Vlerkie Tarentaal word ‘n ma PDF Print E-mail
News - Artikels
Wednesday, 25 March 2020 06:46
Untitled Document

Esmé Meyer

’n Mens leef mos intens saam met jou geliefde, uitgebreide families ook. Vlerkie Tarentaal is meer as drie jaar gelede êrens deur ’n hond gebyt. Lelik gebyt. Linkervlerk hang en sleep, wonde oor die rug, kruppel. Te wild om te vang, mak genoeg om gou te besef ek gee om.

Die ander tarentale jaag haar weg, want ongeluksvoël kan roofdiere na die groep toe lok. Sy draf later haar flapvlerkie-skommeldraffie na my toe as sy my sien, en ek gee haar eenkant die beste kossies. Vyf keer op ’n dag.


Vlerkie en haar nuwe troppie
Foto’s: Esme Meyer

Enige poging om haar te probeer vang sou net groter beserings gebring het. Maar so het die vlerkbeen pynlik en stadig vasgegroei en sowaar, na die uitgestotenheid het sy nou vir meer as twee jaar ’n maat wat saam met haar loop. ’n Mens se hart voel skoon ligter van die dankbaarheid.

Almal broei, elke jaar, maar Vlerkie en haar maat loop maar en skrop en hou afstand. As ek haar roep, kom sy aangedraf, want sy ken haar naam. En toe, ’n paar weke gelede, raak dit ’n sekerheid – Vlerkie broei!


Die drie kuikens waarmee Vlerkie daar aangekom het

Hoe sy die eiers daardie kant teen nat en koud en hael kon beskerm weet geen mens nie, maar sy broei haar broei êrens op ’n geheime nes, en sy kom vra elke tweede dag paniekerig-haastig kos. Vlerkie kan tot in die hoogste boom vlieg, maar sy vat dit gewoonlik so stuk vir stuk, van tak tot dak tot tak.

So het Vlerkie en slegs drie kuikentjies later te voorskyn gekom. Of die bakstaan-vlerkie nie snags kon warm hou nie (hulle rol boonop die eiers rond) en of die muishonde reeds skade gemaak het, weet ’n mens nie.


Later was daar net een kuiken oor

Met dié drie ervaar Vlerkie uiteindelik vir die eerste keer in haar lewe moederskap en word deur haar mannetjie en ’n vroedvrou ondersteun. Haar eie troppie. Vlerkie weet van haar skewe lyfie en bak vlerkie niks, want sy bars van liefde en trots. Vir die eerste keer in haar lewe.

Later was daar net een kuiken oor; drie weke oud geword en ’n paar dae later . . . geen. Maar dit is te hartseer om te deel.


Vlerkie se skaduwee wys die bakstaan-vlerkie

 

© 2019 Die/The Bronberger