Ek onthou die outyd PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 18 August 2009 01:18
Untitled Document

R van Niekerk van Wapadrand skryf:
Ek wil praat oor 87 jaar gelede toe ek gebore is op die oewer van die Magaliesrivier wat die boloop van die Hartbeespoortdam vorm. In 1895 is ’n aanvang geneem met die konstruksie van die dam op die plaas van Generaal Hendrik Schoeman. Die werk is onderbreek deur die Anglo-Boere-oorlog, Uniewording, die eerste wêreldoorlog en die Rebellie.

In 1923 was die land besig om oral te ontwikkel en het ’n jong ingenieur met erns aan die wal se beplanning begin werk. In 1925, pas na my derde verjaardag, is die wal voltooi. Die damwal is die enigste voorbeeld in Suid-Afrika van ’n klassiek Romeinse triomfboog en, verneem ek, is vandag die tweede meesbesoekte plek in ons land.

Daardie dae selfs, het mense per trein oor naweke die dam besoek om vis te vang en te kamp en uit die stadsgewoel te kom. Eintlik was Pretoria toe maar ’n ou dorpie, skaars 70 jaar gelede gestig en 15 jaar voor dit ‘ontdek’ is deur jagters en avonturiers wat betower was deur die waterryke vallei wat uitgeloop het in die Moot.

Ek het op ’n plaas grootgeword. Daar was hard gewerk – mense het vroeg smôrens begin en saans sononder geloop na hulle huise. Die salaris van plaaswerkers was gering, maar daarmee het mense reggekom.

Ons was nie welaf nie, maar my ouers het gereeld klere aan die werkers gegee en hulle het mieliemeel en saameet uit die huis ontvang. Reisigers kon maar aanklop vir iets te ete of te drinke. Daar was geen sprake van inbrake en geweld nie en saans kon ’n mens na jou bure toe stap, sonder om deure toe te sluit. Dit is soms verstommend as ek besef dat my geslag die laaste is wat nog van dierekrag gebruik gemaak het. Die ou perde- of muilkar moes maar ingespan word. Baie donkiekarre was in my jongdae te sien.

Baie waens bekend by die mense as ‘vetwaentjies’ het ek by die plaas sien verbygaan met mense wat op soek is na werk en ’n heenkome op die Rand. Die waens is getrek deur osse.

Binne die vettent het die families hulself tuisgemaak op klapperhaar matrasse. Onder die wa het die driepootpotjie gehang, en ’n hoenderhok met ’n paar hoenders. So het die arme mense getrek om iets beter te kry.

Dit het soms swaar gegaan op die platteland. Droogtes, sprinkane en peste het mense verdryf van die grond na die stad. Hulle het partykeer ’n paar dae op een plek gestaan, seker om die osse te laat rus en vreet. My ouers het altyd vir hulle melk gestuur.

Die stoomtrein het uiteindelik die trekdiere begin vervang en die roete tussen Pretoria en Skeerpoort was gedurig onderbreek deur haltes.

Dis met dié trein wat ek en my gesin gereeld tussen die plaas en Pretoria gery het. In Kerkstraat was ek altyd betower deur die enorme skoen wat voor Edworks gepryk het en die stad was altyd so skoon.

Mediese dokters het ’n mens by jou huis kom besoek en wanneer die dominee opdaag, is sy kar gelaai met groente, vrugte en vleis. Dominees het nie veel geld gekry nie en het ook maar staat gemaak op die gawes van die gemeente om liggaam en siel aanmekaar te hou. Ons moes ons tafels soos ’n rympie leer en het ure aaneen tafels opgesê.

Vandag is ek baie bly daaroor want selfs na baie jare kan niemand my vasvra nie en gebruik ek tafels nog bykans elke dag van my lewe. Die skool was baie ver en die skoolwa is deur donkies getrek. Ons was baie dae genoop om skool toe te stap, want dan was die donkies weg. Party keer het ons papnat gereën, want daar was nie skuiling nie en geen kap oor die donkiekar nie.

Elke ouer, wat die vermoë gehad het, moes ’n donkie koop vir so om en by sewe en ses pennies. Die kinders wie se ouers behoeftig was, het maar saam gery of ’n ander ouer het die geld betaal. Die skoolwa se drywer was ’n kind wat gesukkel het om te verstaan. Al het hy my soms ’n bietjie bang gemaak, was hy maar een van ons. Ons was almal maats, ryk of arm – dit het nie saak gemaak nie.

Brief verkort - Red

 

 

© 2019 Die/The Bronberger