Raaisel van konsistorie, kerkskool en kweekskool ontrafel Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 25 March 2020 07:00
Untitled Document

Angie Kleijn

Vreemde dinge is vertel deur mense wat destyds in die gebou op die kruising van Schoeman- en Van der Waltstraat in Pretoria se middestad gewerk het. Hulle het probeer uitvind of daar dalk eens ‘n lykshuis was en of soldate daar gemartel is, want daar het aardige dinge in dié gebou se kelder gebeur. Die gebou dra ‘n gedenkplaat wat sê ‘Prospect Seminary April 17 1878’.

Op die spoor van die storie agter dié gedenkplaat het ons afgekom op die hartseer verhaal van twee Amerikaanse onderwyseresse, wat in 1877 na Pretoria gereis het. Hulle verhaal het gelei na ‘n foto van ‘n Sondagskoolpiekniek wat in die 1880’s op ‘n plek genaamd Kilnerton geneem is. En so kon ons die verbintenis tussen ‘n destydse kerkskool, ‘n kweekskool en die hedendaagse voorstad Kilnerpark ontrafel.

Die storie begin toe dominee Hermanus Stephanus Bosman (1848–1933) met die steun en goedkeuring van die algemene kerkvergadering van die Nederduits Hervormde Kerk in 1877 ‘n meisieskool in Pretoria met Engels as voertaal gestig het.


Dominee Hermanus Stephanus Bosman
Bron: Wikipedia

Amerika
Hy wou dié skool volgens die voorbeeld van dominee Andrew Murray se ‘Huguenot Seminary’ in die Kaapkolonie op die been bring en het die twee onderwyseresse uit Amerika laat invoer om daar skool te gee.

Martha Ruggles en Susan Miller Clary was van die ‘Mount Holyoke Seminary’ in South Hadley, Massachusetts. Hulle het in Augustus 1877 van New York na Engeland gereis en het in September eers in Kaapstad geland van waar hulle na Durban vertrek het. Daar het die lang reis per poskoets na Pretoria begin.

Met hulle aankoms in Pretoria in November 1877 was daar nog glad nie eers met bouwerk aan die skool begin nie, en die eerste klasse is in die konsistoriekamer van die grasdakkerk op Kerkplein gehou.


Die ‘Prospect Seminary’-gebou in 1898 ná dit ‘Eben-Haezer School’ geword het
Bron: Rosa Swanepoel Ou Pretoria Nuusbrief, April 2003

Susan en Martha het saam met die Bosman-gesin in die pastorie gebly en hulle het besluit om die skool, wat ‘n halwe myl van die pastorie af gebou sou word, ‘Prospect Seminary’ te noem omdat die koppie agter die gebou as ‘Prospect Hill’ bekend gestaan het.

Susan se briewe aan familie oor dié gebeure en haar reisbeskrywing van die poskoetstog na Pretoria kan vandag nog gelees kan word. Die briewe gee geen aanduiding dat Susan dalk ‘n voorgevoel kon gehad het dat sy minder as ‘n jaar ná haar aankoms in Pretoria, dood sal wees nie. Sy is op 3 Augustus 1878 aan longontsteking oorlede. Haar kollega, Martha, is direk daarna terug na Amerika.

Min het Susan en Martha geweet dat een van die klein dogtertjies vir wie hulle vir so ‘n kort rukkie skoolgehou het, ‘n groot naam in Pretoria sou word en dat haar opgetekende herinnerings dié Amerikaanse onderwyseresse se nagedagtenis vandag nog lewendig hou. Maar kom ons kyk eers wat verder met die ‘Prospect Seminary’ se gebou gebeur het en of die spookstories daar, en nie met Susan se dood nie, kon ontstaan het.


Die kapel op die koppie in Weavindpark
Foto: Jacqueline Jordaan

Gebou
‘Prospect Seminary’ se hoeksteen is op 17 April 1878 deur Sir Theophilus Shepstone gelê, knap ‘n jaar nadat hy die Transvaal op 12 April 1877 geannekseer het en deel van die Britse ryk gemaak het.
Ná Susan se dood en toe Martha vort is, is Engelse onderwys vir ‘jonge juffrouwen’ in die gebou voortgesit, maar in November 1881 het dit ‘n gemengde kosskool geword met ruimte vir 300 seuns en dogters onder die naam ‘Eben-Haezer School’, met mnr RD Collins as hoof.

Later is Nederlands saam met Engels as voertaal gebruik en die skool het as Ebenhaezerskool bekend gestaan. In 1899 is die gebou as koshuis vir die aangrensende Staatsmodelskool gebruik en het as die Eerste Staatstehuis voor Jongens, bekend gestaan. Mnr Collins was nou die koshuisvader.


Die ou ‘Prospect Seminary’-gebou voor dit gesloop is
Bron: Rosa Swanepoel Ou Pretoria Nuusbrief, April 2003

Toe die Engelse Oorlog in 1899 uitbreek, is alle leerlinge huis toe gestuur en die gebou het ‘n Rooikruis Hospitaal, bekend as die Bourke Hospitaal, geword. Dit is vernoem na Eddie Bourke, sakeman en burgemeester van Pretoria van 1903 tot 1904, se broer, George, wat die hospitaal tot stand gebring het.

Die spookstories se ontstaan lê waarskynlik in sterftes in dié tyd. Mnr Collins en sy gesin het steeds in ‘n deel van die gebou gewoon en hy is as hospitaalbestuurder aangestel.

Die gebou is later, iewers ná 1950, gesloop om plek te maak vir ’n nuwe gebou om die bevolkingsregister te huisves.


‘Mount Holyoke Female Seminary’ in 1837
Bron: Wikipedia

Graf
Of dit spooksoldate was of die spook van oorlede onderwyseres, Susan, wat tot die sloping daar gedwaal het, weet niemand nie. Susan se stoflike oorskot rus in die ou kerkhof in Pretoria en daar is ’n monumentjie op haar graf. Op die monumentjie se voorkant staan:

“Sacred to the memory of Susan Miller Clary, born in Conway Mass, March, 5 1841. Blessed are the dead which die in the Lord; and their works do follow them.”

Op die agterkant staan: “A teacher for fourteen years in Mount Holyoake Seminary. She came to Pretoria in November 1877 to found a similar institution.”


Hilma De Zwaan
Foto: Pretoriana, April 1963

Die marmer grafsteen het al die pad van Concord, Massachusetts, Amerika gekom. So het Heloise Meintjes met grootoog-bewondering vir haar sussie Hilma vertel. Heloise Henrietta Maria Greenlees, neé Niemeyer en Hilma Wilhelmina de Zwaan was die dogters van Jacobus Johannes (Oom Koos) Meintjes, die eerste Registrateur van Aktes, en Susanna Elizabeth, ‘n nooi Van Rensburg.

Dié twee het later jare hulle herinneringe aan toeka se dorpie vir die Genootskap van Ou Pretoria neergepen. Hilma was die vrou van Willem de Zwaan, argitek van die Nederlandse Bank-gebou. Sy was een van die eerste vegters vir vroueregte, veral stemreg, in Pretoria. Heloise was aktief in verskeie burgerlike en liefdadigheidsinstansies en het ‘n raadslid en later adjunk-burgemeester van Pretoria geword.


Heloise Greenlees op 20-jarige ouderdom
Foto: Pretoriana, Augustus 1959

Onthou
Heloise (gebore op 3 Oktober 1870) was ouer as haar sussie Hilma (gebore op 25 Januarie 1876) en was aanvanklik by ‘Prospect Seminary’ op skool. Sy het haar onderwyseres, Susan, as ‘n lang, tengerige ouer vrou met blou oë beskryf. Die ander onderwyseres, Martha, was kleiner en het donkerder hare gehad. Altwee het Amerikaanse aksente gehad en het die meisies die Amerikaanse manier van spel geleer.

Ná dié twee onderwyseresse weg is, het Hilma en Heloise die ‘Wesleyan Methodist Day School’ in Andriesstraat bygewoon. Hier was nog ‘n Amerikaanse onderwysers, Catherine Rhodes Watt, ook van Mount Holyoake.


Catherine Watt, in die middel op ‘n stoel, het haar leerlinge op ‘n Sondagskoolpiekniek geneem na The Thorns, Kilnerton. Hilma De Zwaan is die klein dogtertjie derde aan Catherine se regterkant en die bietjie groter dogtertjie derde van die einde af in dieselfde ry (aan die linkerkant op die foto)
is Heloise Greenlees
Bron: Pretoriana, Desember 1953

Catherine Watt het haar leerlinge op ‘n Sondagskoolpiekniek geneem na ‘n plek genaamd The Thorns, Kilnerton en dit is die foto wat by dié piekniek geneem is wat die Wesleyaanse verbintenis toon met die Mootse voorstad, wat later Kilnerpark gedoop is.

Op die foto sit Catherine Watt in die middel op ‘n stoel. Die klein dogtertjie derde aan Catherine se regterkant is Hilma en die bietjie groter dogtertjie derde van die einde af in dieselfde ry (aan die linkerkant op die foto) is Heloise.

Catherine is later weg uit Pretoria om by Salt Lake City onderwys te gee, maar sy het in kontak gebly met van haar ou leerlinge.


Hilma en Heloise was die dogters van Jacobus Johannes (Oom Koos) Meintjes,
die eerste Registrateur van Aktes
Foto: Pretoriana, April 1963

Wesleyaans
Pretoriase Wesleyaanse Stadsending het ‘n geskiedenis wat na 1861 terug dateer. Hulle het onder die vlerk van die Bloemfontein-distrik se Metodiste Sendinggenootskap geval en die gemeente het in skoolgeboue byeen gekom. Hulle eerste kerk is rondom 1878, dieselfde tyd as die ‘Prospect Seminary’, op die hoek van Andries- en Kerkstraat gebou.

In 1880 het eerwaarde Owen Watkins ‘n proefmissie in die Pretoria-distrik begin. Dit was dieselfde jaar wat eerwaarde John Kilner, sekretaris van die Wesleyaanse Metodiste-sending, uit Engeland hier aangekom het vir ‘n jaarlange besoek. Eerwaarde Owen Watkins het hom in Natal vergesel en het hom saamgeneem na Pretoria, waar hulle in November 1880 die Transvaalse goewerneur, Sir Owen Lamjon, gaan sien het.

Die goewerneur het hulle grond in Pretoria belowe, maar net as dit vir opvoedkundige doeleindes gebruik sal word en as hulle ‘n normale onderwysersopleidingsentrum ook sal hê. Toe die tyd kom om te begin bou, het hulle egter besluit om nie op grond wat deur die goewerneur geskenk is te bou nie, maar op grond wat die Metodiste Kerk self gekoop het.


Die susters, Hilma De Zwaan en Heloise Greenlees, in 1956
Foto: Pretoriana, Augustus 1959

Plaas
Teen 1885 het die behoefte vir ‘n opleidingsentrum wat swart predikante sal oplei, al hoe groter geword. Eerwaarde Owen Watkins en sy kollega, George Weavind, wat in 1873 in Pretoria aangekom het, was op soek na ‘n plek om so ‘n sentrum te bou en hulle het gehoor dat ‘n deel van die plaas Koedoespoort, omtrent 6 000 akkers groot, te koop was.

Die oorspronklike prys was omtrent 4 000 pond, wat later afgekom het na 1 500 pond. Eerwaarde Kilner het ingestem en die kerk het die grond gekoop om ‘n kweekskool te bou. Daar was ook ‘n versoek van plaaslike hoofmanne dat die Metodiste Kerk grond voorsien waar hulle stamme kon bly en toe die Kilnerton Opleidingsentrum gebou is, het dié mense langsaan gaan bly in ‘n plek wat hulle ‘Kilnerton Village’ genoem het.


Die hedendaagse Kilnerton-konferensiesentrum
Foto: Colleen McCoy

Die Kilnerton Opleidingsentrum, vernoem na John Kilner, is in 1886 gebou in dit wat later die voorstad Weavindpark, vernoem na eerwaarde George Weavind, geword het. Die doel van die instelling was eerstens as kweekskool vir swart predikante, maar het ook gedien as laer- en hoërskool vir kinders in die plaaslike gemeenskap. Later was daar ook ‘n kliniek.

Die sentrum het met die Engelse oorlog van 1899 tot 1902 toegemaak, maar teen 1903 was daar ‘n groeiende aantal leerders. In 1922 het prinses Alice met haar besoek uit Engeland die meisieskoshuis en die nuwe huishoudkunde-skool geopen.


Die konferensiesentrum gebruik die koshuise van die ou hoërskool van Kilnerton Opleidingsentrum
Foto: Tati

Die kapel, wat bo-op die koppie in Weavindpark gebou is, is in 1929 ingeseën vir die gebruik van Kilnerton-leerlinge, personeel en die omliggende gemeenskap. Die hoërskool is in 1940 gebou en is as deel van die John Wesley Kollege-geboue gebruik.

In 1953 het die regering alle kerkskole oorgeneem en in 1962 het die regering Kilnerton toegemaak en die inwoners van Kilnerton Village is in terme van die groepsgebiedewet van 1955 hervestig.


Die gedenkmuur in Kilnerton Gedenkpark
Foto: CoT

Vandag
Kilnerton Opleidingsentrum het in 1994 weer oopgemaak as ‘n John Wesley Kollege om predikante op te lei. ‘The Education for Mission and Ministry Unit’ (EMMU) is in dié sentrum gevestig. Die ou hoërskoolgebou word gebruik as konferensiesentrum, waar kursusgangers kan oorslaap.

Die ou kapelletjie staan steeds op die koppie en word vir allerhande doeleindes verhuur.

Die Kilnerton Gedenkpark is op erf 248 Kilnerpark op die hoek van Bellis- en Raynerstraat langs die Hartebeesspruit. Daar is ook ‘n gedenkmuur met die name van 60 grondeisers wat vroeër daar geboer het.

Die gedenkpark is op 27 September 2015 deur Gugile Nkwinti, minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, en die waarnemende uitvoerende burgemeester, Terence Mashego, onthul.


Kilnerton Gedenkpark op die hoek van Bellis- en Raynerstraat, erf 248, Kilnerpark
Foto: Google Maps

 

© 2024 Die/The Bronberger