Skaam duif kruip onder blaredakke weg Print E-mail
News - Ons Omgewing
Wednesday, 20 May 2020 20:18
Untitled Document

Dié eerste keer wanneer ‘n mens dié ou sien, sukkel jou voëlkyk-brein ‘n bietjie om die kloutjie by die oor te kry. Hy lyk dan soos ‘n kransduif, maar sit en vrugte vreet met ‘n helder geel snawel. Dan het hy boonop ‘n groot geel kring om die oog en geel bene soos ‘n wafferse eend.

Die geelbekbosduif, Columba arquatrix, is gewoonlik baie skaam en versigtig. Hulle vreet bessies en vrugte onder digte blaredakke waar hulle moeilik is om te sien. Hulle klim in bome rond en leun gereeld in heel ongemaklike posisies vooroor om vrugte by te kom. Selfs al sien jy hulle dalk nie in die boom nie, hoor jy die luide vlerkklappe soos hulle probeer balans hou.


Die geelbekbosduif
Foto’s: Wikipedia

Dié voëls gaan selde grond toe, behalwe om water te drink. Sommige bronne sê dat hulle soms die boomtoppe sal verlaat om vrugte en sade op die grond op te tel en selfs om insekte en ruspes te vreet.

Geelbekbosduiwe is ook bekend vir hulle modder- of klei-vretery, dalk vir die spoorelemente en minerale daarin of om hulle te help om vrugte te verteer.

Buite hulle broeityd sal dié duiwe aansienlike afstande vanaf hulle slaapplekke na voedingsplekke vlieg en jong of nie-broeiende voëls sal swerms vorm.

Die volwasse mannetjie is 37–42 cm lank. Mannetjies weeg omtrent 460 gram en die kleinste wyfie omtrent 415 gram. Die geslagte lyk eners, maar die wyfie se kleure is ‘n bietjie dowwer.


Twee geelbekbosduiwe by ’n kleilek in Lynnwood Glen

Die rug en vlerke is ‘n soort rooibruin wat amper wynrooi is en die skouers is swaar gespikkel met wit kolletjies. Die onderkant is rooibruin met swaar wit kolle en die kop is grys met geel kringe om die oog.

Die nekvere is gestreep, die ondervlerke en onderstert is donker grys en die voete en snawel is geel. Onvolwassenes is donkerbruin waar die volwassenes rooibruin en grys vere het. Die kaal dele is ’n dowwe groen-geel en die vlerkvere het ligte rande.

In vlug lyk die duif baie donkerder. Hulle vlieg vinnig met gereelde vlerkslae en ’n skerp flik van die vlerke. Amoreuse mannetjies buig diep voor die wyfies en doen ’n vertoningsvlug waar hulle eers hoog in die lug klim en dan met egalige vlerkklappe stadig na benede daal.


’n Geelbekbosduif op haar nes in ’n smalblaaresseboom in Lynnwood Glen

Die broeipaar bou ‘n nes uit stokke en takkies, wat hulle soms met blare uitvoer. Dié nes is gewoonlik hoog in ‘n vurk in die boom en word deur takke en blare verdoesel. Die mannetjie maak die boumateriaal bymekaar en die wyfie bou die nes.

Geelbekbosduiwe kies net een maat lewenslank en deel die uitbroei van eiers en die grootmaak van kuikens. Hulle kan meer as een keer ‘n seisoen broei. Gewoonlik word ‘n enkele eier gelê, wat binne 17–20 dae uitbroei. Die kuiken verlaat die nes ná ‘n verdere 20 dae.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Mei weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger