Geliefde Jack se moord nié die eerste by sentrum Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 20 May 2020 20:02
Untitled Document

‘n Geliefde Cullinan-inwoner, Jack de Vries, is nie die eerste gesagsfiguur wat by die Dr Fabian and Florence Ribeiro behandelingsentrum se personeelkwartiere vermoor is nie.

Jack is in die vroeë oggendure van 21 April brutaal aangeval by sy woonplek in Magalies-oord op die Zonderwater-gevangenis se perseel buite Cullinan. Sy vrou, Desiree, is die adjunkdirekteur van die Dr Fabian Florence Ribeiro behandelingsentrum vir alkohol- en dwelmafhanklikes.

Jack, ‘n speurder in die polisie se veediefstaleenheid, het as dié sentrum se huisvader opgetree. Hulle huis is deel van die personeelkwartiere op dieselfde perseel as die behandelingsentrum.

Die vorige hoof van die sentrum, Victor Mamatela, is op 26 Februarie 2012 in dieselfde personeelkwartiere vermoor, alhoewel nie in dieselfde huis nie. Die polisie het kort daarna vir Piet Phumo in hegtenis geneem en hy het 15 jaar tronkstraf ontvang, het Cullinan se polisiewoordvoerder, konstabel Connie Moganedi gesê.


Jack de Vries
Foto’s: Verskaf

Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het ná dié verband getrek is, gesê dat ‘n verklaring later hieroor uitgereik sou word, maar teen die Bronnie se saktyd was geen nuus daaroor nog beskikbaar nie.

Volgens Desiree se suster, Denise Koekemoer, was dit duidelik dat die aanvallers geweet het waar alles in die huis is en dit het gelyk asof hulle op ‘n ‘missie’ was. Sy het gesê dat hierdie nie ‘n ewekansige aanval was nie.

Jack se swaer, Braam Koekemoer, het vertel dat Jack en Desiree rondom 3 uur die oggend deur drie mans aangeval is. Hy het gesê dat die mans glo presies geweet het waarheen om te gaan omdat hulle met ‘n grondpad langs die tronk nader beweeg het en deur die palisade-heining naby aan die huis gebreek het. Hulle het ‘n klein venster gebreek om in die huis te kom.

Toe Jack en Desiree wakker word, was die aanvallers klaar by hulle in die kamer. Jack het verbete terug baklei terwyl Desiree probeer wegkom het. Een aanvaller het haar gejaag en haar hande en voete is vasgebind. Sy is met ‘n swaar voorwerp oor die lyf geslaan en met ‘n pistool oor die kop.


Jack en Desiree

Desiree het gehoor hoe Jack se bene kraak soos hulle hom slaan. Die aanvallers het ‘n pistool teen Desiree se kop gehou, het haar gevloek en wou by haar weet waar die geld is. Sy het gesê dat hulle geen kontant het nie, maar het hulle bankkaarte en pinkodes gegee.

Die aanvallers het die kluis oopgemaak, vuurwapens, twee televisiestelle, selfone, ‘n duur fiets wat vroeër daardie week gekoop is en ander waardevolle items geneem en gevlug.

Desiree kon haarself los kry en toe sy by Jack kom het hy gefluister dat hy sukkel om asem te haal. Sy het na die bure gehardloop vir hulp en ‘n ambulans is uitgeroep. Jack is oorlede net ná die ambulans weggetrek het en die ambulans het terug gedraai sodat Desiree vir Jack kon groet.

Aanvanklike polisieverslae het aangedui dat Jack met ‘n mes gesteek is, maar sy lykskouing het gewys dat hy ook met ‘n 9 mm pistool geskiet is.

Jack sou sy 65ste verjaardag op 9 Mei gevier het en sou afgetree het. Jack en Desiree was 17 jaar getroud en Jack laat sy vyf kinders, Diedre, Ronel, Elicia, Theodore, Kyara, en ses kleinkinders, Grant, Wilnel, Joane, Luke, Matthew en Noelleen, agter.


Jack was ’n motorsport-geesdriftige en deel van James Menin se renjaerspan. Dié is ‘n onlangse foto van Jack en die renspan met hulle kar

Jack was geliefd in die gemeenskap en sy dood is met skok begroet. Ceska van der Walt van Ouwerf het gesê: “Jy was ’n man van formaat en ’n merkwaardige man en pa en vriend. Dis so hartseer en onnodig. Jy het my altyd moed ingepraat. Almal was lief vir jou”

Jack se dogter, Kyara Barnard, het gesê: “Pappa, my hart is vandag so seer. My woorde is so min. Dankie dat jy mamma beskerm het; jy is ’n held . . . was vir baie mense ’n rolmodel . . .”

Jack was ’n motorsport-geesdriftige en deel van James Menin se renjaerspan. James het gesê dat sy hart gebreek het en dat so iets moeilik is om in te neem en te glo wanneer ‘n mens so ‘n nabye vriend verloor. Hy het gesê dat Jack die mees liewe, lojale en geliefde vriend, spanmaat, bemanningslid en ondersteuner was en deur almal gemis sal word.

Enige iemand met inligting oor die saak kan die Cullinan SAPD bel by 012-734-0751 of kan dit anoniem rapporteer by 08600-10111.


Ondersteun die Bronnie
Ongekende omstandighede, waarin tientalle gevestigde publikasies, wat oor dekades heen te koop was, onlangs gedwing is om te sluit, noop ons om ‘n beroep op die Bronnie se getroue lesers te doen. Die Bronberger word as onafhanklike publikasie die afgelope 18 jaar elke maand gratis aan ons gemeenskap en wyer gebring. Dit is ons plesier om dié diens te lewer en ons is vasbeslote om daarmee voort te gaan. Jou vrywillige bydrae, hoe klein of groot ook al, eenmalig of maandeliks, sal baie help hiermee en oneindig waardeer word. 
Elektroniese oorplasing:
Naam:
 Bronberg Uitgewers.
Bank: First National Bank.
Tak:
 Olympus Plaza.
Takkode: 258155.
Rekening nr: 62446997407.
Soort: Tjek. 
Verwysing: Donasie (jou naam).
E-pos:  This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

Nuuste Koronavirus statistieke:

Aflaai van die Die Bronberger Mei weergawe in elektroniese PDF formaat:

 

© 2020 Die/The Bronberger