Die hele voël Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Wednesday, 26 February 2020 10:18
Untitled Document

Die sogenaamde ‘sosiale media’ is nou nie eintlik ‘n gedoente waarmee hy hom sommer in ‘n wip sal laat vang nie, sê Gert Mossie. Nie oor hy enigsins asosiaal is nie. Soos almal wat hom ken sal weet, kan hy ‘n kuier-en-klets-sessie kwaai geniet, maar die doolhof van vuisboek en twatter en dié soort goed staan hom nie juis aan nie, sê Gert.

Tog moet hy toegee dat die hier-en-daar se pittighede, foute en sommige flaters hom soms ‘n mate van prettigheid verskaf.

Meer dikwels is dit die taalgoggas wat onder dié sosiale vlerk uitbroei, wat hom met ‘n wisselende mate van verstomming, afgryse en ‘n kopskuddende gegiggel laat en soms is dit bloot ‘n eerlike tikfoutjie of vingerfoutjie wat vir – kom ons noem dit maar ‘ligte vermaak’ – sorg.
Op al wat ‘n groep en ‘sosiale’ smouswinkel is, is al wat leef mos altyd ‘opsoek’ (amper nooit ‘op soek’ soos dit hoort nie) na enigiets wat denkbaar en ook ondenkbaar is, sê Gert Mossie.

Nou is dit ‘n ongelukkige feit dat die ‘k’ en die ‘l’ reg neffens mekaar op ‘n rekenaar se sleutelbord sit en so het dit dan gebeur dat ‘n stomme vrou ‘opsoek’ was na ‘n sekere item en dat ‘n vingerfout effense verwarring en iemand se antwoord op haar navraag lekker giggel-pret vir hom opgedis het. Dit het nagenoeg só verloop:

Vrou se navraag: “Weet iemand dalk waar ek ‘n nuwe ‘hol’ vir my ‘kokketiel’ kan koop?” Wysneus se antwoord: “Ek glo ongelukkig nie hulle verkoop die onderdele los nie. Jy sal seker maar die hele voël moet koop.”

Wat hom nou ver terug laat dink, sê Grootpiet-in-die-hoek. Lank voor rekenaars en vingerfoute vertel ou tant Jallie op ‘n dag ‘n storie vir die kuiermense op die opstalstoep oor hoe sy ‘n ongewenste smous behoorlik op sy plek gesit het.

Kom die knaende knaap mos op die plaas aan en hoe meer sy (eers mooi en later al hoe driftiger) verduidelik dat sy nie in sy wonderwerk-stofsuier belangstel nie, hoe meer dring die smous aan om ‘n demonstrasie te gee, sê Piet.

Later kan sy dit nie meer uitstaan nie, het tant Jallie glo vertel, en sy sê die mannetjie moet net ‘n oomblik wag, sy is nou terug. Sy verdwyn die huis binne en ‘n oogwink later is sy terug op die stoep met die dubbelloop-haelgeweer dreigend in die hand.

Opgewonde vertel tant Jallie hoe die mannetjie sy oë eers piering-groot rek, hy in sy spore omvlieg en die hasepad kies. “Loshande spring hy oor die tuinhekkie en hy “maak sy hol eintlik so rug” soos hy in ‘n stofstreep oop-en-toe die vlaktes inhol,” het tant Jallie vertel.

As die nood druk . . .

Met ‘n onlangse besoek aan ‘n nuwe biblioteek op sy dorp het hy vir ‘n oomblik gewonder of die spoggerige plek dan spesiale geriewe net vir Afrikaanssprekendes met ‘n groot nood ingerig het, sê Eus de Clerk

 

© 2020 Die/The Bronberger