sy arm gehad.

Die sindikaatlede is van Mamelodi en kan moontlik verbind word met ander huisrooftogte, kapings en sakerooftogte in die Boschkoppolisiewyk.

Waarsku
“Die misdadigers van Mamelodi en Eersterust wat ons teiken, moet versigtig wees. Ons is op julle spoor en gaan julle nie verdra nie,” het Boschkop stasiebevelvoerder, The- Kisho, gesê.

Op Vrydag 24 Julie het die Tshwanemetropolisie se streekdirekteure en bevelvoerders ook byeengekom om ’n plan van aksie saam te stel om ’n oplossing vir die vlaag van moorde en ander misdade in die ooste van Pretoria te soek.

Die nege verdagtes het Maandag 27 Julie in die Pretoriase landdroshof verskyn op aanklagte van moord, gewapende roof, die besit van gesteelde goedere en ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.


Bob Round se weduwee, Myra, knap nadat Bob doodgeskiet is
Foto: Beeld

Shere
Reeds die dag ná Bob se moord, het die direksie van die Shere Sekuriteit Landgoed ’n brief aan Shere-inwoners gestuur oor veiligheidsmaatreëls. Inwoners is ook gevra om die hernude formele aansoek om paaie te sluit, te steun. Die aansoek aan Kungwini Munisipaliteit is om ten minste vier van die bestaande sewe toegangsroetes tot Shere Landbouhoewes te sluit met ’n pro-aktiewe moniteringsisteem by die oorblywende drie ingangsroetes in Struben-, Cole- en Catherinestraat.

Die sekretaris van die Kungwini Wes Alliansie, Johann van der Merwe, het gesê dat die hele Shere geskok is oor twee voorvalle wat in twee maande daar plaasgevind het. Die bejaarde Delport-egpaar is einde Mei in hul Shere-woning oorval en beroof.

Roete
Johann sê dis nie ’n troos nie “maar dit blyk dat Shere nie spesifiek die teiken was nie”. Hy sê die feit dat Shere sewe toegangsroetes het en ’n lang oop grens teen die Bronbergrif, maak dié gebied ’n maklike toegang-, deurgang- en ontsnappingsroete.

As vier van dié toegange semi-permanent gesluit kan word, kan die sekuriteitsmaatskappye, inwoners en polisie net op die oorblywende toegangsroetes fokus.

Volgens Johann steun die polisie dié inisiatief, omdat daar geen misdaad was nie toe enkele Shere-paaie vir vier maande gesluit was. Johann sê dat, soos enige ander gemeenskap, Shere se gemeenskapsgebaseerde sekuriteit- en veral misdaadvoorkomingsinisiatiewe ernstig gekniehalter word deur individuele grondeienaars wat nie aan gemeenskapsinisiatiewe deelneem nie.

Gemeenskapsamewerking was juis een van Bob se passies. Sy vrou, Myra, sê dat Bob baie lief was vir sy gemeenskap en die Bronberggebied en dat hy elke aand die bure per radio gekontak het om seker te maak hulle is veilig.

Bob was vir ’n paar jaar voorsitter van die Boschkopse Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF). Hy was later Shere se sektor-verteenwoordiger vir sektor drie, wat Zwavelpoort en Shere insluit.

In ’n berig oor die Boschkopse GPF wat in Die Bronberger van Augustus 2004 verskyn het, het Bob gesê dat ’n polisiestasie net kan werk as hy die gemeenskap se ondersteuning het. Hy het gesê dat die GPF ondersteun moet word as mense snags ’n veilige rus in hul beddens wil hê. Bob was ’n kranige briefskrywer aan Die Bronberger en het ook gereeld gebel om te vertel van dinge wat in ons kontrei gebeur. Een van die dinge wat hom die kwaadste gemaak het, was die gereelde telefoonkabel- diefstal in Shere. Hy het selfs boewe voorgelê wat met Telkomfone op Shere-hoewebewoners se rekenings oproepe gemaak het.

Bob het presies geweet hoe om dié boewe te kortwiek. Hy was ’n afgetrede ingenieur wat by die destydse Poskantoor begin werk het en by Telkom geëindig het toe die Poskantoor in twee afdelings opgedeel het.

Energiek
Bob en Myra het hulle Shere-plot in 1962 gekoop en Bob het self die huis gebou. Bob, Myra en hul twee kinders, Craig en Heather, het in 1972 in dié huis ingetrek.

Heather sê dat haar pa ’n energieke persoon was met so ’n wye verskeidenheid belangstellings, dat dit moeilik is om ’n paar goed uit te lig wat vir hom belangrik was. Hy was lief vir die buitelewe en, vandat Heather kan onthou, was hy altyd op pad na een of ander avontuur in Afrika, of dit nou ’n ontdekkingstog, visvang of staproetes was. Sy sê hy het sy lewe voluit geleef en was altyd vol plannetjies oor alles wat hy nog wil bereik en die reuse hoeveelheid projekte wat hy gelyk aan die gang gesit het.

Heather sê dat haar pa altyd bereid was om mense in nood te help en dat hy nie vir een oomblik sou huiwer om in te tree as iemand in die moeilikheid is nie.

Laaste
Bob se laaste brief is in Die Bronberger se Desember 2008 uitgawe gepubliseer en kan onder die briewekolom gelees word op Die Bronberger se webtuiste by www.bronberger.co.za.

In die brief, genaamd ‘Thank you, Boschkop’, komplimenteer Bob die Boschkopse polisiestasie oor hul vinnige optrede by ’n voorval in Shere waar Bob bystand gaan bied het. ’n Mens kan nie help om te wonder wat Bob sou gesê het oor Supt The- Kisho se blitsvinnige reaksie en arrestasie van Bob se moordenaars nie.

In die 2004 berig oor die GPF het Bob gesê dat ons twee moontlike opsies het: jy kan terugsit en soos ’n lam ter slagting gelei word of jy kan terugveg. “Ek weier om ’n slagoffer te wees,” het Bob gesê “en ek doen my bes om seker te maak dat dit nie met my of my mense sal gebeur nie.”

Dié woorde bied dalk ’n verduideliking aan diegene wat nie kon verstaan hoekom ’n 79-jarige man drie rowers eiehandig getakel het nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger