Die ‘skrik’ van skrikkeljaar loop al ‘n baie ver pad Print E-mail
News - Toeka se dae
Wednesday, 26 February 2020 10:22
Untitled Document

Hierdie jaar is ‘n skrikkeljaar en eeue-oue legendes lui dat skrikkeldag, 29 Februarie, juis dié dag is wanneer ‘n vrou vir ‘n man kan vra om te trou. Die dag het vroeër jare as ‘Damesdag’ of ‘Damesvoorreg’ bekend gestaan.

’n Skrikkeljaar is ’n jaar wat ’n ekstra dag bevat om die kalenderjaar met die astronomiese jaar te sinkroniseer. Maar moenie dink dat die berekening van skrikkeljare, met hulle 366 dae in plaas van 365, eenvoudig is nie. Meer daaroor later; vir nou is die fokus op die feit dat skrikkeljare al meer as
2 000 jaar oud is.


Julius Caesar het skrikkeljare ingestel
Foto: Wikipedia

Die Romeinse generaal, Julius Caesar, het die eerste skrikkeljaar in 45 VC ingestel. In daardie jare was skrikkeldag op 24 Februarie en Februarie was die laaste maand van die kalenderjaar. SARS moes seker iewers hiervan te hore gekom het, siende dat finansiële jare vandag nog teen die einde van Februarie afsluit.

Ierland
Baie mense wonder waar die skrikkeljaar-gebruike, -tradisies en –bygelowe vandaan kom. Volgens legende het Ierland se Heilige Brigid in die vyfde eeu by die Heilige Patrick gekla dat vrouens te lank moet wag voor mans hulle vra om te trou. Die Heilige Patrick het glo besluit dat vrouens voortaan op skrikkeldag vir mans kan vra om te trou – dit gebeur tog net so een keer elke vier jaar.


Daar was boetes vir mans wat ’n huweliksaanbod op skrikkeldag geweier het
Foto: popsugar

Nog ‘n storie skryf dié gebruik toe aan koningin Margaret van Skotland, wat glo in 1288 boetes opgelê het aan mans wat ‘n skrikkeldag-huweliksaanbod geweier het. Die geskiedenis wys egter dat koningin Margaret toe vyf jaar oud sou gewees het en in Noorweë gewoon het.

Die legendariese skrikkeldag-boetes strek vanaf ‘n soen tot ‘n tabberd van sy. In Denemarke lui ‘n jarelange tradisie dat ‘n man vir ‘n vrou 12 pare handskoene moet gee as hy ‘n huweliksaanbod op skrikkeldag van die hand wys. In Finland is die boete genoeg materiaal vir ‘n romp.


Die kaartjie lees: “Say the word, Leopold and make me the happiest girl in the world!”
Foto: cardcow

‘n Skrikkel-aanbod
Foto: chimatli
.

Volgens sekere bygelowe verander die weer altyd op ‘n Vrydag as dit ‘n skrikkeljaar is. Baie legendes lui dat mense wat op skrikkeldag gebore is (‘n skrikkelaar) baie geluk sal hê. Sekere kulture beskou dit as ‘n resep vir ongelukkigheid om in ‘n skrikkeljaar te trou. Mense onthou natuurlik dat Rome in ‘n skrikkeljaar afgebrand het (die jaar 64) en dat die Titanic in ‘n skrikkeljaar gesink het (1912).

Aarde
‘n Skrikkeljaar is nie noodwendig elke vierde jaar nie. Dit neem die aarde omtrent 365.242189 dae of 365 dae, vyf ure, 48 minute en 45 sekondes om een keer om die son te wentel. Dit word ‘n tropiese jaar genoem.


Die Heilige Patrick
Foto: patheos

Tog het die Gregoriaanse kalender slegs 365 dae ‘n jaar. As ‘n skrikkeldag nie bykans elke vier jaar op 29 Februarie bygevoeg word nie, sal ons omtrent ses ure elke jaar verloor. Ná 100 jaar sal ons kalender met 24 dae uit wees.

In die Gregoriaanse kalender moet drie dinge in ag geneem word om ‘n skrikkeljaar te identifiseer:
• Die jaar moet eweredig verdeel kan word deur vier;
• As die jaar eweredig verdeel kan word deur 100, is dit nie ‘n skrikkeljaar nie;
• Behalwe as die jaar ook eweredig verdeel kan word deur 400.


Ierland se Heilige Brigid
Foto: epicpew

Koningin Margaret van Skotland
Foto: traditionalcatholicpriest.com

Daarom was 1996 en 2000 skrikkeljare, terwyl 1800 en 1900 nie skrikkeljare was nie. Die jaar 2000 was uniek, omdat dit die eerste geval was waar die derde kriterium in die meeste dele van die wêreld in ag geneem is sedert die oorgang van die Juliaanse kalender na die Gregoriaanse kalender in 1582.

Die Juliaanse kalender het net een reël gehad: Elke jaar wat eweredig deur vier gedeel kon word, sal ‘n skrikkeljaar wees. Dié formule het veroorsaak dat daar heeltemal te veel skrikkeljare was en die antieke Romeinse kalender moes elke paar jaar ‘n ekstra maand, bekend as ‘n skrikkelmaand, byvoeg om seisoenale veranderings in ag te neem.

 

© 2020 Die/The Bronberger