Op een van sy gereelde wandelings in die veld het Eus de Clerk op vreemde gate in die grond vlak by Cullinan afgekom. Eus het kwaai kopgekrap oor watter dier dié gate as woonplek grou en het ’n foto daarvan op die Bronnie se Facebook-blad geplaas.
Hy het gevra of iemand dalk weet wat in dié gate woon en die antwoorde en bespiegelinge het ingestroom.
Een leser het gemeen dit is meerkaaie en ander was oortuig dis eerder gestreepte muishonde. Iemand het gewonder of dit nie slange was nie terwyl ’n ander gesê het sy is byna seker dis ’n miervreter se gat.
Een van die geheimsinnige gate in die veld wat menige ‘kenner’ aan die bespiegel gehad het
Een wysneus het voorgestel dat water in die gat gegooi moet word om te kyk wat daar uitspring. Uiteindelik is konsensus min-of-meer bereik dat ystervarke vir die gate verantwoordelik is en iemand het dit selfs gestaaf met ’n skakel na Wikipedia.
Enkele dae later het Eus weer in die einste veld gaan stap en onder die opskrif ‘Deurbraak’ het hy nog ’n foto met die volgende verduideliking daarby geplaas:
“Die geheimsinnige gate wat die hele gemeenskap aan die raai gehad het, kan na deeglike navorsing uiteindelik verklaar word! Volgens prof Pedanius Dioscorides is dit die nes van ’n populêre spesie, Gatevirrie Paalii vanniHeiningia.”
Enkele dae later is vasgestel watter gedierte vir die vreemde gate verantwoordelik was
“Op die tweede foto kan een van die Paalii, wat pas uitgebroei het, gesien word. Hier, in die Rynbou Nyshin, word die Heiningia gewoonlik gekruis met Devilsforkii en Lemmetjiesdraadia. Dit word dan, onder andere, rondom woonhuise aangeplant.”
“Nie dat dit enigsins help nie, maar dit gee darem aan huisbewoners ’n gevoel van beskerming teen een van ons grootste indringerplante, die Krimineelea Elementii.”
|