Die staatsveearts het versoek dat mense moet laat weet as daar kommandowurms op hulle plotte of plase is. Dié pes is ‘n gevaar vir gewasse sowel as beeste op die weiveld en is glo positief geïdentifiseer in sekere gebiede.
Sunette Alers van Welbekend het laat weet dat mense haar direk kan bel as hulle kommandowurms in die Bronberg-gebied gewaar het: 082-385-2737.
Die kommandowurm, Spodoptera exempta, kry sy naam omdat wurms in groot getalle uit grasvelde na gesaaides ‘marsjeer’. So ‘n kommando kan aanplantings van gesaaides binne ’n kwessie van weke uitwis. Hulle vreet alle soorte grasse en vroeë stadia van graansoorte, soos mielies, koring, gars, rys, sorghum en suikerriet.
‘n Kommandowurm
Foto: nri.org
Dié wurm se motstadium lewe ongeveer 10 dae en die wyfie kan tot 1 000 eiers lê, wat binne twee tot vyf dae uitbroei. Die ses ruspestadia word in twee tot drie weke voltooi. Daar is ’n ‘skoolvormende’ soort, wat swart is met geel strepe, en ’n alleenlopende vorm, wat bruin of groen is.
Boere sien dié ruspes gewoonlik nie voor hulle 10 dae oud is, en van groen na swart verander het nie. In die laaste stadium grawe die larwe 2–3 cm in die grond in om te pupeer. Volwassenes kom na sewe tot 10 dae te voorskyn. Die motte kan oor honderde kilometer migreer en hulle is onopvallend, met ’n grys-bruin voorvlerk.
Kommandowurms kan veevrektes veroorsaak weens die inname van hoë sianied-vlakke omdat die larwes weiding beskadig het, asook die inname van mikotoksien-swamme in die larfmis.
Die herfskommandowurm
Foto: Sanbi
Herfs
Daar is ‘n uitheemse herfskommandowurm, Spodoptera frugiperda, wat Suid-Afrika ‘n paar jaar gelede vir die eerste keer ingeval het en wat ook in Gauteng opgemerk is. Dié wurm kom al vir jare sporadies in die Noord- en Suid-Amerikas voor en vreet hoofsaaklik mielies. Hulle kan egter ook koring, gars, sojabone, droëbone, graansorghum, sonneblom, grondbone, weidingsgewasse, gras en groente, soos die rissie-groepe en kool, aanval.
Larwes se kleur wissel van bruin, groen en pienk na amper swart en hulle neem twee tot drie weke om volgroeid te raak. Die motte is grys met onegalige merke op die voorvlerke.
‘n Mot as finale stadium van die kommandowurm
Foto: Wikipedia
Dan is daar ook die kleinkommandowurm of ertjiespinwurm, Spodoptera exigua, wat wêreldwyd voorkom. Hulle vreet meestal groente, maar ook grasperke en weidingsgewasse. Jong larwes is geel of liggroen en ontwikkel later ligte strepe, en ouer larwes verdonker. Die larwes is feitlik haarloos en die motte is bruin of grys met bruin of oranje merke op die voorvlerke.
Die vals kommandowurm, Leucania loreyi, het ‘n voorkeur vir mielies en rys, maar voed op ’n verskeidenheid gewasse soos koring, gars, suikerriet en graansorghum. Die larwes is pienk met ligte strepe en hulle het twee pare skynpote. Motte wissel van bleekbruin tot bleekgeel met ’n wit kolletjie in die middel van die voorvlerk en ’n sentrale, donkerder bruin streep oor die vlerk. |