Verskansings wat in die Engelse Oorlog ná die slag van Donkerhoek in die oploop na die Slag van Witpoort gebou is, is vandag nog op die Bronberg se riwwe vanaf Zwavelpoort en Tierpoort tot by Witpoort te siene.
Volgens oorlewering is van dié verskansings moontlik aanpassings van die klipstapels van vroeëre Ndebele-hutte en beestekrale wat op platorande op die Bronberg gebou is.
Bevestiging of die skanse aan Boer of Brit behoort het, is in oorblyfsels soos koeëls, helmets, doringdraad, stukke sinkplaat, blikkies en stewels gevind.
In April 2003 het wyle oom Francois Annandale vir ons gewys wat hy by verskansings op Nkwe, Tierpoort uitgegrawe het. Daar was ou Engelse patrone (“waarmee hulle die Boere doodgeskiet het,” het oom Francois gesê), geroeste oorblyfsels van ‘n boeliebiefblik, ’n blikbeker, roskam en ‘n gebreekte blou bottel waarin kasterolie waarskynlik gehou is.
Dié klipstapels staan vandag nog op verskeie plekke op die Bronbergrif
Spoorlyn
In Mei 2003 het ons vertel dat generaal Louis Botha se magte ooswaarts met die Delagoabaai spoorlyn langs beweeg het ná die slag van Donkerhoek (11 tot 13 Junie 1900). Hulle het by Balmoral, anderkant Bronkhorstspruit, hergroepeer en later weer begin terugbeweeg na Pretoria.
Die Kakie majoor-generaal Hutton het net wes van Zwavelpoort gewag en kolonel Pole-Carew se XI Afdeling van die gardetroepe was by Derdepoort, Pienaarspoort, Donkerhoek en Boschkop aan die noordekant van die Bronberg.
Gen Botha se magte het vanaf die Pienaarsrivierstasie in ‘n halfmaan oos gestrek tot by Springs en hulle het verskansings langs die Tierpoortrif tot by Witpoort en Koffiespruit opgerig. Ben Viljoen was deel van dié magte en is tot generaal in beheer van die Randse kommando’s bevorder.
Op 7 Julie het maj-gen Hutton vir gen Mahon beveel om na die suide van Witklip, verby Bapsfontein, te beweeg. Die volgende dag het die Suffolk regiment by Tierpoort opgedaag en glad nie Louis Botha se magte op dié rif raakgesien nie.
‘n Verskansing op die Bronberg in Kiepersolkamp, Zwavelpoort
Foto’s: Engela Botes
Onmin
Daar was onmin tussen Hutton en Mahon en veldmaarskalk Roberts het vir gen French gestuur om beheer oor te neem. Hy het op 10 Julie met 7 500 Kakies die Boere al langs die Bronberg aangeval en verdryf.
French het sy troepe na Hutton se kamp wes van Zwavelpoort beweeg en het terselfdertyd vir gen Alderson saam met die Kanadese en Nieu Seelanders na die noorde van die Bronberg gestuur. Hulle het waarskynlik deur die poort van Zwavelpoort, wat in Britse hande was, beweeg.
Saam met Pole-Carew se magte, het hulle die Boere se regterflank aangeval terwyl gen Porter se kavallerie die Boere se linkerflank by Leeupoort, oos van Witpoort aangeval het.
French het oor die nekke by Tierpoort en Witpoort beweeg en net na een uur die middag op Witpoort aangekom, toe die Boere afbeweeg het na die Elandsrivierstasie toe.
Poste
In die paar dae hierna het Hutton na poste by Tierpoort, Witpoort, Koffiespruit en Hekpoort beweeg en die Suffolk regiment het by Tierpoort agtergebly. Die Koninklike Ierse Fusillade en Nieu Seelandse troepe is op drie heuwels naby die Witpoortpas geplaas onder beheer van maj Munn.
Ben Viljoen se kommando’s het die oostelike Britse stellings by die poort van Witpoort in die nag van 15 Julie begin bekruip en het teen dagbreek ‘n aanval geloods. Voor die Kanadese teenaanval vanaf die suide het Ben Viljoen se magte so naby aan Munn se posisie gekom dat hulle herhaaldelik na hom geroep het om oor te gee.
Tog, teen 2 uur die middag het Hutton al sy beskikbare troepe in daardie rigting beweeg en teen sononder was die slag van Witpoort verby en is die Boere na Bronkhorstspruit verdryf. |