Wat is die kanse? Print E-mail
News - Kommentaar
Wednesday, 25 March 2020 06:56
Untitled Document

Hoe bepaal ‘n mens die mate van sukses van ‘n publikasie wat in ‘n bepaalde gebied uitgegee word en op die gemeenskap van dié betrokke gebied gemik is? Wel, een waterdigte maatstaf is die meelewing, positiewe terugvoer en wenke wat uit die gemeenskap deur dié publikasie ervaar en in hierdie geval geweldig waardeer word.

Van meet af aan, nou bykans al 18 jaar gelede, was ons by die Bronnie oorweldig deur briewe, oproepe en persoonlike kontak van ons lesers. Oorweldigend was dit, want ons was van die begin jare af nie aldag seker wat dit is wat ons reg doen nie om dié seëning van ons lesers se verwelkomende aanvaarding en meelewing te kon ervaar en tot vandag toe nog ervaar.

As dié stukkie kommentaar dalk klink soos ‘n geval van jakkals wat sy eie stert wil prys, is dit geensins die bedoeling nie. Dit mog straks eerder ‘n geval wees van jakkals wat sy merkwaardige lesers se ‘sterte’ met dankbaarheid prys.

Wat sou die kanse wees dat ‘n enkele lesersbrief tot die opsporing van verlore geskiedenis-skatte kan lei? Nogal heel goed as dié brief van ‘n geesdriftige leser in Die Bronberger geplaas is:

In ons Februarie-uitgawe skryf ‘n gewese burgemeester van Pretoria, dr Ernie Jacobson, dat ‘n kosbare galery met foto’s van die stad se burgemeesters wat tot 1903 terugdateer, verlore geraak het ná die verwoestende brand in 1996 by Munitoria. Hy wou weet of een van ons ‘navorsers’ kan begin met artikels om dié verlore geskiedenis aan te vul.

In dié uitgawe is ‘n brief van nog ‘n bewaringsbewuste en getroue leser, Anton Jansen, waarin hy vertel hoe ‘n ‘nuuskierige’ belangstellende ná die brand ‘n oog gegooi het oor die laaste bakkievrag rommel wat uit verbrande puinhope van Munitoria weggery sou word.

Hy het die foto’s van die burgemeesters gesien en die bestuurder van die bakkie gevra hoeveel die ou foto’s sou kos. Nee wat, het die bakkiebestuurder gesê. Die goed is in alle geval op pad rommelhoop toe. En so het dit gebeur dat die kosbare skat met skilderye en foto’s wat strek van 1879 tot 1969 nou in veilige bewaring is.

Net een van baie gevalle wat die inslag van die meelewing van die Bronnie se lesers, sedert sy geboorte in 2002, uitbeeld. Dankbaar is ons.

 

© 2020 Die/The Bronberger