Sertifikaat nou nodig om eiendom te verkoop Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 25 March 2020 06:41
Untitled Document

Min grondeienaars weet dat nuwe wetgewing oor die koop en verkoop van eiendom in Oktober in werking gaan tree. ‘n Eiendomstransaksie kan voortaan nie afgehandel word voor die Nasionale Aktekantoor nie ‘n Spluma-sertifikaat van die plaaslike munisipaliteit ontvang het nie.

Spluma is die Engelse afkorting vir die Ruimtelike Beplanning en Grondgebruiksbestuurswet, Wet 16 van 2013. Dié nasionale wet is in 2013 deur die Parlement aangeneem en gee die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming die mag om regulasies daar te stel oor hoe om die wet in werking te stel.

Die finale weergawe van dié regulasies is op 23 Maart 2015 gepubliseer en het op 1 Julie 2015 in werking getree terwyl daar vir ‘n aanvangsdatum gewag is. Dié datum is later amptelik as Oktober 2020 afgekondig.

Om ‘n Spluma-sertifikaat van ‘n plaaslike munisipaliteit te verkry, moet ‘n verkoper ‘n hele aantal dokumente in plek hê. Die eerste daarvan is ‘n beëdigde verklaring, geteken deur die verkoper, wat by die munisipaliteit ingedien word met ‘n aansoek waarin die eienaar stel dat planne met betrekking tot die eiendom in orde is, akkuraat is en by die plaaslike munisipaliteit ingedien is.


Nuwe wetgewing vereis bouplanne voor eiendom verkoop kan word
Foto: wiseGeek

Alle plaaslike en algemene belastings met betrekking tot die eiendom moet op datum wees.

Bouplanne vir alle geboue, insluitende swembaddens en lapas, moet goedgekeur en ingedien word. As dié planne nie voldoende is nie, moet die verkoper ‘n argitek of tekenaar aanstel om die planne vir indiening voor te berei.

Die gebruik van die eiendom moet in ooreenstemming met munisipale sonering wees. Daar moet geen oorskrydings oor die boulyne of eiendomsgrense wees nie.

Volgens die kenners moet die aansoekproses vir ‘n Spluma-sertifikaat begin sodra ‘n eiendom by ‘n agentskap gelys word, omdat dit ‘n lang proses is wat tot drie maande kan neem.

 

© 2020 Die/The Bronberger