Luiperd wat wild in die Bronberg oes, voor kamera gevang Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 25 March 2020 06:59
Untitled Document

Waarnemingskameras se nagfoto’s wys dat luiperds nog die Bronberg as jagveld benut. Dié kameras is in plek gesit deur André en Engela Hennop van Kiepersolkamp, Zwavelpoort omdat daar van hulle wild begin ‘verdwyn’ het.

Engela vertel dat sy verlede jaar September, net ná die vreeslike vure in die gebied, foto’s van vreemde spore begin neem het. Sy het dié spore in boeke opgekyk en besluit dit lyk na luiperdspore, maar almal het vir haar gesê sy is laf. Dit kan nie wees nie.

Intussen het die Hennops opgemerk dat ses blesbokke, drie blouwildebeeskalfies en ‘n koedoekoei weg is. Engela sê met dié hoeveelheid wild wat verdwyn vermoed hulle dat daar nie net ‘n enkele luiperd in die berg bedrywig is nie, maar dat daar dalk ‘n wyfie met welpies iewers woon.

In Februarie het twee van die blouwildebeeste in Kiepersolkamp baklei en die een se nek is gebreek. Die Hennops het besluit om twee waarnemingskameras by die karkas op te stel en tot hulle verbasing het hulle ná elke nag ‘n luiperd op die beeldmateriaal gesien. Hulle het vir Die Bronberger foto’s gestuur wat ‘n luiperd op 23, 25 en 26 Februarie en dan weer op 2 en 6 Maart wys.


Kiepersolkamp se luiperd op 26 Februarie

Kiepersolkamp loop bo-oor die Bronberg en is langs die Colyns se grond langs Lynnwoodweg-verlenging. Piet Colyn se familie het die oorspronklike plaas Zwavelpoort besit en hy het vir die Hennops gesê hulle moet ‘n bietjie kyk na grotte in die berg. Dit is waarskynlik waar die luiperd woon.

Engela sê dat die Endangered Wildlife Trust op 7 Maart by hulle was en dat die bal aan die rol gesit word om die luiperd te vang. Sy sê dat die groot probleem is om permitte te kry vir die vang, vervoer en om die luiperd dan weer iewers anders vry te laat. “Dit vat tyd en intussen vreet hy te lekker,” sê sy.

Of die luiperd op die beeldmateriaal net in Kiepersolkamp vreet, weet niemand nie. Onlangs het die mense van Nkwe-woonwapark en -piekniekoord op Tierpoort Die Bronberger laat weet dat hulle weer ‘n luiperd daar gesien het.


Mooiplaats se luiperd bo in ‘n bloekomboom op 14 Oktober 2010
Foto: Ada Raubenheimer

Bapsfontein
Op 25 September 2017 het dr Pieter Engelbrecht, ‘n veearts van die Bapsfontein Dierehospitaal en ster van die televisiereeks ‘Dieredokter’, ‘n luiperd agterna gesit en verdoof.

Die vang-drama het amper op ‘n tragedie uitgeloop toe die luiperd dr Pieter stormgeloop het. Die drama het die oggend begin toe ‘n vrou van die Elandsfontein-kleinhoewes gebel het om te sê daar is ‘n luiperd in haar tuin. Later was daar nog ‘n oproep van Derrick Dercksen van ‘n kleinhoewe op die Bapsfontein / Bronkhorstspruitpad (R25) nader aan Kemptonpark. Hy het gesien hoe die luiperd oor die pad voor sy plot loop en toe in ‘n boom klim.

Dr Pieter het vir Derrick gesê hy is op pad en het hom gevra om die luiperd dop te hou. Die luiperd is uiteindelik tussen buitegeboue langs die Kaalfontein-pad 7 km buite Bapsfontein deur ‘n boer se honde vasgekeer.

Dr Pieter moes dit te voet nader waag omdat hy die verdowingspyl nie op ‘n afstand deur die heining kon skiet nie. Die heining was egter lendelam en toe die pyl die luiperd tref het hy met ‘n geweldige spoed op dr Pieter afgestorm. Gelukkig het die heining hom gekeer.
Die luiperd het daardie nag in ‘n dieretuin deurgebring, waarna hy ‘n halsband gekry het en na die Dinokeng-natuurreservaat vervoer is.


Dr Pieter Engelbrecht by die Bapsfontein-luiperd op 25 September 2017
Foto: Bapsfontein Dierehospitaal

Mooiplaats
In November 2010 het ons berig dat ‘n luiperd op 14 Oktober gevang is nadat hy vier ure lank in ’n bloekomboom op Anton Bester se Mooiplaats-plot tussen Korhaanstraat en die Pienaarsrivier, gesit het.

Anton se werker, Simon Mamogobo, het die luiperd gewaar. Hencke Marais van Tshwane Natuurbewaring se hulp is ingeroep en hy en ’n veearts van die Pretoriase Dieretuin het ’n gesamentlike strategie uitgewerk om die luiperd te verdoof. Die effek van die verdowing kon veroorsaak dat die luiperd uit die boom val en homself beseer, of selfs doodval.

Die wind het redelik sterk gewaai en dit het gelyk asof die eerste twee probeerslae om die luiperd te pyl, nie suksesvol was nie. Die plan was om die luiperd rustig te laat afklim terwyl die verdowingsmiddel begin werk. Luiperd se kind het egter ander planne gehad.

Toe die derde verdowingspyl hom tref het hy soos blits teen die boom afgehardloop en ooswaarts in die rigting van die Pienaarsrivier koers gekies. Die luiperd is dwarsdeur die elektriese omheining wat die binnekampe op die Besters se kleinhoewe van mekaar skei, en af tot by die rivier waar hy al langs die geëlektrifiseerde grensdraad beweeg het tot hy inmekaar gesak het.

Die luiperd is Ingwe gedoop en moes eers ’n tandoperasie by Onderstepoort ondergaan voor hy in die Dinokeng-natuurreservaat vrygelaat is.


Die luiperd kyk op 2 Maart vir die waarnemingskamera

Zwavelpoort
Denyse en Liana van Hoepen van Zwavelpoort het vertel dat Ingwe waarskynlik dieselfde luiperd is wat vroeër in 2010 naby hulle doenig was. In Die Bronberger se Januarie 2010 uitgawe het ons berig dat ’n luiperd hom in die Bronberg tuisgemaak het en reeds minstens een troetelhond verslind het.

Die luiperd het ’n Jack Russel van Danie van Hengel van Zwavelpoort gevang en verslind. Danie en sy gesin was met vakansie en buurvrou Denyse en haar dogter Liana het gaan ondersoek instel.

Hulle het groot voetspore oral in die omgewing gekry en het nog spore op verskillende plekke in die berg agter hulle huis opgespoor. Denyse en Liana het ook op ’n boom afgekom wat duidelike krapmerke teen die stam en baie spore onder die boom getoon het.


Die luiperd in die vroeë oggendure van 6 Maart

Tierpoort
Dit is nie duidelik of dit dieselfde luiperd is wat in 2009 in Tierpoort gesien is nie. In Die Bronberger se September 2009 uitgawe, het ons berig dat Richard Wade, argeoloog-sterrekundige van die Nkwe-rif Sterrewag een aand, toe hy om die draai by die Nkwe uitdraaipad kom, amper in die luiperd vasgery het.

Hy het gesê dat die luiperd, wat glo veral graag honde vang, in uitgrawings op ‘n Tierpoort-plot gewoon het.

 

© 2020 Die/The Bronberger