Wolwe in skaapsklere kaap voort PDF Print E-mail
News - Aktueel
Wednesday, 25 March 2020 06:35
Untitled Document

Nog twee ‘bloulig-kapings’ is op 20 Februarie tussen 7 nm en 9 nm op die N4-Oos snelweg gepleeg. Volgens die Bronkhorstspruitse Polisie was die kapings tussen Bronkhorstspruit en die Balmoral-afrit.

In November verlede jaar het ons berig dat daar drie identiese ‘bloulig-kapings’ op een aand op die N4-oos snelweg naby Bronkhorstspruit was. Die voertuie is van die pad afgetrek deur ‘n voertuig met flitsende blou ligte, soos ‘n polisiemotor, met vier gewapende insittendes. Een van hulle het die uniform van ‘n metro-verkeersbeampte aangehad.

Met die kapings op 20 Februarie het 10 tot 12 verdagtes polisie-uniforms aangehad of glimbaadjies en flitse, tipies van verkeersbeamptes. ‘n Wit Mercedes GA en swart Mercedes GL is gebruik. Geen SAPD-eenheid gebruik sulke voertuie nie.

Die verdagtes was gewapen en die slagoffers is almal op dieselfde plek gelos ná hulle besittings en voertuie gesteel is. In vorige gevalle is dieselfde modus operandi gevolg.

Die Bronkhorstspruitse polisie het gesê dat mense nie moet stilhou as ‘bloulig’ voertuie hulle van die pad af probeer dwing nie. Hulle stel voor dat mense ná donker in konvooie ry omdat enkele voertuie maklike teikens maak.

Die SAPD het ‘n spesiale taakspan ontplooi om die verdagtes vas te trek. Volgens brigadier Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder vir Mpumalanga, het die polisie van Gauteng en Mpumalanga saamgewerk en verdagtes in ‘n VW Polo vanaf Gauteng agtervolg. Die voertuig met drie insittendes het by die beskrywing gepas van ‘n voertuig waarvoor die polisie op die uitkyk was.

Ná ‘n jaagtog is die verdagtes uiteindelik by Witbank (Emalahleni) voorgekeer en die polisie het polisiekaarte en selfone, wat glo aan slagoffers behoort het, in die verdagtes se besit gevind. Hulle is in hegtenis geneem.

Brigadier Hlathi het gesê dat dié nie die enigste verdagtes in bloulig-kapings in die gebied is nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger