Vir bykans 18 jaar reeds is Die Bronberger sonder uitsondering elke maand gratis en in gedrukte formaat aan ons gemeenskap gelewer. Vir die ondersteuning wat ons in dié tyd van ons lesers en adverteerders kon ervaar, is ons opreg dankbaar.
Die voortbestaan en groei van ‘n onafhanklike publikasie oor só ‘n lang tydperk, is byna ongehoord van en ons voel ons geseënd om dit alleen deur die aanvaarding en as deel van ‘n merkwaardige omgee-gemeenskap te kon vermag.
In dié ongewone en ongekende omstandighede waarin ons, ons almal tans bevind, is dit ons vaste voorneme dat die Bronnie deur volharding en geloof en deur die volgehoue ondersteuning van die gemeenskap wat ons dien, stewig sal bly staan.
Nuwe en vreemde omstandighede bring daarmee saam nuwe, opwindende uitdagings en nuwe innoverende denke en doene. Hierdie is die eerste uitgawe van die Bronnie wat suiwer elektronies aan sy lesers gelewer word. Weens die inperking was dit nie moontlik om dié herfsuitgawe te druk en te versprei nie.
Maar dié inperking beteken geensins ‘beperking’ in soverre dit blootstelling aan adverteerders en beskikbaarheid aan ons lesers aangaan nie. Trouens, die Bronnie het hom só tuisgemaak aanlyn dat dié elektroniese tydskrif bes moontlik meer en ook beslis nuwe lesers in die gemeenskap en wyer sal kan bereik.
Die formaat waarin die ‘elektroniese’ Bronnie beskikbaar gestel word, is baie verbruikersvriendelik. Die tydskrif se redaksionele inhoud en advertensies kan maklik op jou rekenaar en selfs deur WhatsApp op jou selfoon deurgeblaai en volledig en gerieflik gelees word.
Ons het reeds ‘n omvattende databasis van aanhangers en adverteerders wat die elektroniese Bronnie gaan ontvang en dit met ander kan deel. Stuur jou versoek na
This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it
om die volledige tydskrif per e-pos op jou rekenaar te ontvang of stuur ‘n WhatsApp na 083-959-1016 met die woord ‘Bronnie’ en jou naam daarby en jou Bronnie is binne ‘n japtrap op jou selfoon.
Hoe doeltreffend dit ook mag wees, is hierdie net ‘n tydelike maatreël om die momentum en gewildheid wat Die Bronberger oor die afgelope 18 jaar opgebou het, te behou. Sodra dit moontlik raak, beplan ons om terug te keer na die gedrukte glanstydskrif, maar steeds ook met elektroniese sigbaarheid op ons webtuiste
|