Dié is nie die eerste keer dat Pretoria se strate verlate is nie. In 1880, toe die dorpie nog in sy kinderskoene gestaan het, moes sake-ondernemings sluit en inwoners is in ‘n tentkamp opgesluit.
Ou-Pretoria navorser, Rosa Swanepoel, het vir die Bronnie ‘n foto van ‘n verlate Pretoria gestuur, verduidelik watter sake-onderneming in watter gebou op die foto gevestig was en het ‘n bietjie meer oor die sake-eienaars vertel.
In daardie jare was Pretoria onder Britse beheer. Sir Theophilus Shepstone het die Transvaal op
12 April 1877 geannekseer en met die Eerste Vryheidsoorlog het die Boeremagte Pretoria beleer.
Vroeg die oggend van 22 Desember 1880 het die Engelse bevelvoerders Pretorianers beveel om hulle huise en sake-ondernemings te verlaat en die militêre kamp aan die oostekant van die dorp te betrek.
Spesiale verlof is later aan fotograaf HF Gros toegestaan om sy ateljee, links op die foto, te besoek en hy het ’n hele paar foto’s van die leë strate geneem. Henri Ferdinand Gros is op 7 Mei 1842 in Switserland gebore. Hy het in 1869 in Suid-Afrika aangekom en alhoewel ‘n paar rondreisende fotograwe reeds in Pretoria sake gedoen het, was hy die eerste een om hom permanent hier te vestig.
Hy het op 26 Desember 1874 in die ‘Volksstem’ geadverteer: “Mons. H.F. Gros het in Pretoria aangekom en sal binnekort sy ateljee open”. Sy ateljee was aanvanklik in die Artillerieplein agter die hofgebou op Kerkplein en is later na ’n Smithers se huis verskuif.
Nog later het hy sy eie ateljee gebou en in die ‘Volksstem’ van 13 November 1875 het hy adverteer dat dié fotografiese ateljee spesiaal ontwerp is om vir die nuutste beligtingstegnieke voorsiening te maak.
Henri het erf nommer 376 op die hoek van Kerk- en Van der Waltstraat in 1877 by RE Schubart gekoop. Sy ateljee was een van die eerste dubbelverdiepinggeboue in Pretoria.
Die hoek van Kerk- en Van der Waltstraat in 1881
Bron: Rosa Swanepoel
Kerk
In die middel van die foto, heel agter, is die eerste kerk wat op Kerkplein gebou is. Dit is tussen 1854 en 1857 gebou en was ‘n eenvoudige saaltipe gebou met dik mure en ‘n grasdak. Die bouers, William Skinner en die twee Devereux-broers, se voorletters was op een van die gewels: DD en S en die jaartal 1855.
Die kerk het vir 700 tot 800 mense sitplek gehad. Reeds met die inwyding deur dominee Van der Hoff in Februarie 1857 was die kerk te klein en sommige mense het selfs op die balke gesit. In die 1860’s is die kerkgebou vergroot deur die aanbou van ‘n konsistorie, regs op die foto, en nog ‘n vleuel, links.
Die kerkgebou is in September 1882 eers ernstig deur ‘n storm beskadig en is later dieselfde maand deur ‘n verwoestende brand in puin gelê. Slegs die preekstoel se trap en een nagmaaltafel kon gered word. Baie mense het dié raaiselagtige brand as ‘n oordeel van God gesien omdat Shepstone in die kerkgebou ingesweer is en nie in die Raadsaal nie. Daar is soms spottenderwys na Shepstone as die duiwel se slypsteen verwys.
Beckett
Regs op die foto is TW Beckett & Co, die winkel van Thomas William Beckett, wat in 1874 in Pretoria aangekom het. ‘n Jaar later het hy Kisch & Harsant se gebou op Kerkplein oorgeneem. In 1875 het Kisch & Harsant adverteer dat hulle die enigste agente vir Singer naaimasjiene in die republiek is.
In 1875 was TW Beckett se onderneming in “Commercial Row” op Kerkplein en het hy adverteer dat hy die laagste pryse vir wol, velle en ander produkte waarborg. Hy het egter die markwette oortree deur tabak direk van die boere aan te koop in plaas van op die mark. Die landdros het hom skuldig bevind en ‘n boete van sewe sjielings en ses pennies is hom opgelê. Die boete kon so hoog as 500 Riksdalers gewees het, maar die landdros was hom genadig omdat dit ‘n eerste oortreding was. |