Duif uit kaggel gered PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 18 August 2009 01:14
Untitled Document

Ena Haarhoff van Wapadrand landgoed skryf:
Ons was onlangs met vakansie en met ons terugkoms by die huis in Wapadrand het ons opgemerk dat daar baie stof, vere en stukkies sement voor die kaggel lê. Ek was nogal verontwaardig omdat ek die kaggel mooi skoongemaak het vir die naderende winter. ’n Gefladder in die skoorsteen het my laat besef wat gebeur het – ’n voël moes in die skoorsteen beland het.

Ons was moeg na ’n hele dag se reis en dit was alreeds 4 nm. Ek het eers Jetmaster gebel wat die kaggel geïnstalleer het en hulle het my gesê dat die kaggel ’n eenheid is en dat ons die hele kaggel sou moes uitkap om die voël uit te kry. Dit was glad nie ’n opsie nie.

Ek het toe die DBV gebel en om hulp gevra. Die dame wat die telefoon geantwoord het was baie vriendelik en het gesê dat sy dadelik die inspekteur aan diens sou kontak en dat hy my sou terug skakel.

Hy het baie gou gereageer en kort daarna opgedaag gewapen met ’n lang stok met ’n lus aan die voorpunt en ’n flits. Hy het ons vermoede bevestig en gesê dat daar ’n duif net bokant die kaggel sit. Omdat die gaskaggel ’n geslote eenheid is, kon hy geen reddingswerk van onder af doen nie.


Insp. Jacques van der Merwe met die duif

Inspekteur Jacques van der Merwe het op die dak geklim om met sy reddingswerk te begin. Die skoorsteendakkie moes afgesaag word en my man moes inderhaas winkels toe voor toemaaktyd om ’n ystersaag te gaan koop.

Die gesaag het ’n lang tyd in beslag geneem en met die dakkie gelig kon Jacques begin om die duif te probeer vasvat met die lus aan die voorpunt van die stok. Hy het omtrent ’n halfuur gesukkel en het deurentyd saggies met die duif gepraat. Sy liefde vir diere het uit hom gestraal.

Groot was ons verligting toe die duif uitgelig word. Ons het die duif by water neergesit sodat hy sy dors kon les omdat ons nie geweet het hoe lank hy in die skoorsteen vasgevang was nie. Die duif kon op daardie stadium nie vlieg nie weens uitputting.

Nadat die duif lank net gesit het, het hy die trappies op gehop, nog ’n bietjie gesit en toe weggevlieg. Ons het die volgende dag gaan gaas koop om albei ons skoorstene se openinge mee te bedek sodat die voorval nie herhaal kon word nie.

Dié diens van die DBV is gratis en ’n mens behoort geld aan hierdie vereniging te skenk om hulle in staat te stel om hierdie baie belangrike liefdadigheidsdiens aan die publiek en diere te kan verrig.

 

© 2019 Die/The Bronberger