Enige iemand met ‘n voëlvoerder in die tuin koester die wilde voëltjies wat daar vreet en dit is ‘n groot nagmerrie as ‘n roofvoël hom daar tuismaak en daagliks van dié voëltjies begin vang. Die bekendste sondebok is ‘n sperwer, wat veral duiwe vang, al is hy skaars groter as ‘n duif.
Die gebande sperwer, Accipiter badius, is ‘n algemene standvoël wat 28–30 cm groot is, 80–170 g weeg en ’n vlerkspan van 55–60 cm het. Hy kom wyd voor in Afrika en Asië en in Engels staan hy as ‘Shikra’ bekend.
‘n Volwasse wyfie
Foto’s: Wikipedia
Dié voël is so dodelik dat ‘n Indiese vloot-helikopter na hom vernoem is – die INS Shikra. Hy is ook die 149 Eskader van die Republiek van Singapoer Lugmag se gelukbringer. Deur die eeue was dié roofvoël nog altyd ‘n gunsteling onder valkeniers in Indië en Pakistan, omdat hy so maklik opgelei kan word en bekend is vir sy vermoë om voëls wat groter as hy is, soos patryse, jong fisante en kraaie, te vang.
Die woord ‘shikra’ beteken jagter in Hindi. Die kenners sê dat die woord eintlik afstam van ‘n Oerdoe-woord, wat afgelei is van die woord ‘shikari’, wat jagter beteken.
Hier by ons sien mense die gebande sperwer gereeld langs die pad waar dit lyk asof hy bo-op ‘n ander voël sit. As jy nader kom, sien jy dat hy gewoonlik op ‘n duif sit en dat hy reeds ‘n gat in die duif gevreet het. Al is hy so klein, sal dié sperwer die duif opraap en met hom wegvlieg.
‘n Volwasse mannetjie
Die gebande sperwer het ‘n skerp twee-noot roep. Dit klink soos ‘pee-wee’ en die eerste noot is hoër en die tweede een langer. In vlug is die roep ‘n korter en skerper ‘Kik-ki . . . kik-ki’. Die roep word deur byvangers nagemaak sodat hulle die ander voëls saam met wie hulle gewoonlik voer kan verskrik en dan hulle kos steel.
Die vlugpatroon is ‘n tipiese vlerkklap en sweef en ‘n gebande sperwer se vlug veroorsaak alarmroepe onder kleiner voëls en eekhorings, wat deur hulle gevang word. Dié sperwer sal ook kleiner reptiele, soms slange, vlermuise en insekte vreet.
Kleiner voëltjies duik gewoonlik deur blare as hulle ‘n gebande sperwer sien aankom en daar is al opgemerk hoe ‘n visvanger in die water duik om te ontsnap. Witkatlagters is bekend daarvoor dat hulle saamdrom om ‘n sperwer weg te jaag.
‘n Onvolwassene
Die gebande sperwer het kort, geronde vlerke en ‘n nou, langerige stert. Volwassenes is witterig aan die onderkant met fyn rooibruin strepies, terwyl die bokant grys is. Die mannetjies het ‘n rooi oog en die wyfies ‘n geler oranje oog. Die wyfies, wat bietjie groter is as die mannetjies, se onderkant is bruiner. Onvolwassenes het geel oë en donker stroke en kolle op die bors.
Die nes is ‘n platform van takkies uitgevoer met gras, soortgelyk aan dié wat kraaie bou. Die mannetjie en wyfie bou saam aan die nes. Soos kraaie, maak hulle ook van metaaldraad gebruik.
Die wyfie lê gewoonlik drie tot vier eiers wat ‘n ligte blouerige grys kleur het met swart stippels aan die breë kant. Die eiers broei na 18 tot 21 dae uit. |